Afsondering knou PnP met miljarde

(Argieffoto)

Pick n Pay, Suid-Afrika se naasgrootste supermarkkettinggroep, het Dinsdag ʼn daling van 56,3% in wesensverdienste per aandeel vir die ses maande tot 30 Augustus bekend gemaak.

Inperkingsmaatreëls en ʼn gevolglike handelsverbod wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, het die skuld vir die daling gekry.

Handelsbeperkings het tot 20% van die groep se tussentydse inkomste op verskillende tye van die landwye afsondering beïnvloed en verkope is verder geraak deur verkorte handelsure, ʼn beperking op die aantal klante wat in winkels toegelaat is en die tydelike sluiting van winkels.

Die maatskappy sê dit het gelei tot ʼn verlies van R2,8 miljard in verlore verkope oor die tydperk.

Groepinkomste is verder geraak deur bykomende maatreëls om werkers en klante tydens die afsonderingstyd te beskerm en het R150 miljoen meer in bykomende bedryfskoste beloop.

Altesaam R100 miljoen is ten volle bestee aan die groep se vrywillige skeidingsprogram wat aan die begin van die boekjaar in werking gestel is.

Bedrywighede op die res van die vasteland is ook deur Covid-19-beperkings geknou, maar was steeds winsgewend en het R2 miljard bygedra tot inkomste. Dit is wel ʼn daling van 10,3% in vergelyking met ʼn jaar tevore.

Zimbabwe het goed gevaar en Pick n Pay in dié land het selfs sy markaandeel vergroot, ondanks die land se swak geldeenheid en stygende hiperinflasie.

Zambië ondervind ook moeilike ekonomiese en handelstoestande en ʼn swak geldeenheid verhoog die koste van invoere én vererger koste-inflasie. Die groep het egter steeds goed gevaar daar.

“Hoewel die pandemie ongetwyfeld ons verkope en wins geraak het, het ons ʼn veerkragtige resultaat gelewer en daar is baie redes om positief oor die toekoms te wees,” het Richard Brasher, uitvoerende hoof van Pick n Pay, gesê.

Verbruikers het ʼn taai ses maande agter die blad. Werkloosheid het ʼn rekordhoë vlak bereik en talle gesinne se inkomste het die afgelope paar maande beduidend gekrimp. Volgens Brasher het Pick n Pay egter steeds R500 miljoen belê in die pryse van alledaagse noodsaaklikhede en promosies is verskerp.

“Ons het ook goed gereageer op die skielike styging in die vraag na aanlyn inkopies.”

Brasher sê Pick n Pay Online is tans die grootste aanlyn kruidenier in Afrika suid van die Sahara.

Pick n Pay het winkels in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zambië, Mosambiek, Mauritius, eSwatini (Swaziland) en Lesotho én besit 49% van die Zimbabwiese TM Supermarkets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos10 ·

Hoe vergelyk PnP se verkope met die ander groepe?
Ek dink meer dit gaan oor swak diens lewering, pryse en PnP se beleid om sommige winkels in BEE se hande te plaas.

Wielspore ·

Na sowat 20 jaar van Pick and Pay se ondersteuning koop ons nie meer by hulle agv swak diens, na my mening kon die inperking bydrae gelewer het in die daling van verkope maar nie teen daardie bedrae.
My skoonseun werk ook in retail, dit is klere, by hulle het die aankope in kleiner dorpe tot 200% gestyg en in groter dorpe was die daling tot 27%. Indien gemiddelde uitgewerk word was daar net ‘n effense daling in verkope. Diefstal (shrinkage) het in die tyd baie afgeneem en dit het weer opgemaak vir die verlies aan inkomste.

Spook ·

Ons het agtergekom dat die ouens met die goue trollie net om die hoek, is trollie vir trollie baie goedkoper as P+P. So dis maar waar ons heen gaan vir ons inkopies.

Wielspore ·

Hierdie is nou nie ‘n spook storie, ons koop ook nou by die trollie winkel, so kry ons ook nou waarde by “Tjek-hers”

Anoniem ·

Dit kan ek met sekerheid vertel, P&P het uitstekend gevaar met die verkoop van toiletpapier. Ek weet want ek het in daardie ry gestaan. Mense het vuiste gebal daarvoor. Wat ‘n dag was dit nie!

koos10 ·

Hendrik, ek stem saam, want dis ‘n eienaar/bestuurder winkel.

Jakes ·

Daar werk hopeloos te veel mense daar en daarom het hulle gegly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.