Verbruikersake: Oppas as jy self jou nuwe TV huis toe neem

Argieffoto

Jy het uiteindelik ’n nuwe televisiestel gekoop en jy is so opgewonde dat jy sommer die winkel se aanbod om dit af te lewer, van die hand wys en dit gou agter op die bakkie laai. Vanaand gaan niemand meer kerm oor die ou televisiestel wat nie meer so mooi werk nie. Maar… tuis kom jy agter die skerm is gekraak! En die winkel weier om dit om te ruil omdat hulle dit nie afgelewer het nie. Wat nou? Ina Opperman het gaan hoor wat sê die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste.

Volgens die ombudsman het haar kantoor verskeie klagtes ontvang van verbruikers wat tuis agtergekom het ’n nuwe televisiestel se skerm is gekraak nadat hulle verkies het om dit self huis toe te neem.

Een van die verbruikers het vertel dat die verkoopspersoon die stel voordat sy die winkel verlaat het, aangeskakel het om seker te maak dit werk en dat die skerm nie gekraak is nie. Sy het die boks in ’n trollie gesit en huis toe geneem. Toe sy dit tuis aanskakel, was daar ’n kraak in die skerm, maar die winkel wou dit nie omruil nie omdat die stel in haar besit was toe dit beskadig is.

Nadat die ombudsman al die bewyse van die verbruiker en die winkel oorweeg het kragtens artikel 56 van die Wet op Verbruikersbeskerming, is besluit om die saak te sluit, aangesien daar fout gekom het met die stel nadat dit die winkel se beheer verlaat het. Die saak is na die Nasionale Verbruikerskommissie verwys.

Artikel 56

Volgens artikel 56 van die Wet op Verbruikersbeskerming het elke transaksie ʼn versweë bepaling dat die produsent of invoerder, verspreider én die kleinhandelaar elkeen waarborg dat die goedere voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, tensy dit verander is of teenstrydig is met die instruksies of nadat dit die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar se beheer verlaat het.

Jy het die reg op veilige goedere van goeie gehalte volgens artikel 55, wat gepas is vir die doel waarvoor dit gemaak is en in ’n goeie werkende toestand. Die goedere mag nie enige defekte hê nie en moet vir ʼn redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees. Dit moet ook aan die standaarde van die Wet op Standaarde of enige ander openbare regulasie voldoen.

Artikel 56 dui aan dat die versweë waarborg en jou regte daaroor geld saam met enige ander versweë waarborg of voorwaarde in die gemene reg, die Wet op Verbruikersbeskerming of enige ander openbare regulasie en ʼn uitdruklike waarborg of voorwaarde van die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar.

Riglyne om ’n televisiestel te vervoer

Die ombudsman se kantoor het ’n lys riglyne opgestel wat verbruikers kan gebruik om te verseker hulle kom nie tuis met ’n gekraakte televisieskerm wanneer hulle ’n nuwe stel self huis toe neem nie:

  • Maak vooraf seker hoe groot en swaar die stel is en moenie vergeet om die verpakking by te reken nie.
  • Maak vooraf planne hoe om die stel tot by jou huis te vervoer.
  • Vat kussings saam om rondom die stel te pak as jy dit op die agtersitplek gaan vervoer.
  • Lees eers die vervoerinstruksies op die verpakking voordat jy besluit om die stel self te vervoer.
  • Sorg dat twee mense te alle tye die stel hanteer.
  • Wanneer jy dit in ’n trollie stoot tot by jou motor, maak seker dat die stel reg staan daarin en vra die personeel vir raad as jy onseker is.
  • Moet nooit die stel plat op die trollie laat rus nie. Volg die pyle op die verpakking wat aandui “this side up”.
  • Maak seker dat niks aan die verpakking kan vashaak nie, want dit kan die stel beskadig.
  • Maak seker jy stamp nie die trollie teen iets nie.
  • Stoot die trollie stadig en versigtig oor ongelyke oppervlakke.

Indien jy ’n groter voertuig gebruik vir ’n groter stel

  • Plaas die stel op ’n kombers.
  • Lig die stel versigtig op tot op die kombers en hou die boks altyd regop.
  • Sit die boks styf teen die kant neer.
  • Maak die vraggordels om die boks vas en maak seker die gordels bly plat en reguit.
  • Maak die gordels vas. As die boks begin induik of skeur, is dit te styf.
  • Trek die gordels styf om seker te maak dit is reg vas. Die stel moet nie beweeg nie en nie waggel of “uitspring” nie.

Indien jy ’n kleiner stel in jou motor gaan vervoer

  • Maak genoeg plek vir die boks.
  • Sit die boks versigtig op die sitplek neer en hou dit altyd regop.
  • Gebruik die sitplekgordel om dit regop te hou.
  • Stoot die rug van die passasiersitplek terug so ver as jy kan sodat die kopstut teen die boks rus. Dit sal skade voorkom as jy oor ’n hobbel in die pad ry.
  • Gebruik kussings om die boks te stut.
  • Maak seker die boks kan nie rondbeweeg nie.

Wanneer jy tuis jou nuwe televisiestel opstel

  • Maak seker dat twee mense die stel indra en hanteer tydens installasie.
  • Volg die instruksies op die verpakking om dit oop te maak.
  • Maak seker dat niemand aan die skerm raak terwyl dit uit die boks gehaal word nie. Die skerm kan kraak as mens dit om die rande vashou.
  • Lees die handleiding om seker te maak jy installeer die stel op die regte manier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JohanL ·

Goed ek verstaan die argument dat die TV stel onder die winkelgroep se beheer uit was, die oomblik toe die klient dit uitgevat het.

Maar sommige winkelgroepe vra BELAGLIKE pryse vir aflewering. Ek woon 2km van ‘n sekere winkel en hulle het my R350 gevra om ‘n wasmasjien af te lewer. Geldgierigheid se moses.

Johann L ·

‘n TV is se skerm is baie kwesbaar wanneer dit aangeskakel was en nie genoeg tyd gehad het om af te skakel nie. Dit is dus verkeerd dat die winkel dit aanskakel en direk daarna neem jy dit huis toe.

Hoe nou? ·

@JohannL – Nog nooit daarvan gehoor nie. Verduidelik asseblief. Dalk leer ons iets.

Judge Dredd ·

Foeitog ne? – Ek dog bogenoemde is “common sense” – maar party mense wil nie luister, mos “rally” ry met nuwe goedere. (Bogenoemde artikel noem net wat die winkel gedoen het, maar die klient se aksies word verswyg).

Ons almal betaal vir ons opvoeding, party van ons deur die “School off hard knocks”.

Sonja ·

Neem op jou huis inhoud versekering uit vir toevallige breekskade en maganies skade, dit kos n paar rand maar dan weet jy te minste sal dit die skade dek. Vra jou versekering vir so R10 000.00 – dit dek daardie soort voorvalle, of die skoonmaker laat die tv omval of kinders gooi dalk iets in die huis en dit tref die tv!!

Judge Dredd ·

….al lankal geleer dat huishulpe en tuinwerkers die grootste skade makers en bedreiging vir huishoudings is – daarom het ek nie meer so iets nie….

Petro ·

IEMAND het hierdie as n geld maak storie uigedink Mense neem al vir jare
hulle eie TV’s huistoe Is hierdie nuwes maar net Chinse gemors

Ray ·

Moet se ek trek dit bietjie in twyfel. As die stel nie behoorlik teruggesit is in sy verpakking nie, dan kon hy gekraak het. Meeste stele is deesdae so verpak dat selfs ‘n stamp hom nie sal beskadig nie, maar agv die konstrukse kan hulle seerkry met stress as die verpakking nie reg is nie. Dus dit kon gebeur het agv die feit dat hy uitgehaal is, aangeskakel is, en nie behoorlik teruggesit is in sy vepakking nie

Dorothy ·

Wat kan ons met ons stukkende TV maak. Niemand wil hom hê nie. Dit raak ‘n seer oog.

Dorothy ·

Bernard ons het ‘n nuwe een gekoop. Wat maak ons met die stukkende een? Moet ek die hammer gebruik dan asblik toe?

Alexz ·

Sit die stukkende tv buite op die sypaadjie neer.
In ñ uur se tyd sal hy weg wees, glo my, het dit al gedoen. Of skenk hom aan ñ tv herstel winkel, hulle is altyd opsoek na ‘spares’

Stof ·

Baie dankie vir die waarskuwing. Ek het nooit so daaraan gedink nie. Ek neem dit ter harte, en sal dus die ambulans vra om my vrou en jongste, van Femina af vir my huis toe te neem, ter wille van die nuweling se veiligheid.
Mag elke leser ‘n gunsgevulde dag beleef.

@Dorothy ·

Dorothy, hier in Pta area is daar paar mense wat ñ bestaan maak om gratis (en soms met kwotasie) jou stukkende en selfs enigiets anders wat jy nie meer wil hê nie, kom haal by jou huis. Ek het sulke advertensies in my posbus gekry en beplan om van dit gebruik te maak. Voor hulle kom sal ek sommer hoor of my bure nie dalk ook ou of stukkende goed het om by te voeg nie.

@Dorothy ·

Dorothy, as jy ook in Pta area bly dan kan ek die inligting vir jou gee. Indien nie in Pta nie, dan moet jy dalk Google om te kyk of daar sulke mense in jou area is. Miskien selfs herstel plekke wat dele van jou TV vir parte kan gebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.