Is jou finansiële adviseur sy sout werd?

Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth (Foto verskaf)

ʼn Adviseur word omskryf as ʼn persoon wat advies gee op ʼn spesifieke gebied en dus, soos die naam impliseer, gee ʼn finansiële adviseur raad op die gebied van finansies. ʼn Finansiële adviseur stel hom- of haarself ten doel om ʼn kliënt se behoeftes te ontleed en om dan, met inagneming van die behoeftes, ʼn finansiële plan of oplossing saam te stel en voor te lê aan die kliënt.

Tradisioneel gee finansiële adviseurs advies op menige velde soos byvoorbeeld lewensversekering, korttermynversekering en mediese fondse, maar in baie gevalle word beleggings oorgesien en skort adviseurs kundigheid op die gebied. Dit gebeur gereeld, veral wat betref gestruktureerde fondse, dat beleggings aan ʼn fondsbestuurder oorgelaat word, en die adviseur is nie eers betrokke by die beleggingskeuses of die onderliggende fonds se struktuur of aankope nie.

Dit laat ʼn mens wonder of adviseurs te veel vertroue plaas in fondsbestuurders en tradisionele platforms. Oor die laaste vyf jaar het die plaaslike indeks, die Johannesburgse Effektebeurs, groeivolume van 35% opgelewer, of skamele groei van 7% per jaar. In ʼn land met inflasie van ongeveer 6% is 7%-groei net doodeenvoudig nie goed genoeg nie en het dit tot gevolg dat beleggers hulleself bankrot spaar onder die dekmantel van “advies”. Kundige adviseurs sal toesien dat hulle kliënte se swaarverdiende geld belê is in ʼn verskeidenheid hoëgewig kommoditeitsaandele en gestruktureerde fondse wat groei van tot 80% – 100%  kan oplewer oor ʼn periode van vyf jaar. Die kundige adviseur sal ook indeksfondse, beursverhandelde fondse en platforms oorweeg wat groei van tussen 100% en 150% oplewer op oorsese platforms.

Die normale Suid-Afrikaanse belegger het nie genoegsame kennis, en kry nie die kundige advies om sy of haar portefeulje elke vyf tot sewe jaar te verdubbel nie. Talle Suid-Afrikaanse beleggers maak finansiële besluite gebaseer op die raad van adviseurs, maar in baie gevalle trek beleggers juis swaar as gevolg van onkundige advies. Kliënte moet nie huiwer om vir hulle adviseurs ongemaklike vrae te vra nie en moet nie huiwer om ʼn tweede mening in te win nie.

Die kern van die saak is dat jy moet verseker dat jou swaarverdiende kapitaal toevertrou word aan ʼn kundige adviseur wat sy sout werd is. ʼn Mens besoek tog nie ʼn veearts as jy griep het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Die ou skoolstelsel het mens nie met “life skills” toegerus nie. Goed soos motorbestuurslisensies en om met jou geld te werk is nie aangebied nie. Ek dink die huidige skoolstelsel is selfs swakker. Hierdie vaardighede moet mens maar self aanleer. Meeste mense doen dit nie en pluk die wrange vrugte in die herfsfase van hulle lewens. Dus, moenie net op ander (soos ‘n CFP) vertrou nie, jy is beslis nie klaar met leer die dag as jy skool/ kollege/ universiteit verlaat nie. Inteendeel, jou leerproses het regtig nou eers begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.