Verbruikersake: Versekeringsombudsman kry miljoene terug

versekering-motors-huis-lewens

(Foto: Kalhh/Pixabay)

Die Versekeringsombudsman het seker gemaak dat verbruikers R300 miljoen terugkry en in die proses meer klagtes opgelos as in 2019, volgens sy jaarverslag wat vandeesweek bekendgestel is. Volgens die verslag het die kantoor van die Ombudsman vir Korttermynversekering (Osti) terugbetalings met ’n totaal van R119 548 901.55 aan verbruikers bewerkstellig, terwyl die kantoor van die Ombudsman vir Langtermynversekering (Olti) R177,9 miljoen teruggekry het vir verbruikers. Ina Opperman het gaan kyk wat die syfers verder wys.

Dit is die eerste keer dat die jaarverslae van die twee ombudskantore vir versekering saamgevoeg is sedert die twee kantore saamgesmelt het.

Langtermynversekering

Olti het 14 198 geskrewe klagtes vir hulp ontvang in 2020 (11 915 in 2019) en altesaam 6 512 opgelos, wat 3 624 sake insluit wat afgehandel is en waarvan 31,73% heeltemal of gedeeltelik tot die verbruiker se voordeel beslis is.

Die meeste klagtes het gehandel oor eise wat geweier is (50% teenoor 47% in 2019). Olti het 456 klagtes ontvang wat direk verband gehou het met Covid-19 of die inperking, waarvan 36% gehandel het oor kredietlewensvoordele wat hoofsaaklik verband gehou het met afleggings en die onvermoë om ’n inkomste te verdien. In 2019 het hierdie klagtes net 9% van klagtes opgemaak.

Die ombudsman het 164 klagtes ontvang oor kredietlewensversekering, 12 vir ongeskiktheidsversekering, 111 oor begrafnispolisse, 134 oor lewensversekering en 31 oor mediese versekering. Baie polisse het ook verval omdat verbruikers nie kon byhou om hul premies te betaal nie.

Korttermynversekering

Osti het 11 095 nuwe klagtes ontvang wat 7% meer was as in 2019 en het 10 805 klagtes opgelos, 17,9% meer as in 2019. Die ombudsman het 786 (7%) klagtes ontvang wat direk verband hou met Covid-19, met 562 klagtes oor sakeonderbrekingsversekering en 224 oor reisversekering.

Die meeste klagtes het gehandel oor voertuigversekering (36%), gevolg deur huiseienaarsversekering (21%), handelsversekering (14%) en huishoudelike inhoud (5%). Die res van die klagtes (24%) het gehandel oor ander soorte dekking en algemene navrae oor polisse.

Covid-19

Die landwye inperking en regeringsregulasies om die verspreiding van die koronavirus te keer, het ook op korttermynversekering ’n invloed gehad, soos mens kan sien uit die getal klagtes oor voertuigversekering, wat 12% minder was as in 2019, die laagste die afgelope vyf jaar. Klagtes oor handelsversekering het egter met 5% gestyg, soos mense veral oor sakeonderbrekingsversekering gekla het.

Van die klagtes oor sakeonderbrekingsversekering het verband gehou met uitgebreide sakeonderbrekingsdekking vir aansteeklike siektes, waar die groot vraag was of dit die regering se verpligte inperking was wat die onderbreking veroorsaak het, of Covid-19. Op die ou end is R5 490 182,16 uitbetaal aan ondernemings vir sakeonderbrekingseise danksy die tussentydse betalingshulpooreenkoms tussen die bedryf en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor.

Die meeste van die klagtes oor huiseienaarsversekering (47%) het gehandel oor die afwysing van eise gegrond op uitsluitings op polisse wat verband hou met foutiewe ontwerp, konstruksie of vakmanskap, slytasie en gebou-onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.