Onsekerheid oor beleid kniehalter ekonomie steeds

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte het ’n goeie inspuiting in Julie gekry. Die vervaardigingsektor  wat in die eerste ses maande van die jaar op die agtervoet was, het in Julie met 2,9% op ’n jaargrondslag gestyg. Junie se syfer was na 0,6% hersien van die uitgereikte 0,7%

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê Julie se gegewens was positief en bo markverwagtinge van 1,1%. Die agentskap wys daarop dat agt uit die tien subsektore tot die positiewe groei bygedra het.

NKC Research sê egter ondanks Julie se positiewe gegewens, staar verskeie uitdagings die vervaardigingsektor nog in die gesig. Dit sluit in ’n hoër belastingslas, stygende brandstofpryse en patetiese plaaslike aanvraag.

Die agentskap voeg by dat beleidsondersekerheid in Suid-Afrika beleggingsbesteding vasknoop en dit moeilik maak vir maatskappye om te belê.

Boonop waarsku die agentskap dat eksterne faktore soos Amerika se handelsoorlog met China die globale ekonomie kan benadeel en daardeur Suid-Afrikaanse vervaardigingsuitvoere temper.

Op ’n ander vlak het die RMB/BER sakevertroue-indeks in die derde kwartaal verder verswak. Die gegewens wat deur die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Navorsing vir Rand Merchant Bank gedoen word, het tot 38 indekspunte verswak. Dit was een punt swakker as die vorige kwartaal. Dit was ook die swakste syfer in twee jaar.

Volgens die verslag het die Amerikaanse handelsoorlog geïntensifiseerd wat wêreldhandeltoestande gestonk het. Boonop het die swakker rand en hoër brandstofpryse vrese oor inflasie aangeblaas.

Die verslag sê ondanks president Cyril Ramaphosa se pogings om die ekonomie te help met beter korporatiewe bestuur by staatsbeheerde ondernemings en sy geveg teen korrupsie, bly daar onsekerheid oor beleid.

Die gronddebat en mynhervorming word as die twee grootste sondaars uitgewys.

Boonop het die graderingsmaatskappy Moody’s Investors Service aangekondig dat buitelandse beleggers nou wag vir die afhandeling van die 2019 algemene verkiesing. Beleggers, volgens Moody’s, wil dan kyk watter beleid aangegryp word en geïmplementeer word.

Die visepresident en senior ontleder by Moody’s Doug Rowlings sê die ANC is tans in skaakmat tussen die Ramaphosa-kamp en dié van Jacob Zuma. Hy sê Ramaphosa is pragmaties en wil buitelandse beleggings lok.

Rowlings meen egter dat Ramaphosa ’n mandaat soek wat hom dalk kan help om meer sekerheid aan beleid te gee. Volgens hom is buitelandse beleggers bewus daarvan dat dinge nie oornag kan verander nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Arie ·

Kan die regering so vertraag wees om dit nie te kan regstel nie? Die ding is hulle is eintlik komminusties maar wil dit nie hardop sê nie

Jerry ·

Daar is sommer baie hoop as buitelandse beleggers bewus is dat CR goeie ekonomiese intensies het en ook weet dat almal wag dat hy vir Zuma eers heeltemal uit die pad moet kry voordat daar duidelikheid oor beleid sal kom.

Eish ·

Baie dankie vir die insiggewende finansiële kommentare wat deesdae geplaas word.
” … patetiese plaaslike aanvraag”
Dit beteken dus dat alhoewel die vervaardigingsektor meer geproduseer het, dit nie verkoop is nie.

Paul ·

En as die regering dan nou nie ‘n begrip van die ekonomie het nie, wat dan? Ek sien elders in die media prof Jannie Rossouw van Wits sê in ‘n artikel dis tyd dat adj. pres. David Mabuza en die res van die kabinet ’n “basiese ekonomie 1-lesing” kom bywoon – en hy is bereid om dit vir hulle aan te bied. Ek dink CR moet ook daar ‘n draai gaan maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.