Die Hoërskool Menlopark staan op die drumpel van ʼn nuwe avontuur

(Foto verskaf deur Die Hoërskool Menlopark)

Die Hoërskool Menlopark vier hierdie jaar sy 60ste bestaansjaar en kyk met dankbaarheid terug oor ses dekades van uitnemendheid op vele terreine.

Akademies voer Menlopark die botoon en is male sonder tal bevestig as enig in sy soort wanneer dit by akademiese uitbou, begeleiding van leerder en prestasie kom. Die Menlo-personeel werk nog altyd op ʼn uitsonderlike manier met die leerders om elkeen te begelei om sy of haar heel beste te doen.

Die Hoërskool Menlopark se matriekuitslae plaas die skool elke jaar onder die topdrie skole in Gauteng en in Suid-Afrika. In 2022 lewer die matrieks meer as drie onderskeidings per kandidaat en maak Menlopark opslae met landswye topprestasies in Wiskunde, Afrikaans, Rekeningkunde en Fisies Wetenskappe!

By Menlo werk seuns en meisies skouer aan skouer. Op die sportvelde en -bane word Menlo deur topatlete en sportlui verteenwoordig, puik afrigting word gebied en die ondersteuning op die pawiljoene getuig van ʼn buitengewone gees – die Menlo-gees.

Op Menlo-bodem word die volgende sportsoorte aangebied en daar is ruimte vir elkeen om deel van ʼn sportsoort te wees: atletiek, landloop, hokkie, rugby, netbal, tennis, krieket, fietsry, skaak, perdry, swem, muurbal en gholf. Die Menlo-sportvelde is elke dag ʼn miernes van bedrywighede.

(Foto verskaf deur Die Hoërskool Menlopark)

Doen jy jouself die guns om Menlo-kultuur van naderby te beskou, vind jy wye deelname en uitsonderlike prestasies wat hand aan hand stap.

Die Menlo-koor is weer aangewys as die beste gemengde skoolkoor – selfs in Europa! Die revue, redenaars, debat, orkes, ensemble, musiek en drama vul die verhoë met vreugde en ontvang gereeld ʼn staande applous van die beoordelaars reg oor die land.

Op die drumpel van 2024 is daar ʼn borreling van entoesiasme en vreugde op die stoepe en klasse. Daar word ʼn buitelug-amfiteater gebou en die gras op die atletiekveld word vervang met ʼn helderblou tartanbaan om as eggo te dien vir die blitsige blou astro wat al ʼn geruime tyd deel van die Menlo-kampus is.

(Foto verskaf deur Die Hoërskool Menlopark)

Die skool sluit ook hierdie jaar ʼn hoofstuk af met ons hoof, mnr. Reynders, wat aan die einde van die jaar aftree. Die skool nooi aspirantkandidate uit om aansoek vir hierdie uitsonderlike pos te doen. Belangstellendes kan die volgende kriteria besigtig:

Eienskappe:

  • Kritiese en strategiese en innoverende denke
  • Goeie menseverhoudinge en uitstekende kommunikasie
  • Goeie spreker en motiveerder
  • Lojaal, vriendelik en toeganklik vir leerders, personeel en ouers

Ervaring en kennis:

  • Bestuur van personeel en die finansies van ʼn instansie soos die skool
  • Kennis van die Suid-Afrikaanse Skolewet en Grondwet
  • Toepaslike kwalifikasies en registrasie by SACE
  • Verstaan die werking van ʼn instansie soos Die Hoërskool Menlopark

Verantwoordelikhede:

  • Navigeer die rigting van die skool met visie
  • Implementeer veranderinge
  • Handhaaf goeie betrekkinge met die gemeenskap en die media
  • Skep ʼn atmosfeer waarin personeel en leerders kan floreer
  • Hou die beheerliggaam op hoogte van sake

Besoek gerus menlopark.co.za of @AbsolutMenlo op Facebook vir meer inligting oor die skoolhoofpos wat geadverteer word of vir algemene inligtling oor die skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.