Oor die rand en sent van troubeplanning

Foto: Free-Photos/Pixabay

Om te trou is ʼn finansiële uitdaging, maar is dit regtig nodig dat jy jou in die skuld dompel? Nie noodwendig nie.

Maroela Media deel gedurende die volgende paar weke allerlei trouwenke en sakpas idees vir julle spesiale dag. In dié artikel word praktiese riglyne vir die troubegroting en uitgawes gedeel.

Stel ʼn begroting op

Die eerste stap van troubeplanning is om ʼn deeglike begroting op te stel. Weet wat julle finansiële vermoë is en beplan daarvolgens.

Dit is ook belangrik dat enige persoon wat help betaal, hetsy dit ouers, vriende of borge is, óók tydens die beplanningsessie geraadpleeg word.

Hou die volgende faktore in gedagte wanneer julle die beplanning doen:

  • Troudatum: Winter-, oggend- of weeksdagtroues is aansienlik goedkoper as troues wat in die somer of op ʼn Saterdagaand plaasvind. Die begroting sal ook bepaal hoe vinnig julle kan trou.
  • Aantal gaste: Hoe meer gaste jy nooi, hoe duurder gaan die troue wees. Indien dit nie moontlik is om die gastelys te verminder nie (daar is dalk baie familielede wat genooi moet word), oorweeg dan ʼn ander troudatum of ʼn goedkoper venue.
  • Venue: Die venue word deur die begroting, aantal gaste en gebied beïnvloed. Maak seker van die grootte van die venue en aantal gaste waarvoor daar plek is. Vind ook vroegtydig uit watter dienste by die venue se pakket ingesluit word. Al hoe meer venues bied deesdae allesomvattende pakkette waarby diensverskaffers ook ingereken word.

Hou Maroela Media se trouwenke dop vir meer inligting oor venues, die gastelys en diensverskaffers.

Foto: Mcmike/Pixabay

Prioritiseer die uitgawes

Maak ʼn lys van al die uitgawes en begin dan om dit in orde van belangrikheid te rangskik. Op dié manier is dit makliker om faktore te identifiseer waarop julle nié geld wil uitgee nie.

Al hoe meer bruide verkies om nie geld aan gastegeskenke, oordadige troukoeke of handgemaakte uitnodigings te bestee nie. Digitale uitnodigings kan self ontwerp en per WhatsApp aangestuur word, terwyl troukoeke toenemend met byderwetse idees soos oliebolle en kolwyntjies vervang word.

Om in jou eie trourok of -pak by die paadjie af te stap is ʼn ideale prentjie, maar om jou uitrusting te huur kan ʼn groot verskil in die begroting maak. Jy gaan dit in elk geval dalk nie wéér dra nie.

Wenk: Raadpleeg gerus dié begrotingstruktuur tydens julle beplanning:

  • Beligting (3%)
  • Blomme en dekor (12%)
  • Bykomende uitgawes (5%)
  • Foto- en videograaf (12%)
  • Hare en grimering (2%)
  • Onthaal en seremonie (17%)
  • Predikant en huwelikskontrak (3%)
  • Skryfbehoeftes (2%)
  • Voedsel en drank (24%)
  • Troukoek (1%)
  • Trourok en -pak (10%)
  • Vermaak en musiek (7%)
  • Vervoer en verblyf (2%)

Dié raamwerk sal nie vir alle bruidspare werk nie, maar dit kan beslis volgens elkeen se eie behoeftes aangepas word.

Foto: Nattanan Kanchanaprat/Pixabay

Doen deeglike huiswerk

Deel van die begrotingsaspek is om deeglik navorsing oor diensverskaffers te doen. Wees geduldig en neem tyd om soveel moontlik kwotasies aan te vra.

Waak daarteen om diensverskaffers te nader wat ooglopend buite julle vermoë is. Maak seker die verskaffer wat genader word se diens, styl en gehalte strook wel met alles wat jy en jou aanstaande in gedagte het. Indien julle reeds op ʼn troudatum besluit het, maak éérs seker of die verskaffer nog op daardie dag beskikbaar is.

Wees ontvanklik vir voorstelle

Die doel met ʼn troubegroting is juis om te verhoed dat julle agterna in hope skuld gedompel is. Dit vorm dus ʼn riglyn wat jou en jou aanstaande se besluite deurgaans sal lei, al is dit ongemaklik of buite die aanvanklike verwagting.

Wees dus voorbereid daarop om alternatiewe opsies wat binne die begroting pas te oorweeg. Blomme wat buite seisoen is, fynproewersdisse op die spyskaart en swierige venues vorm dalk deel van jou ideale prentjie, maar dit is nie die enigste opsie waaruit jy kan kies nie.

Dink nugter oor die saak en waak daarteen om in die spesifieke oomblik ʼn impulsiewe besluit te neem. Wees ontvanklik vir diensverskaffers se voorstelle – hulle werk daagliks daarmee en is deeglik bewus van style, neigings en beproefde idees wat werk.

Foto: William Iven/Pixabay

Hersien die begroting

Sorg dat die begroting voortdurend bygewerk word namate diensverskaffers bevestig word.

Dit mag dalk nodig wees om aanpassings te maak waar spesiale pryse vir pakkette beding is, óf waar ʼn diens as geskenk aangebied is.

ʼn Uitspattige troue waaroor almal agterna maande lank nog praat, klink soos ʼn droom. Maar wanneer die ophef bedaar, wil jy en jou aanstaande nié gebuk gaan onder duisende rande skuld wat julle in die toekoms kan kelder nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Ons en ons kinders was baie gelukkig om sonder skuld te kon trou, my skoondogter het n jaar aan die troue gewerk en sy het ook van “Black Friday” specials gebruik gemaak daar is baie besparings op so n dag. En ons het die mooiste komplimente gekry iemand het selfs gese dit lyk soos n Top Billing troue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.