Verbruikersake: As jou meubels beskadig word wanneer jy trek

verhuis-trek-bokse-oorlaai

(Argieffoto: pixabay)

Om na ʼn nuwe woonplek trek, bring al oorgenoeg stres mee. Om dan nog skade aan jou meubels te sien wanneer die treklorrie dit kom aflaai, kan ʼn mens jou hare uit jou kop laat trek. Daar is dinge wat jy kan doen om seker te maak jy ly nie skade nie, maar op die ou end is dit die vervoeronderneming se verantwoordelikheid om te sorg dat jou goed heel anderkant uitkom. Ina Opperman het gaan kyk wat sê die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste oor hierdie soort skade.

ʼn Verbruiker het by die ombudsman gekla nadat sy meubels beskadig is toe hy ʼn ooreenkoms met ʼn vervoermaatskappy gesluit het om sy trek na ʼn ander deel van die land te behartig. Met die uitpakslag het hy agtergekom dat die meeste van die meubels beskadig is.

Die vervoermaatskappy het hom R700 aangebied vir die skade, baie minder as die geskatte bedrag van R10 000 aan skade wat die verbruiker opgemerk het. In antwoord op die ombudsman se kantoor oor waarom die maatskappy so min aanbied om die verbruiker vir die skade te vergoed, het die maatskappy gesê verbruikers word aangemoedig om hul trek te verseker.

Aangesien die vervoermaatskappy egter die meubels toegedraai en verpak het, het die maatskappy R700 aangebied om die meubels te laat herstel volgens die voorwaardes van die kontrak met die verbruiker.

Artikel 65

Volgens die ombudsman is artikel 65 van die Wet op Verbruikersbeskerming, wat handel oor die verskaffer van ʼn diens se verantwoordelikheid teenoor die verbruiker se eiendom, hier van krag.

Hierdie artikel bepaal wanneer ʼn verskaffer van goedere of dienste in besit is van enige voorafbetaling, deposito, lidmaatskapfooi, ander geld of enige ander eiendom wat aan ʼn verbruiker behoort, moet die verskaffer:

  • dit nie hanteer asof dit sy eiendom is nie
  • wanneer hy die eiendom hanteer, oppas of beveilig, die nodige sorg, ywer en vaardigheid uitoefen wat redelikerwys verwag kan word van iemand wat vir die bestuur van eiendom wat aan iemand anders behoort, verantwoordelik is
  • onthou hy is aanspreeklik teenoor die eienaar vir enige verlies weens ʼn versuim om behoorlik daarna om te sien.

Artikel 51

Die ombudsman verwys ook na artikel 51, wat handel oor verbode transaksies, ooreenkomste en voorwaardes, wat bepaal ʼn verskaffer mag nie ʼn voorwaarde in ʼn transaksie of ooreenkoms gebruik nie indien:

  • die algemene oogmerk of uitwerking daarvan is om die oogmerke en beleid van die wet te verydel, die verbruiker te mislei of te bedrieg, of die verbruiker aan bedrieglike gedrag te onderwerp
  • dit op direkte of indirekte wyse voorgee om ʼn verbruiker van ʼn reg ingevolge die wet te laat afsien of te ontneem, ʼn verskaffer se verpligting of plig ingevolge die wet te vermy, die uitwerking van ʼn bepaling van die wet tersyde te stel, of
  • dit die verskaffer magtig om enigiets wat onregmatig is ingevolge die wet te doen, of te versuim om enigiets wat ingevolge die wet vereis word te doen
  • dit voorgee om ʼn verskaffer se aanspreeklikheid vir ʼn verlies, wat direk of indirek te wyte is aan sy of iemand wat vir hom werk se growwe nalatigheid, te beperk of kwyt te skeld
  • dit die verbruiker dwing om die risiko of aanspreeklikheid van ʼn verlies te dra of aanvaar of die verbruiker verplig om te betaal vir skade aan, of andersins die risiko te aanvaar van hantering van goedere deur die verskaffer.

Die verbruiker het gevra dat die vervoermaatskappy R10 000 betaal vir die skade aan sy meubels.

Ombudsman se bevinding

Die ombudsman het in haar bevinding verwys na artikel 65 en gevind dat die vervoermaatskappy nie die nodige sorg aan die dag gelê het met die hantering van die verbruiker se meubels nie.

Hoewel die ombudsman opgemerk het dat die maatskappy verbruikers aangemoedig het om versekering vir die trek uit te neem, sê sy die feit dat die verbruiker nie die trek verseker het nie, beteken nie dat dit die maatskappy vrystel van sy aanspreeklikheid in terme van die wet nie.

Met verwysing na artikel 51 het sy gesê verskaffers mag nie hulself uitkontrakteer uit die bepalings van die wet deur ʼn ooreenkoms te sluit wat die doel van die wet in die wiele ry nie. Verskaffers mag ook nie inmeng met die verbruiker se regte in terme van die wet nie en mag ook nie ʼn kontrak sluit wat voorwaardes bevat wat die maatskappy se pligte en verpligtinge beperk of die maatskappy vrystel van enige verliese as die maatskappy nalatig is nie.

Daarom het die ombudsman aanbeveel dat die verskaffer ʼn billike bedrag betaal om die verbruiker te vergoed vir die skade aan sy meubels. Die maatskappy het toe R6 000 aangebied, wat die verbruiker aanvaar het.

Kla hier:

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste: [email protected] of WhatsApp by 081 335 3005.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.