Takseer jou outo-aanslag deeglik

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Die belastingseisoen het amptelik op 7 Julie afgeskop, maar talle belastingpligtiges het reeds sedert 1 Julie SMS’e oor outomatiese assesserings van hul belastingsake begin ontvang. Hoe gemaak met dié onverwagse meevallertjie wat in jou rekening beland het óf die bedrag geld waarvoor jy jou sak sal moet skud? Moet jy dit sommerso aanvaar?

Hokaai voordat jy ʼn eksotiese eilandvakansie met jou terugbetaling van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bespreek, waarsku Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth.

“Sommige belastingbetalers was nie eens bewus dat hulle outomaties geassesseer is nie, of het (nog) nie die geleentheid gehad om veranderings aan hul belastingopgawes aan te bring nie. Mense wat outomaties geassesseer word, moet dit nie net gelate aanvaar nie, aangesien jy jou volle terugbetaling kan verloor of selfs glad nie ʼn terugbetaling kan ontvang nie, al is jy geregtig daarop.

“Indien jy outomaties geassesseer is en ʼn terugbetaling ontvang het voor enige veranderings aangebring kon word, kan ʼn belastingopgawe steeds tot Maandag 23 Oktober ingedien word indien daar bykomende inligting is wat bygewerk en in ag geneem moet word. Dit is raadsaam om enige terugbetaling eenkant te hou totdat jou gewysigde opgawe verwerk is,” sê Van Zyl.

Hoekom moet jy mooi kyk?

Volgens Van Zyl is die self-indiening of nagaan van jou belastingopgawe, outomatiese assessering ten spyt, belangrik om te verseker dat alle aftrekkings wel deur die SAID in berekening gebring is. “Die outomatiese assesserings sluit byvoorbeeld nie enige bykomende toelaatbare belastingaftrekkings soos addisionele mediese uitgawes, skenkings, tuiskantoor- of reistoelae-aftrekkings in nie.

“Die risiko om ʼn assessering bloot te aanvaar, beteken dat jy moontlik minder geld terugkry as wat jy veronderstel is om te ontvang. Die ander kant van die munt is die kans dat sommige aftrekkings, soos bykomende inkomste (soos huurinkomste), dalk nie verklaar is nie. Dié weglating kan meebring dat jy later daarvoor aangeslaan of gepenaliseer gaan word.”

Jaco Mostert, finansiële raadgewer van Solidariteit Finansiële Dienste, stem saam en meen kundige raad kan die meer as 2,5 miljoen mense wat 84% van alle persoonlike inkomstebelasting in Suid-Afrika betaal, help om munt te slaan uit maniere om hul belastinglas te verlig en hulle kans op ʼn terugbetaling te vergroot.

“Dit is veral raadsaam om derdeparty-inligting vir akkuraatheid na te gaan. Die SAID gebruik die data wat hy van verskeie instansies ontvang om te bepaal wie vir outomatiese assessering kwalifiseer. Die data kom onder meer van werkgewers en finansiële instellings soos mediese fondse. Eindelik rus die verantwoordelikheid op die belastingpligtige se skouers om te verseker dat al die inligting 100% akkuraat is.”

Belastingbetalers het verlede jaar 40 werkdae gehad om ʼn opgawe in te dien as hulle nie met hul outomatiese aanslag tevrede was nie. Vanjaar het die SAID dié sperdatum tot 23 Oktober 2023 verleng. Voorlopige belastingbetalers het op hul beurt tot 24 Januarie 2024 om hul belastingsake in orde te kry.

Maak só met jou outomatiese aanslag

(Foto: iStock)

As jy met die outomatiese assessering saamstem:

  • Geen verdere optrede is nodig nie.
  • As die SAID jóú geld skuld, kan jy dit binne ongeveer 72 uur verwag, mits jou bankbesonderhede by die SAID korrek is.
  • As jy die SAID geld skuld, moet dit betaal word voor die datum wat op jou aanslagkennisgewing (ITA34) aangedui word om rente wat hierop gehef word, te vermy.
  • Jy kan dié betaling met eFiling of die SAID se mobiele toepassing

As jy nie met die outomatiese assessering saamstem nie:

  • Jy het tot 23 Oktober 2023 tyd om jou opgawe deur eFiling of die SAID se mobiele toepassing te wysig en in te dien indien jy nie met die outomatiese aanslag saamstem nie.
  • Slegs individue wat outomaties geassesseer is, sal ʼn SMS of e-pos ontvang, aldus die SAID. Indien jy nie ʼn kennisgewing van die SAID hieroor ontvang het nie, moet jy jou persoonlike inkomstebelastingopgawe (self) indien.
  • Indien jy nie jou opgawe aanlyn kan indien nie, moet jy ʼn afspraak maak om ʼn SAID-tak te besoek.

Wie moet ʼn opgawe indien?

  • Individue wat tussen 1 Maart 2022 en 28 Februarie 2023 meer as R91 250 verdien het en jonger as 65 jaar is.
  • Individue tussen die ouderdom 65 en 75 jaar wat in dié tydperk meer as R141 250 verdien het.
  • Individue wat 75 jaar en ouer is wat meer as R157 900 verdien het.

Kry dié dokumente in orde

  • IRP5 of IT3(a) – inkomste verdien;
  • Mediesefondssertifikaat;
  • Aftree-annuïteit-bydraesertifikaat;
  • IT3(b) – rente verdien (byvoorbeeld op ʼn geldmarkbelegging);
  • IT3(c) – om ʼn kapitaalwins of -verlies te toon (byvoorbeeld by die verkoop van aandele); en
  • Ritboek (logboek), spesifiek vir werkgewers wat ʼn reistoelaag ontvang.

Eis wat jou toekom

Volgens Van Zyl is belastingbetalers keelvol vir korrupsie, die misbruik van hul belastinggeld en die regering wat dink belastingbetalers is ʼn koei wat net aanhou gemelk kan word.

“Belastingbetalers moet maandeliks toekyk hoe ʼn groot gedeelte van hul hardverdiende geld deur die regering gevat word en in ruil daarvoor kry hul geen of swak dienste terwyl daar amper daagliks berigte is van hoe belastinggeld gesteel of vermors word. Dit is dus net reg van belastingbetalers om te verseker dat hulle moontlike vergunnings benut en nie meer betaal as wat nodig is nie.

“Net soos dit elke belastingbetaler se plig is om te verseker dat hul belastingopgawe alle inkomstes en uitgawes akkuraat weerspieël, moet hulle ook seker maak of hulle nie moontlik ʼn terugbetaling moet ontvang omdat hulle te veel betaal het of vir kortings kwalifiseer nie,” sê hy.

Die SAID het in die 2022-belastingjaar meer as 3 miljoen outomatiese assesserings van nievoorlopige belastingbetalers se opgawes gedoen. Vir die tydperk tot 31 Maart 2022 het die SAID ʼn bruto bedrag van R1 884,9 miljard ingevorder. Ná terugbetalings van R321,1 miljard het die inkomstediens se netto-invorderingsbedrag op R1 563,8 miljard te staan gekom. Sedert die SAID se ontstaan in Oktober 1997, het hy altesaam R17,8 biljoen (trillion) in belastinggeld geïn.

  • Besoek die SAID-webwerf indien jy onseker oor jou belastingsake is. Skakel SFD by 0861 101 005 of besoek Everest Wealth se webwerf indien jy ʼn kundige se hulp benodig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.