Christelike ensiklopedie nou ook aanlyn beskikbaar

Dr. Frits Gaum (Foto: Johan Kotze / NG gemeente Rondebosch)

Die Christelike Kernensiklopedie (CKE), wat in 2008 deur Lux Verbi in samewerking met Bybel Media gepubliseer is, is nou ook in elektroniese formaat beskikbaar.

Dit is die eerste aanlyn Christelike ensiklopedie en eiesoortig, juis omdat dit van meet af aan in Afrikaans uitgegee is. In 2009 is die gedrukte publikasie deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met die Pieter van Drimmelen-medalje vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur op die gebied van die godsdiens.

“Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (CKE) is ʼn verbeterde, bygewerkte en aangevulde weergawe van die boek,” vertel Frits Gaum, eCKE se hoofredakteur en oudredakteur van die NG Kerk se amptelike mondstuk, Kerkbode. “Dié ensiklopedie poog om ʼn sleutel te wees waarmee jy God, sy Woord, sy kerk, die wêreld, die geskiedenis, jou land, jou geloof en jouself ʼn bietjie beter kan verstaan.”

Ongeveer 160 medewerkers, wat plaaslike en internasionale teoloë, sielkundiges, letterkundiges en historici insluit, het bygedra tot die versameling. Nagenoeg 3 500 lemmas oftewel trefwoorde met kort artikels, honderde foto’s en ʼn aantal sketse vorm deel van die inhoud.

Medewerkers is verbonde aan verskillende kerke binne die Christelike godsdiens – van Katoliek tot Protestants, van Anglikaans tot gereformeerd tot Pinkster. Die fokus van die ensiklopedie is egter hoofsaaklik Protestants-gereformeerd.

Hoofmedewerkers sluit in Louis Jonker en Lisel Joubert, Bernard Combrink, Pieter Potgieter, Etienne de Villiers, Hoffie Hofmeyr, Julian Muller en Ian Nell, Piet Meiring en Gideon van der Watt, asook Neels Jackson.

Hoewel Suid-Afrika die kern van besprekings uitmaak, kan dit en die Christelike geloof egter nooit in isolasie van Afrika en die res van die wêreld gesien word nie. Daarom word die Christendom in die res van ons kontinent en ander dele van die wêreld ook betrek.

Gaum vertel dat gebruikers allerlei onderwerpe rakende die Christelike geloof hier sal vind.

“Wie in die eCKE delf, vind hierin die verhaal van die Christelike geloof van aanvang tot hede en die verskillende stromings, gedagterigtings, kerk- en algemeen-historiese gebeurtenisse wat ʼn blywende invloed op die Christendom gehad het.” Talle Bybelse en kerklike woorde en begrippe word ook verduidelik.

eCKE skep die geleentheid vir die leek én kundiges om ʼn bydrae te lewer.

“Toekomstige aanvullings ís moontlik,” verduidelik Gaum. “Alle gebruikers van die platform word uitgenooi om hulle kommentaar onderaan lemmas te tik en byvoegings voor te stel wat oorweeg sal word.”

Die bydrae van indiwidue en groeperings word dus voortdurend in oorweging gebring. Danksy dié insette van gebruikers word die eCKE in staat gestel om voortdurend te groei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Nee skuus, stel nie belang om te sien nie.
Muller bv erken nie eers die Bybel as hoogste Gesag nie, glo in slegs ‘n metaforiese opstanding, nou help hy om ‘n ensiklopedie saam te stel???
Gaum ken ons almal, die res ken ek nie.

Cauin ·

Jip . Voor jy n boek lees , kyk wie is die skrywer . Hier kan die opregte Bybelstudent maar hou by Engels en die oorspronklike tale .Die ‘ boys en hul borge moet nou voorbrand maak want mense begin self die Woord buite kerkbeleid ondersoek . Onthou ook – n Commentary is iemand se kommentaar !

Pieter ·

Neels Jackson, Julian Muller, Fritz Gaum, Piet Meiring; kan niks lees van mense wat Jesus Christus as die ENIGSTE ware God wil rasionaliseer, die maagdelike geboorte wil debateer, o.a – bly weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.