Verbruikersake: Lesse te leer uit langtermynversekering

lewensversekering-rawpixelcom

Foto: Rawpixel/Pexels.com

Die ombudsman vir langtermynversekering het gedurende 2018 altesaam 5 978 klagtes ontvang en 91% daarvan binne ses maande opgelos. ’n Totaal van 31,5% van die klagtes wat opgelos is, was in die verbruiker se guns en R185,8 miljoen is aan verbruikers betaal. ’n Verdere R632 737 is aan verbruikers uitbetaal as vergoeding. Ina Opperman het gaan kyk watter lesse verbruikers kan leer uit die klagtes wat opgelos is.

Volgens die ombudsman se jaarverslag wat onlangs uitgereik is, het die meeste verbruikers gekla oor begrafnisversekering (41%), lewensversekering (30%), ongeskiktheidsversekering (12%), kredietlewensversekering (9%) en gesondheidsversekering (8%). Altesaam 49,33% van die klaers het oor eise wat afgewys is op grond van polisvoorwaardes gekla, en 27,83% oor swak kommunikasie, dokumente of inligting wat nie verskaf is nie asook swak diens.

Inligting

Momentum was in November 2018 in die nuus nadat hy geweier het om die lewenspolis van mnr. Ganas uit te betaal omdat hy nie al sy mediese inligting bekend gemaak het nie. Hy is doodgeskiet in ’n rooftog en daar was so ’n bohaai op sosiale media dat Momentum maar besluit het om die eis te betaal, hoewel die ombudsman saamgestem het dat Momentum die eis kan afwys. Die eis is uitbetaal en Momentum het besluit om in die toekoms eise te betaal as die persoon ’n slagoffer van geweld was, al is al die mediese inligting nie bekend gemaak nie.

Wat leer ons hieruit: Wees altyd absoluut eerlik wanneer jy lewensversekering uitneem. ’n Soortgelyke eis kan steeds deur ander versekeraars afgewys word. Volgens die ombudsman se kantoor pas hulle die Wet op Langtermynversekering toe, sowel as die gelykheidsbeginsel, deur te oorweeg of die versekeraar die polis sou uitreik indien al die feite bekend was. Die ombudsman oorweeg die verbintenis tussen die voltooiing van die nie-openbaarmaking en die kontrak en nie tussen die nie-openbaarmaking en die omstandighede van die sterfte nie.

Vergoeding vir swak diens

Die ombudsman het gevind al hoe meer klaers is bewus daarvan dat hulle vergoeding kan eis vir swak diens, al stel hulle dit nie uitdruklik so nie. Volgens die ombudsman is dit ook goed om te sien dat versekeraars uit hul eie vergoeding aanbied of heel gewillig instem om vergoeding te betaal.

Die ombudsman mag ingevolge sy reëls vergoeding toeken vir materiële ongerief of finansiële verlies weens foute, weglatings of wanadministrasie, insluitende onaanvaarbare of swak diens van versekeraars. Hierdie vergoeding mag nie meer as R50 000 beloop nie, maar dit bly moeilik om die bedrag te bepaal, omdat daar geen duidelike riglyn is hieroor nie.

Verbruikers is egter onder ’n wanindruk dat die vergoeding dieselfde bedrag moet wees as wat die polis sou uitbetaal en as ’n soort strafboete vir die versekeraar moet dien. Die ombudsman word egter ook gelei deur die reël dat hy ’n balans moet handhaaf tussen klaers en versekeraars.

Wat leer ons hieruit: As jy skade gely het weens ’n langtermynversekeringseis wat geweier is, kan jy skadevergoeding eis, maar binne perke. Jy moet ook bewys wat die skade is wat jy gely het.

Eise wat laat is

’n Begrafnispolishouer het by die ombudsman gekla omdat haar versekeraar geweier het om ’n begrafnisvoordeel van R1 000 uit te betaal nadat haar baba doodgebore is. Die versekeraar het die eis geweier omdat dit binne ses maande ingedien moes word en eers heelwat later ingedien is.

Volgens die verbruiker was sy nie tydens die geboorte bewus van die voordeel wat deel was van haar versekering by haar werkgewer nie. Sy het eers later tydens ’n bekendstelling deur die makelaar van die voordeel gehoor.

Die ombudsman wou by die versekeraar weet watter verlies dit sou wees as die bedrag wel uitbetaal sou word. Die versekeraar kon nie bewys dat die verbruiker wel die voordelestaat ontvang het nie en het die eis uitbetaal.

Wat leer ons hieruit: Maak seker dat jy presies weet watter dekking elke polis bied en sorg dat jy betyds eise vir jou voordele instel.

Oorspronklike doodsertifikate

’n Verbruiker het by die ombudsman gekla omdat die doodsvoordeel wat sy volgens haar pa se lewenspolis moes ontvang, nie uitbetaal is nie. Die versekeraar het gesê die eis is afgewys omdat haar pa se doodsertifikaat met die hand geskryf is en nie gedruk is nie.

By verdere ondersoek is gevind die pa se identiteitsdokument is geblokkeer deur die departement van binnelandse sake omdat hy en nog iemand dieselfde identiteitsnommers het en daarom wou die departement nie die sertifikaat druk nie. Net die direkteur-generaal van binnelandse sake kan die blokkering ophef of dit kan gedoen word as ’n hofbevel uitgereik word.

Die klaer kon nie die regskoste hiervoor bekostig nie en nadat sy by die ombudsman gekla het, is ’n forensiese ondersoek gedoen, wat geen bedrog kon vind nie. Die eis is uitbetaal op aanbeveling van die ombudsman, maar die ombudsman het daarop gewys dat dit nie, soos in hierdie geval, drie jaar moet neem voordat ’n versekeraar ’n soortgelyke klagte oplos nie.

Wat leer ons hieruit: Wanneer ’n versekeraar nie binne ’n redelike tyd ’n klagte oplos nie, kla by die ombudsman se kantoor.

Kla hier:

Bel die ombudsman se kantoor by 0860 662 837 of besoek die webwerf by www.ombud.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.