97 000 in formele sektor verloor hul werk

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kate Sade/Unsplash)

Altesame 97 000 werknemers in die formele sektor het tussen Maart verlede jaar en Maart vanjaar hul werk verloor. Verskeie bedrywe moes boonop hul werkers se salarisse sny omdat hulle inkomste gekrimp het.

Die formele sektor het in die eerste kwartaal van vanjaar niks minder nie as 21 000 minder poste gehad vergeleke met die vierdie kwartaal van verlede jaar.

Dié sektor verskaf steeds werk aan byna tien miljoen mense.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag gesê ander bedrywe het ook duisende poste in die eerste kwartaal van 2023 ingeboet. Die handelsbedryf het in dié drie maande sowat 36 000 poste verloor, terwyl die sakedienstesektor sedert verlede jaar met 32 000 poste gekrimp het.

Die vervoer- en konstruksiebedryf het elkeen 2 000 poste in die eerste kwartaal verloor.

StatsSA sê sekere sektore het egter veerkragtigheid getoon en meer werksgeleenthede geskep.

Die gemeenskapsdienstebedryf het in die eerste kwartaal van vanjaar 41 000 meer werksgeleenthede vergeleke met die vierde kwartaal van 2022 geskep. Die mynbedryf het 5 000 werksgeleenthede bygevoeg.

(Argieffoto bloot ter illustrasie)

StatsSA sê die vervaardigingsbedryf toon ook belowende tekens van groei nadat 4 000 werksgeleenthede in die eerste kwartaal tot dié bedryf gevoeg is.

Die elektrisiteitsbedryf het self ʼn toename van 1 000 poste beleef.

Vyf uit agt nywerhede (sakedienste, konstruksievervoer, handel en elektrisiteit) het nog nie teruggekeer na pre-pandemie-indiensnemingsvlakke nie.

Minder voltydse poste

ʼn Afname in voltydse indiensneming is ook in die eerste kwartaal van vanjaar opgemerk. Sowat 63 000 voltydse werksgeleenthede het tussen Desember 2022 en Maart 2023 verlore gegaan.

Volgens StatsSA se syfers was daar was ook 24 000 minder voltydse poste in die eerste kwartaal van vanjaar vergeleke met die eerste kwartaal van verlede jaar.

Deeltydse indiensneming het egter ʼn noemenswaardige oplewing van 42 000 op ʼn kwartaallikse grondslag beleef – van 1 110 000 poste in Desember tot 1 152 000 in Maart vanjaar.

Die gemeenskapsdienstebedryf was verantwoordelik vir 46 000 van dié nuwe werksgeleenthede.

Verlies aan verdienste

Luidens StatsSA se syfers het die totale bruto verdienste wat aan werknemers betaal is met R34,1 miljard afgeneem – van R864,2 miljard in Desember na R830 miljard in Maart vanjaar.

Die gemeenskapsdienstebedryf het ʼn afname van R13,5 miljard aangemeld gevolg deur die handelsbedryf met ʼn afname van R12,4 miljard. Die vervaardigingsbedryf het ook ʼn afname van R9,1 miljard aangeteken, terwyl die konstruksie-, vervoer- en elektrisiteitsbedryf afnames van onderskeidelik R4,7 miljard, R2,1 miljard en R1 miljard in verdienste ondervind het.

Die sakedienstebedryf en mynbedryf het egter onderskeidelik R8,1 miljard en R551 miljoen tydens die eerste kwartaal van vanjaar verdien.

Minder geld vir salarisse, lone

StatsSA se syfers wys ook dat verskeie nywerhede aansienlike dalings in basiese salarisse of lone agter die rug het.

Dié salarisse het met R11,8 miljard afgeneem; ʼn afname van 1,6%, vanaf R751,2 miljard in Desember na R739,4 miljard in Maart vanjaar.

Die handelsbedryf, gemeenskapsdienste, asook die vervaardiging-, konstruksie- en elektrisiteitsektor het veral noemenswaardige afnames in basiese salarisse/lone aangemeld wat bygedra het tot die algehele afname.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Linda ·

Stats kies dikwels ondernemings, die land kort dringend werkgeleenthede.

Miskruier ·

Minder belasting wat inbetaal word, hoe gaan die staatskas al die welsyn toelaes kan betaal?

annie ·

Hierdie is baie slegte nuus. En met die nuwe wetsontwerp om nog witmense te vervang, sal geen voordeel inhou vir die staatskas nie. Om mense nie voltyds aan te stel nie is die nuutste onding plus geen salarisverhogings nie, selfs tot by akademiese inrigtings. Kan die ANC ‘n volwaardige regering genoem word wat al die landsburgers se belange op die hart dra? Nee. So wat noem met so ‘n opportunistiese gang? Boewe.

JvR ·

Ek kom agter meeste wat op MM se artikels komentaar lewer het nie n idee wat buite hul dorps gebied aangaan nie. Wat nog te se van die buite wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.