Al die wat, waar en hoekoms van skuldberading

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Towfiqu Barbhuiya / Unsplash)

Vele Suid-Afrikaners het, veral gedurende die afgelope twee jaar, die harde werklikheid ervaar om bloot nie in staat te wees om skuld te vereffen nie. Die gevoel van mislukking is onafwendbaar en wanneer dit werklik voel of daar net geen uitkoms meer is nie, kan dit rampspoedige gevolge hê.

Pharos se Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe verduidelik “berading” as die professionele, terapeutiese proses waartydens ʼn deskundige op ʼn ondersteunende, nie-veroordelende en adviserende wyse optree ten einde probleme op te los. Koppel jy dan die woord “skuld” aan hierdie definisie, kom jy presies by die betekenis van “skuldberading” uit.

“Die Nasionale Kredietwet (NK) skep ruimte vir skuldberading en met Kruger Wilkens Prokureurs, ons regsfirma met twintig jaar se ondervinding in skuldherstrukturering, roem ons op die betroubare en professionele diens wat ons aan elke kliënt lewer,” sê Martheli Kruger, DebtHealth se prokureur-skuldberader wat al sedert 2004 praktiseer. “Ons firma is klein genoeg om saam met jou hierdie persoonlike pad te kan stap sodat jy weer die lewe in die oë kan kyk, in ʼn gesonde finansiële posisie en skuldvry kan wees. Ons werk met mense van vlees en bloed, nie net met syfers nie.”

Persone wat ʼn vaste inkomste verdien en nie alle skuld (voortspruitend uit kredietooreenkomste) betyds of ten volle kan terugbetaal nie, kan aansoek om skuldberading doen. Volgens hierdie proses dien ʼn skuldberader namens die kliënt ʼn aansoek by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) in. Die kliënt se krediteure word dadelik van die skuldberadingsproses verwittig en onderhandel van nou af slegs direk met die skuldberader en nie meer met die kliënt self nie.

“Ons onderhandel dan met die kliënt se krediteure om ʼn nuwe betalingsplan en besonderhede rondom terugbetalings uit te werk. Die doel is om laer rentekoerse te onderhandel en om laer maandelikse paaiemente te bewerkstellig. Ons bepaal ook die kliënt se maandelikse lewenskostes en verseker dan dat die nuwe bedrag wat ná onderhandeling terugbetaal moet word wél bereikbaar is, terwyl lopende lewenskostes steeds ʼn werklikheid bly. Die kliënt betaal dan hierdie enkele bedrag as maandelikse paaiement aan ʼn geakkrediteerde instelling wat die betalingsverdeling aan krediteure volgens die nuwe betalingsplan beheer. Hierdie ooreenkoms is bindend op die kliënt en krediteur,” verduidelik Drini Oosthuizen, DebtHealth se ghoeroe as dit by skuldberading kom. Sy is ook die persoon met wie kliënte direk skakel wanneer hulle vir skuldberading aansoek doen.

Die skuldberader staan die kliënt by deur die hele proses (wat tot 60 maande kan duur) tot alle skuld vereffen is. Wanneer alle skuld vereffen is, reik die skuldberader ʼn uitklaringsertifikaat uit en stel dan die krediteure en kredietburo in kennis dat die kliënt se kredietrekord herstel kan word.

Nog woorde wat in dieselfde asem as skuldberading gebruik word, is skuldherstrukturering, skuldhersiening en skuldkonsolidasie. Tydens die proses van skuldberading word rente op al die individuele rekeninge heronderhandel wat  ʼn noemenswaardige rentebesparing tot gevolg kan hê.

“Daar word gereeld in advertensies oor skuldberading genoem dat jou skuld ‘afgeskryf’ word. Dit is inderwaarheid nie moontlik nie. Ons kon onlangs ʼn kliënt help om sy rentekoers vanaf 20,25% na 0,81% te verminder,” vertel Oosthuizen. “Hierdie kliënt het oor ʼn vyfjaartydperk ʼn bedrag van R340 000 op rente gespaar. Weens ons heronderhandelinge oor rente is daar na regte ʼn groot deel van sy skuld ‘afgeskryf’, maar dit verwys na die rente wat hy gespaar het en nie die uitstaande kapitale bedrag waarvoor hy steeds 100% verantwoordelik is nie.”

Mits daar nie reeds vooraf prosesse aan die gang was nie en mits jy by die betalingsvoorwaardes hou, kan jy nie van jou bates verloor of op die swartlys geplaas word terwyl jy besig is met die skuldberadingsproses nie. Jy kan ook nie aansoek doen vir krediet voordat jy eers die skuldberadingsproses suksesvol voltooi het nie.

“Waak teen bemarkingsfoefies wat jou vertel dat skuldberaders jou skuld kan laat verdwyn. Onthou dat alles wat te goed klink om waar te wees, gewoonlik inderdaad nie waar is nie. Skuldkonsolidasie is nie skuldkansellasie nie,” waarsku Kruger.

As jy meer oor skuldberading te wete wil kom, kontak DebtHealth by 060 366 7889, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek hulle webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MARELIZE ·

Dié ding het my nog altyd aan die wonder. Daar is skaars geld om die skuldeisers te betaal, nou kom net nóg een by…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.