Verbruikersake: Tweedehandse televisiestelle en hul waarborge

(Foto: Glenn Carstens-Peters/Unsplash.)

Ons lewe in ’n nuwe wêreld waar mense dit nie meer kan bekostig om altyd nuwe toestelle te koop nie en liewer hul sente sal tel en ’n tweedehandse toestel koop. Veral nou, wanneer almal liewer moet tuisbly, is sommige verbruikers ook op soek na ’n tweedehandse televisiestel vir gesinslede wat nie altyd na pa of ma se programkeuses wil kyk nie. Mens kry deesdae goeie pryse op tweedehandse televisiestelle, maar sommige verbruikers is ontevrede omdat die waarborge, wat nog van krag is, nie na ’n nuwe eienaar oorgedra kan word nie. Ina Opperman vertel wat die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste daaroor sê.

Die ombudsman se jongste jaarverslag wat onlangs bekend gestel is, verwys ook na hierdie probleem wat verbruikers ervaar wanneer hulle tweedehandse televisiestelle koop. Hoewel die stelle nie ouer as twee jaar is nie, is die tweejaarwaarborg daarop nie meer van krag nie omdat dit nie oordraagbaar is nie. Twee verbruikers het hieroor by die ombudsman gekla nadat hulle die stelle onderskeidelik by ’n tweedehandse winkel en ’n veiling gekoop het.

Volgens die verbruikers het die vervaardiger geweier om die waarborg na te kom omdat die voorwaardes van die waarborg lui dat die 24 maande-waarborg nie geldig is nie, aangesien dit net op die eerste koper van toepassing is wat die stel wettig aangekoop het by die vervaardiger se gemagtigde handelaar.

Verder word die waarborg ook net nagekom indien:

  1. die verbruiker die oorspronklike koper is wat in besit is van die oorspronklike koopbewys of kwitansie;
  2. die reeksnommer van die produk sigbaar is en nie mee gepeuter is nie;
  3. die produk gekoop is by ’n gemagtigde handelaar;
  4. die voorwaardes voldoen aan die wetgewing van Afrikalande; en
  5. die produk voorheen net versien is deur ’n gematigde dienssentrum.

Die ombudsman se aanbeveling vir die oplossing van die twee verbruikers se klagtes berus suiwer op die oordraagbaarheid van die waarborg, aangesien dit die rede is waarom die vervaardiger nie die waarborg wou nakom nie.

Wat sê die vervaardiger?

Die vervaardiger meen dat:

  • die klaers in beide gevalle nie die oorspronklike kopers was nie en die waarborg dus ingevolge die voorwaardes nie afgedwing kan word nie. Dit sou die geval wees selfs al het die nuwe eienaars die oorspronklike waarborgkaart in hul besit gehad;
  • regulasie 44 van die Wet op Verbruikersbeskerming, wat verskaffers verbied om te keer dat verbruikers hul goedere verkoop deur die oordraagbaarheid van enige handelswaarborg te beperk, nie hier van krag is nie, aangesien daar ’n verskil is tussen ’n handelswaarborg en ’n waarborg (warranty) volgens Sharrock’s Business Transaction Law (2011).

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Die ombudsman het eers net staatgemaak op regulasie 44 van die Wet, maar meen dit is ook belangrik om dit te lees saam met ander relevante artikels van die Wet.

Artikel 3 bepaal dat van die hoofdoelwitte van die Wet is om regverdige sakepraktyke te bevorder en verbruikers te beskerm teen onbillike en onregverdige handelspraktyke en bedrieglike of misleidende optrede.

Artikel 4(3) bepaal dat, indien ’n bepaling van Wet redelikerwys uitgelê kan word om meer as een betekenis te hê, moet die tribunaal of hof die betekenis kies wat die beste die gees en oogmerke van die Wet bevorder en die verwesenliking en genieting van verbruikersregte in die algemeen en in besonder die persone beoog in artikel 3(1)(b), die beste sal verbeter.

Artikel 4(4) bepaal in die mate waarin dit versoenbaar is met die bevordering van die oogmerke en beleid van die Wet, die tribunaal of hof ’n standaardvorm, -kontrak of ander dokument, wat deur of namens ’n verskaffer opgestel of gepubliseer is, of wat die Wet vereis tot voordeel van die verbruiker uitlê, sodat:

(a) ’n dubbelsinnigheid wat meer as een redelike uitleg van ’n gedeelte van so ’n dokument moontlik maak, tot voordeel van die verbruiker beslis word; en

(b) sodat ’n inperking, beperking, uitsluiting of ontneming van ’n verbruiker se wetlike regte in so ’n dokument of kennisgewing uiteengesit, beperk word in die mate waarin ’n redelike persoon gewoonlik sou beoog of verwag, met inagneming van die inhoud van die dokument, die wyse waarop en vorm waarin die dokument voorberei en aangebied is en die omstandighede van die transaksie of ooreenkoms.

Verbruikers se reg op billike, regverdige en redelike bedinging en voorwaardes word beskerm volgens artikel 48 van die Wet. Dit ken ook sekere verpligtinge aan die handelaar toe en lui dat handelaars nie goedere of dienste mag verskaf teen ʼn onbillike, onredelike of onregverdige prys nie. Hulle mag ook nie onbillik, onredelik of onregverdig onderhandel nie of op ʼn onbillike, onredelike of onregverdige manier handel dryf nie.

Artikel 51(1)(a)(i) verbied ook enige term wat die algemene doel het om die doelwitte en beleid van die Wet te omseil.

Volgens artikel 56 (1) van die Wet het elke transaksie ʼn versweë bepaling dat die produsent of invoerder, verspreider én die kleinhandelaar elkeen waarborg dat die goedere voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, tensy dit verander is teenstrydig met die instruksies of nadat dit die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar se beheer verlaat het.

Jy het die reg op veilige goedere van goeie gehalte volgens artikel 55, wat gepas is vir die doel waarvoor dit gemaak is, en in ’n goeie werkende toestand. Die goedere mag nie enige defekte hê nie en moet vir ʼn redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees. Dit moet ook aan die standaarde van die Wet op Standaarde of enige ander openbare regulasie voldoen.

Artikel 56 dui aan dat die versweë waarborg, en jou regte daaroor, geld saam met enige ander versweë waarborg of voorwaarde in die gemene reg, die Wet op Verbruikersbeskerming of enige ander openbare regulasie en ʼn uitdruklike waarborg of voorwaarde van die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar. Produkte en goedere wat jy op ʼn veiling koop, word nie deur artikel 56 gedek nie.

Wat sê die ombudsman?

Volgens die ombudsman kan Sharrock nie gebruik word nie, aangesien “waarborg” as sulks nie gedefinieer word nie en “guarantee” en “warranty” as dieselfde begrip beskou word in die boek.

Die ombudsman meen dit is ondenkbaar dat regulasie 44 (3)(u) sal verwys na enige ander vergoeding as die een waarvoor voorsiening gemaak word in artikel 56 en 55, wat bepaal dat verbruikers die reg het op veilige goedere van goeie gehalte en die reg het om hul geld terug te kry, dit om te ruil of te laat herstel.

Buitendien bepaal artikels 4(3) en 4(4) van die Wet dat die bepalings van die Wet altyd geïnterpreteer moet word tot voordeel van die verbruiker gesien in die lig van die doel van die Wet en die omstandighede van die klagte.

’n Eenvoudige voorbeeld is iemand wat een van die vervaardiger se produkte koop en later sterf. Die erfgename van die produk behoort in staat te wees om voordeel te trek uit die waarborg (warranty) indien hulle die vereistes nakom om die oorspronklike kwitansie te wys en niemand met die toestel gepeuter het of dit onregmatig herstel het nie. Dieselfde beginsel sou geld indien die goedere ’n geskenk was of by ’n tweedehandse winkel gekoop is.

Die vervaardiger se argument, dat die waarborg nie oordraagbaar is nie, hou dus nie steek nie. Het die oorspronklike kopers dus die waarborg ongeldig gemaak deur die televisiestelle onderskeidelik aan ’n tweedehandse winkel en afslaer te verkoop?

Die Wet tref egter geen onderskeid tussen nuwe en tweedehandse goedere nie, al plaas dit beperkinge op goedere wat op veilings gekoop is en of die verbruiker ingelig is oor bestaande defekte en dit steeds gekoop het.

Die ombudsman het ook die bepalings van artikel 55 en 56 van die Wet oorweeg wat handel oor jou regte wanneer ’n produk defektief is. In hierdie geval sal die verbruikers wat die televisiestel op die veiling gekoop het, nie op hierdie artikels kan staatmaak nie, aangesien goedere wat op veilings gekoop word, uitgesluit word.

In die geval van die televisiestel wat by ’n tweedehandse winkel gekoop is, sal hierdie twee artikels egter van toepassing wees en die verbruiker is geregtig op herstelwerk, ’n terugbetaling of vervanging indien hy voldoen aan al die ander vereistes van die waarborg.

Volgens artikel 48 kan die vervaardiger se voorwaarde ook beskou word as ’n onbillike kontrakvoorwaarde. Regulasie 44 bepaal dat een van die onbillike voorwaardes ’n voorwaarde is wat die verbruiker se reg om goedere te verkoop, beperk deur die oordrag van die waarborg te beperk. Die onus is op die vervaardiger om te bewys dat die voorwaarde nie onbillik is nie en die ombudsman meen die vervaardiger se verweer hou nie steek nie.

Die ombudsman dink nie die vervaardiger se voorwaarde voldoen aan die bepalings van die Wet nie en sy het aanbeveel dat dit geskrap word. Die vervaardiger het nie hiermee saamgestem nie en voer nog samesprekings met die ombudsman se kantoor hieroor.

Kla hier

Kla by die Ombudsman se kantoor by  0860 000 272 of besoek die webwerf by www.cgso.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.