Sê wat gesê moet word so lank jy nog kan

Deur prof. Kobus Kok

(Foto: Kobus Kok)

Dis ’n slot-op-slot-wêreld. Dis grendeltyd in koue Amsterdam. Maskers verberg monde en woorde.

Buite is dit donker en mense sluip soos skimme in die nag, skugter in hulle koes vir die ysreën. Donker jasse en stewels gly verby en ’n fiets skaats oor die nat pad. Niemand maak oogkontak nie. Ook ek het na ses jaar hier geleer om af te kyk, weg te kyk, en om te kyk. In Europa beteken vryheid dat jy almal se persoonlike ruimte respekteer. Daarom reik jy nie in die openbaar na vreemdes uit nie. Nie soos ons in Suid-Afrika waar ons vreemdes met ’n glimlag of gasvrye blik in die oog groet nie.

Op die pad terug na die gastehuis, vlak by die Vrije Universiteit, sien ek die liggies van die glasgeboue wat soos Van Gogh se skilderye in kringe op die gragte en waterplasse weerkaats. Weens die koronavirus moet alle winkels om vyfuur toemaak. Skielik is die strate stil, soos ’n wegraping op ’n kille Sondag. Dis koud en donker buite, maar my hart is lig en warm.

Sommige mense kom mos soos sonstrale oor jou pad. Woordkunstenaars met hul verfrissende vingerafdrukke, geëts op die siel se kartografie. Hulle woorde skep nuwe deure in die hart wat na nuwe wêrelde lei. Soms dink ek stuur die lewe sulke geskenke na ʼn mens – of gebruik die lewe jou as so ’n slotoopsluiter vir ander mense. Dan moet ʼn mens verby die maskers en skimjasse kyk en oop wees sodat die lewe met jou die geskenk kan deel, of bereid wees om aan die vloei gehoor te gee van dit wat ook deur jou na ander kan beweeg.

(Foto: Kobus Kok)

So gebeur dit dat ek vandag in die argief van die VU Amsterdam in ʼn spesiale navorsingskamer sit wat net twee navorsers per dag kan akkommodeer. Toe ek vanoggend hier ingestap het, het hy al daar gesit. ’n Ou, deftige man. Hy blaai deur ou koerantknipsels uit die vorige eeu. Ek groet: “Dag.” Ek maak die glasdeur saggies toe en neem my plek by die eiland vol argiefstukke aan die ander kant van die groot glasvertrek in wat Jasmijn Vervloet so vriendelik laat voorkom het. In die argiefruimte is daar oral om jou glasvensters. Dis hoe navorsing moet wees – glashelder en deursigtig.

Rondom middagete stap die oom na my toe en vra waaraan ek werk. Ek vertel hom. Hy gaan sit, ver anderkant die lang tafel, en kruis sy bene soos ’n ware heer. Aan sy ringvinger is ’n goeie seëlring soos dié wat die ou Nederlandse professors altyd dra; daai met die ovaalvorm en donker edelgesteente. En daar begin ons gesels. Hy vertel my van sy vriendskap met professor TT Cloete (ons groot Afrikaanse digter) en sy besoek aan Suid-Afrika. Ek besef hy moet iemand belangrik wees. Selfs toe hy sy naam gee, snap ek nie wie voor my sit nie. Ek besef egter dat hier voor my ’n groot gees sit.

Ek is te verleë om te sê dat ek nie weet wie hy is nie, of enige van sy boeke of gedigte gelees het nie. Soos ons gesels, kruis ons paaie tog op maniere wat nie een van ons vooraf sou kon dink nie. Hy ken selfs familie van my. “Kleine wêreld waarin we leven!” sê hy. “Maar nu moet ik even een boterham gaan kopen.” ’n Boterham is ’n toebroodjie. “En hopelijk tot weerziens,” groet hy vriendelik. In Nederlands beteken dit iets anders as by ons. Dit beteken dat ons mekaar regtig hopelik gou weer sien. In my hand is ’n briefie met sy e-posadres. Dr. Hans Werkman. In my in-mandjie kry ek later by die huis ’n e-pos van hom met ’n artikel oor ’n onderhoud met professor TT Cloete. En dis waar die slot wat hy in my hart oopgesluit het finaal as ’n les van Bo soos glashelder kristal oopbreek.

(Foto: Kobus Kok)

Werkman skryf pragtig, poëties oor sy ontmoeting met professor Cloete in Potchefstroom. In my gedagtes sien ek Cloete op sy stoel. Sy kop wat knik onder sy grys hare en langerige kuif en sy hande wat beduie terwyl hy so kenmerkend glimlag as hy sy stories vertel. Maar agter sy glimlag, as ʼn mens dieper kyk, sien jy ook sy skerpsinnigheid, sy seer, en die diep geheime wat hy saamgedra het. Later in sy lewe, skuins voor sy dood, vertel hy van sy liefde vir reis, sy verhouding met sy vrou Anna, en die manier waarop sy hom dikwels in sy gedigte anders help dink het. Soos met Kremetartboom en die ape wat daarin klouter, is haar invloed en spieël na hom dikwels te sien. “Sy het hom nooit in die steek gelaat nie,” sê hy. Selfs nadat hy weens polio mank gelaat is. En hy wens hy kon dit vir haar sê toe sy nog geleef het …

Aan die einde van sy roemryke lewe moes die groot digter bely dat selfs sy eie Anna nie die woorde “Jy het my nooit in die steek gelaat nie,” uit sy eie mond gehoor het nie. Die groot woordkunstenaar wat so met beeld en klank kon speel, gesange en psalms kon dig vir liedboeke van die kerk, en gedagtedeure vir mense kon oopsluit, was stil en op slot, by Anna. Minstens hieroor. En hy is spyt. Dit het my diep geraak en my laat besef dat, terwyl ons nog kan, ons die woorde wat saak maak aan ons hartsmense moet sê. Sterker as ʼn preek is die digter se rou belydenis. Genesend is dit vir die wat wil hoor.

  • Kobus Kok is professor in Nuwe Testamentiese Studies aan die Evangelische Theologische Faculteit Leuven in België en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

FM ·

Dankie vir hierdie kosbare plasing.

Ek het soveel waardering vir mense met die woorde gawe.

Diep sielsmense.

“verfrissende vingerafdrukke, geëts op die siel se kartografie”

Frank ·

Dankie!! Jy laat ons net weer besef watter skat het ons aan ons pragtige taal!

Mercia ·

Waarlik pragtig geskryf! Diep en eerlik. Dit bring die mens se behoefte aan konneksie met ander , asook die waarde van die vryheid om te kan praát, gesprekke te hê en met mekaar te deel , duidelik na die voorgrond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.