Dit was die hoogtepunt van haar matriekjaar toe sy die reuse- pienk teddiebeer met sy abnormaal groot flapore en ronde swart oë in die eerste kwartaal by ʼn dierbare klasmaat gekry het. Deur haar matriekjaar het hierdie teddiebeer op haar bed in stilte al die uitdagings van matrikulant-wees aanskou.
Nadat hulle dogtertjie gebore is, het die teddiebeer ʼn plek op die dogtertjie se bed gekry.
Verlede week het hulle dogter haar kamer reggepak en weggepak om universiteit toe te gaan. Daar is soveel items weggegee en weggegooi dat daar net ʼn handjievol kosbaarhede en noodsaaklikhede in haar kamer oorgebly het. Die pienk teddiebeer was een van die min items wat gehou is.
Die ma het heimlik gewonder wat die teddiebeer sou kwytraak as hy skielik sou kon praat.
Ná drie dekades is sy lyf al plat van al die kere wat hy as ʼn kussing gebruik is, maar sy flapore en groot swart oë lyk nog dieselfde. Sy staan verstom oor die hoeveelheid wasse wat hy oorleef het.
Met haar dogter se kamer skielik onbekend leeg, was die teddiebeer, nou weer gewas, een van die min bekende dinge in die vertrek.
Die dogter het die teddiebeer opgetel en hom aangestaar. Sy het hom laggend vertel dat hy al op soveel plekke en in soveel provinsies gebly het, maar dat hy ongelukkig nie nou mag saamgaan universiteit toe nie. Sy het hom egter belowe dat, wanneer sy weet hoe dinge werk en as daar vir hom plek in haar koshuiskamer is, sy hom sal kom haal.
Sy het hom versigtig op haar bed teruggesit en met ʼn breë glimlag na haar ma gekyk. “Wie weet, dalk sit hy eendag iewers in my dogter se kamer terwyl sy matriek skryf.”
- Die rubriek is oorspronklik in Noordkaap gepubliseer en met die nodige toestemming op Maroela Media geplaas.