Benodig jy kripto om welvaart te skep?

Argieffoto (Foto: MichaelWuensch/Pixabay)

Welvaartskeppers het na kripto-geldeenhede gaan kyk en die groot vraag is: Het jy dit werklik nodig? Mede-aanbieder PJ Botha beantwoord jou vrae.

“Toe ek die eerste keer gehoor het van mense wat in kripto-geldeenhede belê, was ek ietwat skepties om die minste te sê,” sê PJ Botha van Bovest. “Nie omdat ek nie in nuwe tegnologie en die gebruike daarvan glo nie, maar meer oor die rede waarom almal daarin belê. Die meeste mense wat daarin belê, doen dit oor die hoë groei wat hulle kan kry en omdat hulle glo dat die belegging nog tien keer in waarde gaan styg.”

Sodra ’n mens daai woorde hoor, dan moet jy versigtig trap, sê hy.

“Eerder as om dit dadelik af te skiet, het ek navorsing gedoen oor wat dit presies behels. Ek het nie soseer belanggestel in die praktiese werk of sy van die kripto-geldeenhede nie, maar meer oor wat dit presies is. Is dit ’n geldeenheid, ’n bate of iets anders?”

Volgens PJ is die definisie van ’n bate ’n hulpbron wat vir jou toekomstige ekonomiese waarde kan gee en dit is meetbaar. Aangesien kripto nie so meetbaar is nie en nie toekomstige inkomste gee nie, is dit moeilik om onder hierdie kategorie te plaas.

“Kripto-geldeenhede is wel ’n tipe geldeenheid, maar word nie juis vir daardie doel in hierdie stadium gebruik nie. Dit is ook nog te wisselvallig om as geldeenheid van dag tot dag te gebruik.

“Ek is van mening dat dit wel ’n bewaarder van waarde is soos goud of skilderye. Pryse styg as meer mense wil koop of vertroue het in die belegging, en die prys daal hoe meer mense dit verkoop. Daar kan dus nie ’n beleggingswaarde vandag bereken word as daar na toekomstige inkomstes gekyk word nie, maar dit word hoofsaaklik deur sentiment gedryf.”

Hy sê hulle kry gereeld die volgende vrae by kliënte: Moet hulle kripto-geldeenhede koop en hoe ’n groot deel moet dit van hulle portefeulje wees?

PJ stel voor jy oorweeg die volgede faktore voor jy koop:

  • Verstaan wat jy koop. Soos enige belegging wat jy maak, moet jy verstaan waarin jy belê en nie net koop omdat ander dit koop nie.
  • Daar is baie verskillende geldeenhede, jy moet dus goeie navorsing doen oor watse een om te koop of diversifiseer oor verskillende kripto-geldeenhede.
  • Met enige nuwe tegnologie kom daar baie “scams” uit. Gebruik ’n platform wat gereguleer is en ’n betroubare naam het voor jy jou geld daar insit.
  • Besluit hoeveel jy bereid is om te “verloor”. Aangesien dit ’n baie wisselvallige en onbekende belegging is, sal ek nie voorstel dat jy al jou spaargeld daar moet insit of geld gebruik wat jy benodig om van te leef nie. Besluit watter deel van jou portefeulje jy bereid is om mee risiko’s te waag en wat daar kan bly vir die lang termyn.

“’n Beleggingsportefeulje is ’n kombinasie van winste najaag en risiko beskerm, so dit is belangrik om nie winste na te jaag wat onrealisties is nie,” sê hy. “So, as jy besluit om in kripto-geldeenhede te belê, maak seker dit pas in by jou langtermynplan en dat dit ’n klein deel van jou algehele portefeulje uitmaak.”

PJ en Geo Botha van finansiële program Welvaartskeppers bespreek dit verder – kyk die video hier onder:

  • In die finansiële reeks Welvaartskeppers reis PJ en Geo Botha die land deur om alle moontlike strategieë van hoe mense vir hulleself welvaart kan skep te ondersoek. Welvaartskeppers word op Donderdae om 17:30 uit op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Welvaartskeppers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.