Wees dapper in jou roeping

(Foto: Carmen Comrie/ Unsplash)

Vandat ek ʼn jong meisie was, het ek gewonder oor wat my roeping is en wat die roeping sal wees wat ek eendag kan uitleef. Vir lank het ek gedink dit was om skeppend te wees deur die kunste, maar vandag bevind ek myself by ʼn instelling waar ek elke dag deur my gawes ander kan bedien deur my roeping uit te leef.

“Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het” – 1 Korintiërs 7:17.

Vandag weet en glo ek vas dat God lewe skep, God skep roeping. Hy laat ons hierdie lewe inkom, elkeen met ʼn spesifieke doel. Alles gebeur volgens wat God beskik. Al lyk dit soms asof jy self jou eie roeping bepaal, is dit God wat dit vir jou geskep het die dag van jou geboorte. Dit is ook God wat vir ons die gawes gee om ons roeping uit te leef.

“Daarom broeders, moet julle des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” – 2 Petrus 1:10

Hierdie is vir my nie net mooi nie, maar waarvolgens ek leef ook. Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat God ons nie net geskep het nie, maar geskep het met ʼn roeping – en as ons by dit bly, sal ons nie struikel nie.

Dit is dan mos eenvoudig – bly by jou roeping, leef vir God en wees voorspoedig. ʼn Mens sal dink dit is eenvoudig, maar dit is nie eintlik so maklik nie. Daar is dinge van die wêreld wat ons ook daagliks verhinder om ons roeping uit te leef, struikelblokke en teenspoed. Maar met hierdie gesê, verloor jy nooit regtig die rede waarom God jou geroep het nie. In talle gevalle maak dit juis jou roeping nog sterker.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Roeping is nou een woord wat ek nog nooit so baie in my lewe gehoor het soos wat ek het die afgelope 10 jaar van my diens binne die Solidariteit Beweging nie. Ek dink dit is omdat dit vir ons so vanselfsprekend is, wanneer jy hier werk weet jy waarmee jy jouself moet besig hou. Daarom ook vorm dit deel van die vyf waardes wat Helpende Hand ook gekies het.

Net soos Johannes die doper weet ons ook waarmee ons onsself moet besig hou, wat ons roeping is, en ons vertrou op Onse Vader om vir ons die pad te wys.

Met ʼn leergordel om sy heupe en in kameelhaar geklee, het hy ten volle verstaan wat sy roeping was. Reeds voor sy geboorte kondig die engel aan dat hy ʼn volk vir die Here sal voorberei. Hy was die een wat die pad vir die Here moes gereed maak en hy het dit geweet.

ʼn Mens sal dan ook kan sê dat dit makliker is vir mense wat reeds weet wat hulle roeping is. Maar het jy al ooit werklik gaan sit met die gawes wat God jou gegee het, dit weer voor Sy voete gaan plaas en gevra: “Here wys my hoe ek dieper en wyer in God kan leef, help my om uit te leef waarvoor U my hier geplaas het”? Het jy dan ooit al regtig gaan luister na wat die Here vir jou sê?

ʼn Gemeenskap sonder roeping is uiters gevaarlik. Dit raak gevaarlik wanneer mense nie die doel leef waarvoor God hulle geroep het nie. Dit raak chaoties as dinge nie gebeur volgens die Here se orde nie. En ek is seker ons sal eerder ons roeping wil leef as om ʼn chaotiese samelewing te hê. Dit raak gevaarlik wanneer ons wegdraai of ignoreer wat God geskep het as ons bestaansrede. Die Here voorsien ook ʼn toekoms daar waar Hy ons roep. Hoe meer ons doen wat ons moet doen, hoe meer seker word ons van ons toekomsbelofte.

By Solidariteit Helpende Hand weet ons dat ons toewyding aan ons werk meer is as net ʼn werk; dit is ʼn roeping. In 2024 sal ons ons sin vir roeping erken om te verseker dat elke taak wat ons aanpak, bydra tot ʼn groter doel. Ons werk behoort ʼn uitdrukking te wees van ons passie en toewyding.

As gemeenskap van gelowiges moet ons dapper wees in ons roeping. Staan trots, want dit is wat God vir jou gegee het om mee te woeker en te werk. ʼn Waarde soos roeping, net soos enige ander waarde, het ʼn Christelike aard en ʼn wêreldse aard. Roeping is goed, groei en ontwikkel wanneer jy dit uitleef soos God jou geroep het, maar wanneer dit gedoen word vir wêreldse dinge loop dit skeef.

Ons moet onthou dat ons enigste ware roeping is om God se kinders te wees. Wanneer jy dit toepas in jou lewe hier op aarde en jouself besig hou daarmee, trek jy ook vir jou ʼn leergordel en kameelhaar aan – en jy hou jouself dan ook besig met die regte dinge soos Johannes die doper het.

Is jy gereed om jou roeping te leef?

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Groot nood onder Afrikaners is aan die opbou. Mense leef in angs maar hul trots laat hul alleen ly. ‘n Groot opname is nodig. Dit gaan erg, mense. Families stoot hul naaste weg omdat hul self sukkel om te oorleef. Die kerke is tjoepstil. Waar is werk vir jongmense en ander. Ook vir diegene wat opsy moet staan vir ander rassegroepe? AfriForum moet asb hieraan aandag gee. Verblyf sal beplan moet word en oprigting geskied nie in een dag nie. Orania soek mense met geld. Hier en daar is ‘n witplakkerskamp wat nie vooruitgang toon nie. Om net die regte van wit werkers verder uit te bou is nie genoeg nie. Ellende wink soos gedurende die groot depressie van die vorige eeu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.