Rand beleef ’n goeie November

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto.

Die rand kan munt slaan uit gunstige buitelandse faktore en op sy galop voortgaan. Dit is egter plaaslike faktore wat die geldeenheid kan stonk, terwyl beleggers se oë vandeesweek op die land se ekonomiese groeisyfers van die derde kwartaal sal wees.

Dit is die mening van Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, wat glo die rand kan nog verder baat vind by verskeie eksterne faktore.

Volgens Bloomberg het die geldeenheid sy beste November in 30 jaar gehad. Dit het ook sy beste maandelikse winste vir 2018 in November getoon. Die rand het in November met 8,1% teenoor die Amerikaanse dollar verbeter. Dit teenoor die styging van 9,1% wat in November 1988 bereik is.

Die geldeenheid het in sewe jaar oor die afgelope tien (jaar) swakker vertoon op valutamarkte. Dit het verlede week tot sy beste vlak in vier maande teenoor die dollar verstewig.

Die faktore waarna Roodt verwys, sluit in ’n afname in die handelsoorlogretoriek van die Amerikaanse president Donald Trump met verskeie lande, insluitend China.

Amerika het ook ’n nuwe ooreenkoms saam met Meksiko en Kanada gesluit. Dit is deel van die Noord-Amerikaanse handelsooreenkoms.

Roodt wys daarop dat die rand ook asem geskep het nadat die Amerikaanse Federale Reserweraad aangekondig het dat hy nie rentekoerse so aggressief gaan benader soos aanvanklik verwag is nie.

“Nie net die rand nie, maar verskeie ontluikende valuta het hierby baatgevind,” sê hy.

Volgens Roodt kan kommer oor die land se ekonomiese groei die rand egter pootjie. Hy sê die ekonomie kort stukrag en dit bly in gebreke om sy kop te lig.

Hy het ook sy kommer uitgepreek oor die aanloop tot volgende jaar se verkiesing. Hy sê politieke woelinge kan ook die randwisselkoers beduiwel.

Maar Roodt se grootste kopseer is dat die land waarskynlik (weer) afgradeer kan word tot rommelstatus. Moody’s Investor Service het die land op beleggingstatus. Moody’s het egter aangedui dat hy ná die begroting ’n beslissing oor die land se kredietstatus sal lewer.

Die twee ander graderingsmaatskappye, Fitch en Standard & Poor’s Global het die land reeds op rommelstatus. Dus, sou Moody’s ’n negatiewe gradering gee, kan dit die rand hard slaan sê Roodt.

Hy waarsku dat dit onmiddellik tot groot kapitaaluitvloeie kan lei.

S&P het sowat twee weke gelede in sy jongste verklaring oor Suid-Afrika sy vooruitsig stabiel gehou en ook te kenne dat hy tot ná die begroting wag om ’n beslissing oor die kredietgradering te gee. Hy het egter opgemerk dat daar verskeie positiewe stappe in die land geneem is om die ekonomie aan die gang te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alleman ·

Ek wonder dikwels oor hoe voorspoed regtig die gewone mens raak. D8e mens wat sukkel om met sy salaris alles betaal te kry wat betaal moet word. Dan wonder ek ook oor die groot mynhuise en die korporatiewe sektor. Ek lees van hul base wat groot salarisse kry en bonusse. Maar wat van die gewone mens? Kan die gewone mens nie maar ook deel in hierdie ‘galop’ nie? Dis die gewone werknemer wat eerste sy werk verloor wanneer dit sleg gaan. En wanneer dit goed gaan is dit die ‘direkteure’ wat bonusse ontvang wat geen gewone mens in ‘n leeftyd ontvang nie. Ek wonder hieroor. Een of ander tyd gaan gewone mense nie dit meer aanvaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.