Sekularisme se nuwe manier van menswees: “maak plek vir LGBTQ+!”

Deur DC Coetsee

‘n ‘Pride’ optog in Rotterdam (Foto: ANP MAG/ ANP via AFP)

In my vorige artikel is aangetoon hoedat die Sekularisme die binêre aard van menswees (elke individu se geslag is met bevrugtingvasgelê in haar (XX)- of sy (XY)-chromosome en in die DNS van elke sel), een van die hoekstene van die Christelik-Westerse kultuur, wil vervang.

Met die LGBTQ+-kultuur word daarop aangedring dat “gender” (jou belewing en uitlewing van jou geslag) ʼn geregverdigde keuse van elke individu word, want elkeen het die reg op gender-euforie (gelukkigheid in die gender van jou keuse – selfs in konflik met jou geslag).

Waar LGBTQ+-individue in die Christelik-Westerse kultuur as “abnormaal” beskou en dus gemarginaliseer is (en soms liefdeloos en selfs gewelddadig behandel is) en hulle staat lydelik aanvaar het (“in die kas”), eis Sekularisme ʼn radikale omkering van hierdie siening, norme en gedrag: dit eis nie alleen dat plek gemaak word vir hierdie mense nie, maar die tradisionele kultuur moet ten gunste van hulle omgekeer word.

Hierdie verandering moet bewerkstellig word deur ʼn sistematiese omkering van kernsisteme waardeur mense tradisioneel toegerus is vir ʼn betekenisvolle deelname aan die Christelik-Westerse kultuur.

Kortliks word drie sisteme geteiken.

Taalgebruik moet verander

Tradisionele taalgebruik is geslagsgebaseer en is ontstellend, seermakend, skadelik en inherent diskriminerend teen LGBTQ+-mense. Terme soos “hy/ sy”, “hom/ haar”, “pa/ ma” moet uitgeskakel en vervang word met “neutrale” terme soos “ons/ hulle”, “julle” ensovoorts. “Ma/ moeder” word in Engels “primary lactator” en “breast feeding” word “chest feeding”, want hierdie terme is nie-diskriminerend vir gay-pare wat kinders aanneem.

In Brittanje is ʼn dokter van die mediese rol geskrap omdat hy geweier het om ʼn “bearded six foot tall man” aan te spreek as “madam”. In Kanada is die bekende professor, dr. Jordan Peterson, van die personeel van ʼn bekende universiteit en van lidmaatskap van die psigiatriese vereniging geskrap omdat hy (op wetenskaplike gronde) weier om hierdie nuwe terminologie te aanvaar.

Opvoeding en skoolsisteme moet verander

Opvoeding tuis en skoolleerplanne moet “sensitiwiteitsopleiding” insluit ten opsigte van die skade wat tradisionele gedrag, sienings en terminologie aanrig by LGBTQ+-mense. Ten opsigte van skoolonderwys moet byvoorbeeld in kleredrag, badkamers/ toiletgeriewe en sport alle onderskeidende elemente uitgeskakel word en gelyke toegang daartoe vir almal verseker word.

By ʼn Wes-Kaapse skool is onlangs so ʼn “opleidingsessie” onder leiding van ʼn leidende propagandis van “sensitiwiteitsopleiding” aangebied (sonder dat ouers of die skoolbeheerraad vooraf in kennis gestel of hul toestemming gevra is). Leerlinge is verbied om die lokaal te verlaat al het sommiges die aanbieding uiters ontstellend gevind. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het blykbaar geen beslissende negatiewe standpunt teenoor die gebeure ingeneem nie.

Mediese, sielkundige en psigiatriese benaderings moet verander

Die LGBTQ+-keuses en -kultuur moet as absoluut normaal en bevorderlik vir fisiese, emosionele en geestelike gesondheid gesien en bevestig word. Op mediese terrein behoort hormoonblokkeerders of -vervangers aangewend te word ten einde in te pas by die gendervoorkeure van individue.

Chirurgie om “ongewenste” geslagsorgane te verwyder of gewenstes te “skep” moet as normaal beskou en deur mediesefondse bekostig word. As ʼn sewejarige kind, byvoorbeeld, ʼn gendervoorkeur strydig met biologiese geslag verkies, mag sielkundiges of beraders dit nie ontmoedig nie, maar eerder ondersteun en aanmoedig.

Tans dien ʼn vader in Kanada 10 jaar tronkstraf uit omdat hy geweier het om sy kind se nuwe gendervoorkeur te bevorder, maar dit aktief teengestaan het. In Australië mag pastorale beraders nie vir lidmate bid vir Bybelgetroue oorwinning in hierdie stryd nie. Hierdie sekularisasiesveldtog word ondersteun deur toenemende groei in “gay pride”-optogte met reënboogkleure (volgens 1 Timoteus 3:6 is “pride” ʼn doodsonde en volgens Genesis 9:16 is die reënboogkleure ʼn teken van God se verbond). Die Kaapstadse stadsraad gebruik beligting van geboue in die kenmerkende “reënboogkleure” as bewys van hulle steun hieraan.

Sielkundiges, mediese dokters en beraders wat hierdie eise teenstaan op gronde soos “dis die enigste geval waar die self-diagnose van ʼn probleem deur ʼn sewejarige die van ʼn deskundige uitkanselleer”, stel hul bloot aan die beskuldiging van “homofobie” en verlies van professionele status en bevoegdheid. Tavistock, die bekendste kliniek in Brittanje vir bevordering van die LGBTQ+-kultuur onder jeugdiges, is onlangs deur die gesondheidsowerheid gesluit weens langtermyn negatiewe resultate van hul “terapeutiese” metodes. Die Australiese sielkundige vereniging het verlede jaar ook statistieke vrygestel wat aantoon dat gevalle van genderdisforie met 4 000% toegeneem het sedert “sensitiwiteitsopleiding” deel geword het van skoolleerplanne.

  • DC Coetsee is ʼn boorling van die Kalahari. Hy het vir 40 jaar lank as sendeling gewerk en is deesdae besig met Bybelse berading en opleiding. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Murg en been ·

My vraag is net hoe is die menslike liggaam gemaak om voort te plant? As jy daarvan afwyk is jy mos abnormaal… Die Bybel leer ons om mense te respekteer en met waardigheid te behandel, en nie jou wil op ander af te dwing nie. Dit moet tog geskied binne hierdie normaliteits milieu. Moet die samelewing nou verander agv ‘n klein persentasie mense wat hulle wil op ander wil afdwing? Aanvaar liewers dat jy anders is, en sorg dat jou optrede van so ‘n aard is dat dit respek verdien. Die samelewing sal jou dan aanvaar soos jy is, en nie verstoot nie.

George ·

As ons in geskiedenis gaan kyk, na die feit(MM voor jul weer afhaal) sal jy sien dat die Christenskap een van die mees onderdrukkendes was, en hulself afgedwing het op ander.

Nommer 7 ·

Indien ‘n persoon homself/haarself verbeel dat hy/sy ‘n ander geslag is, dan sal ek nogsteeds die persoon menswaardig behandel. Om egter van my te verwag om myself ook te verbeel dat die persoon ‘n ander geslag is, vind ek arrogant.

Manie ·

Almal word onder basiese menseregte beskerm, niemand is so uitsonderlik om op meer regte aanspraak te maak nie.

Heinrich ·

Sekerlik het hulle ook regte; probleem is dat hulle regte almal anders s’n oortref, en die stert swaai die hond. Hulle kan rokkies dra en grimering opsit met die grootste liefde maar moenie vir my sê wat ek mag en nie mag dink nie.

Frikkels ·

Hierdie is absoluut onbybels en teen my geloof en beginsels. Nee nee nee!

Nettie ·

Dis ok George, dis hulle keuse. Ons respekteer dit. Maar hulle wil HULLE keuse op ons kinders af forseer, TEEN ons as ouers se keuse en reg. DIS waar die streep getrek word. Hulle kan wees wie hulle wil, maar hulle moet ons as ouers respekteer om ons kinders op te voed volgens ons waarders en beginsels, nie hulle s’n nie.

RudWolf ·

Al wat ek kan se is dat dit BELAGLIK is!!! Ek sal nie my tyd mors om hiermee te wil argumenteer nie. Moet net nie van my verwag om die siening/kultuur te moet aanvaar nie! Wat geld vir die een, geld vir die ander… Moet dit nie in my keel probeer afdruk nie. Almal is vry om hulle eie keuses te maak en sienings te hê. Let wel, ALMAL! Dit sluit die Christelik-Westerse kultuur in.

Nettie ·

Ek vermoed hierdie is een van die redes hoekom Babilon in Openbaring totaal en al vernietig gaan word. Die vrou op die dier se rug versprei haar onsedelikhede die hele wêreld vol. Met dwang, omkoop en misleiding. Orals moet regerings, skole, organisasies en kerke nou afwyk van Bybelse feite om trans-mense tegemoet te kom…..

Mense gaan moet kies tussen Jesus en Sy Weë en die wêreld se weë.

Ek en my gesin het ons keuse gemaak. Ons volg die Bybel. En as dit die transgemeenskap ontstig, is dit hulle probleem. Ons staan by Jesus Christus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.