Verbruikersrubriek: Jy kan nie wen as jy nie inskryf nie en ander reëls

(Foto:
Giorgio Trovato/Unsplash.)

Skelms wat jou geld onder jou neus wil steel, het ’n nuwe slenter bedink: jy het ’n groot bedrag kontant gewen en moet net ’n paar rand betaal om die houer waarin dit afgelewer gaan word (per helikopter nogal,) se sekuriteitskode te kry. Duisende rande later het jou prys, vir ’n kompetisie waarvoor jy nie ingeskryf het nie, nog nie opgedaag nie. Ina Opperman verduidelik wat die Wet op Verbruikersbeskerming oor kompetisies sê sodat verbruikers kan verseker hulle word nie ingeloop nie.

Dit is eerstens in hierdie geval belangrik om te onthou dat niemand ’n kompetisie mag aanbied waar jy as “wenner” aangewys word as jy nie ingeskryf het nie. Tweedens mag niemand van jou verwag om te betaal om jou prys te kry nie. Ja, dit is so eenvoudig, want die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal die reëls.

Wanneer jy aan ’n kompetisie deelneem, is dit belangrik om te sorg dat jy net inskryf indien die kompetisie volgens die bepalings van die Wet gehou word. Artikel 36 en regulasie 11 van die Wet bevat al die inligting wat jy nodig het om seker te maak jy word nie ingeloop nie.

Definisies

Volgens artikel 36 is die volgende definisies belangrik:

  • ’n Deelnemer is iemand wat inskryf, deelneem of op enige ander manier in aanmerking kom om ’n reklamekompetisie te wen.
  • ’n Prys is ’n beloning, geskenk, gratis goedere of dienste, prysverlaging of spesiale voorreg, meer of beter gehalte van goedere en dienste of enige ander produk wat teen afslag of gratis verskaf word.
  • ’n Reklamekompetisie is enige kompetisie, speletjie, skema, ooreenkoms, stelsel, plan of toestel om pryse toe te ken deur middel van loting of toeval, in die gewone verloop van sake om reklame te maak vir ’n vervaardiger, verspreider, verskaffer of vereniging, of die verkoop van goedere en dienste, waarvan die prys ’n waarde het van meer as R1, ongeag of jy enige vaardigheid of vermoë moet hê om die prys te wen.
  • ’n Promotor is die verskaffer wat direk of indirek ’n reklamekompetisie bevorder, borg, organiseer of hou, of vir wie die kompetisie bevorder, geborg, gereël of gehou word.

Kompetisies wat deur die Wet gedek word

Artikel 36 bepaal ’n reklamekompetisie moet gebruik word om ’n verskaffer van bepaalde goedere of dienste in die normale verloop van sake te bevorder. Die wenner moet gekies word deur ’n loting of gelukkige trekking.

  • ’n Lootjie by ’n skoolbyeenkoms of kerk word nie as ’n reklamekompetisie beskou nie en dit hoef nie te voldoen aan die bepalings van die Wet nie.

Onwettige voorwaardes om te wen

Volgens die bepalings van artikel 36 is dit onwettig om jou te laat weet dat jy iets gewen het as:

  • geen kompetisie gehou is nie;
  • jy nie gewen het nie;
  • jy eers aan ’n voorwaarde moet voldoen om te wen wat nie vooraf bekend gemaak is nie;
  • jy ’n bedrag moet betaal of iets koop om die prys te kry;
  • jy geen reg het om die prys te wen nie; en/of
  • die prys reeds beskikbaar is of aangebied word aan ander verbruikers of groepe.

Maatskappye mag ook nie vereis dat jy posgeld betaal of op enige ander manier betaal om die inskrywing te stuur nie. Dit sluit betaling vir die kans om deel te neem en toegang tot die kompetisie of toestel in. Jy kan ook nie gedwing word om goedere of dienste te koop vir meer as die gewone prys nie.

Regulasie 11 van die Wet bepaal ook dat teksboodskappe om in te skryf, nie meer as R1,50 mag kos nie en daar mag nie van jou verwag word om te betaal vir verdere kommunikasie nie. Onwettige goedere en dienste, soos kinderpornografie of dwelms, mag ook nie aangebied word as pryse nie.

Wie kan wenners wees?

Kompetisiereëls lui gewoonlik dat niemand wat vir ’n maatskappy of sy verskaffers werk of hul naaste familie, mag deelneem nie. Dit is ook verbode om pryse toe te ken aan enigeen wat ’n direkteur, lid, vennoot, werknemer, agent of promotor is, of wat goedere of dienste verskaf vir die kompetisie.

Kompetisiereëls

Kompetisiereëls moet saamgestel word voordat die kompetisie begin en moet gratis beskikbaar gestel word aan die Nasionale Verbruikerskommissie en enige deelnemer wat daarvoor vra. ’n Afskrif van die reëls moet ook gehou word vir ten minste drie jaar nadat die kompetisie verby is. Dit is gewoonlik voldoende om die reëls op ’n webwerf beskikbaar te maak.

Uitnodiging om deel te neem

Die uitnodiging om deel te neem aan ’n reklamekompetisie moet dit duidelik maak:

  • wat jy kan wen as jy deelneem;
  • wat jy moet doen om deel te neem;
  • hoe die uitslag bepaal sal word;
  • die sluitingsdatum;
  • hoe die uitslag bekend gemaak sal word;
  • die kontakbesonderhede van die persoon by wie jy ’n afskrif van die reëls kan kry; en
  • die datum, tyd en plek waar die wenner die prys kan kry.

Hierdie inligting kan beskikbaar gestel word:

  • saam met die inskrywing;
  • in ’n aangehegte dokument;
  • in ’n advertensie wat gepubliseer word ten tyde van die kompetisie

in die omgewing waar die kompetisie gehou word wat die aandag daarop vestig en duidelik verband hou met die kompetisie.

Jou regte

Volgens artikel 35 het jy die reg om:

  • deel te neem aan ’n kompetisie sodra jy voldoen aan die voorwaardes en toegang kry tot die medium om deel te neem;
  • die prys op te eis sodra die uitslag bepaal is; en
  • nie aan nog voorwaardes te voldoen of iets te betaal om die prys te kry nie.

As jy ’n kompetisie wen, kan jy nie gedwing word om aan enige bemarking deel te neem nie en dit sluit foto’s in. Jy moet die kans gegun word om nee te sê en enige promotor wat dit insluit as ’n kompetisiereël, sal dit ingevolge regulasie 11 nie kan afdwing nie.

Hoe om die wenner te kies

Artikel 36 bepaal:

  • die promotor mag nie ’n interne ouditeur gebruik om die wenner aan te wys nie; en
  • net ’n onafhanklike rekenmeester, geregistreerde ouditeur, prokureur of advokaat kan toesig hou oor die kompetisie en dit sertifiseer en dit dan deur die promotor se interne ouditverslag of ander geskikte metode van geldigverklaring en verifikasie rapporteer. ’n Volle oudit word nie vereis nie, maar ’n onafhanklike professionele persoon moet seker maak die kompetisie word volgens wet gehou.

Promotor se pligte

Die promotor wat die kompetisie aanbied, moet die volgende inligting beskikbaar hê:

  • Volledige inligting van die promotor, reëls, aanbod om deel te neem en die name en ID-nommers van die mense wat verantwoordelik is vir die kompetisie;
  • ’n Volledige lys van al die pryse;
  • Afskrifte van al die bemarkingsmateriaal;
  • ’n Lys van al die geleenthede waar die kompetisie bemark is, sowel as die datums, medium en plekke waar dit bemark is;
  • Die name en ID-nommers van al die mense wat verantwoordelik is om die wenners te kies;
  • ’n Lys van die wenners se name en ID-nommers;
  • ’n Lys van die datums waarop die pryse oorhandig is of geldpryse betaal is; en
  • Erkenning van ontvangs van die pryse onderteken deur die wenners, met hul ID-nommers en die datum en plek, of indien die prys per pos of koerier gestuur is, bewys daarvan.

Die promotor moet ook rekord hou van:

  • Stappe wat gedoen is indien die wenner nie gekontak kon word nie;
  • Waarom ’n wenner nie ’n prys ontvang of aanvaar het nie en wat die promotor gedoen het om te verseker die wenner ontvang die prys;
  • Verklarings van die mense wat die kompetisie hou dat sover hulle weet, geen pryse aan direkteure, lede, werknemers, vennote, agente of konsultante of enigiemand anders wat direk of indirek iets met die promotor te doen het, die bemarkingsdiensverskaffers of hul gades, lewensmaats, sakevennote of naaste familie toegeken is nie;
  • Die grondslag waarop die wenners gekies is, moet ’n opsomming insluit wat die prosedure beskryf wat gevolg is om die wenners te kies, saam met die name van die mense wat hulle gekies het, die datum en plek waar die wenners gekies is en of die geleentheid oop was vir die publiek;
  • Of ’n onafhanklike persoon toesig gehou het toe die wenner gekies is en hierdie persoon se naam en ID-nommer; en
  • Hoe die wenners aangekondig is en hoe dikwels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.