Die Voortrekkers se wigvormige hartbeeshuis: ʼn Raamwerk van die kapstylhuis

Kapstyl-hartbeeshuis-01

Figuur 1. a Die gaffelsuilkonstruksie, b die vurkondersteunde-
nokpaalkonstruksie en c die kapstylhuis (spardak). Tekening: H. Raath.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis se raamwerk vir ‘n kapstylhuis gebou het.

Deel I: Die raamwerk van die kapstylhuis

Soos in Europa het daar in Suid-Afrika drie basiese dakraamtipes by wigvormige dakhuise voorgekom, naamlik die gaffelsuilkonstruksie, die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie en die kapstylhuis (sparkapkonstruksie) (Fig. 1c). Slegs laasgenoemde konstruksie het as ʼn kapstylhuis bekend gestaan.[1]

Die kapstylhuise by Groenland, naby Kranskop in Natal, was van 3,1 tot 3,7 meter (10 tot 12 voet) breed en 6,16 tot 9,1 meter (20 tot 30 voet) lank.[2]

Volgens G.H. van Rooyen se skets in Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II het die dak uit ses kappe bestaan[3] (Fig. 2). Die huis is ongeveer 6,1 meter (20 voet) lank en die kappe 1,2 meter (4 voet) uitmekaar gespasieer. ʼn Huis van 9,1 meter (30 voet) lank, sou dus uit agt of nege kappe bestaan het.[4]

Kapstyl-hartbeeshuis-02

Figuur 2. Die kapstylhuise by Groenland, naby Kranskop in Natal.
Uit: G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II
(Bloemfontein, 1940), pp. 178-180.

Omdat ʼn kapstylhuis direk op die grond gebou is, het die grond die uitwaartse druk van die kapstyle wat in die grond ingeplant was, teengewerk. In die geval van ʼn gewone muurhuis het ʼn bindbalk die funksie verrig.

Die kapstyle (sparre) is bo paarsgewys met ʼn “pen-en-gat” verbind. Ná voltooiing van die kappe is die dwarslatte met rieme aan die kapstyle vasgemaak, waana die hanebalke aangebring is.[5] Daar is van ʼn bykomende versterking, naamlik windlatte, gebruik gemaak wat die huis teen sterk wind bestand gemaak het, vandaar die naam. ʼn Windlat is ʼn lat wat aan die binnekant van die kappe diagonaal vanaf die eerste kapstylvoet by die voorgewel oor die kapstyle tot by die laaste kapstylkop by die agtergewel strek. ʼn Tweede windlat het aan die ander sy van die huis vanaf die kapstylvoet by die agterste gewel diagonaal tot by die kapstylkop van die voorste gewel, gestrek[6] (Fig. 2). Die windlatte is, soos die dwarslatte, waarskynlik met rieme aan die kapstyle vasgemaak.

Kapstylhuise met geronde ente kom in Puntjie, distrik Riversdal, voor, waarvan die  dakkonstruksie uit agt of meer pare eweredig gespasieerde kapstyle bestaan.[7] Aanvanklik is daar van die blomstele van die garingboom (Agave americana) gebruik gemaak.[8] Tans word bloekompale uit die omgewing vir hierdie doel gebruik.[9]

Die raamwerk verskil van dié van die huise in Groenland, Natal, in dié opsig dat die geronde ente elk uit vier radiale style bestaan wat bo by die nok bymekaarkom (Fig. 3). In Walton se Cape Cottages verskyn ʼn foto van die dakraamwerk van ʼn kapstylhuis by Puntjie waarvan die raamwerk van die geronde ente uit ʼn sentrale styl bestaan wat van die grond na die nok van die laaste kap strek, met twee kortstyle aan weerskante hiervan[10] (Fig. 4). Of albei tipes konstruksie gelykertyd voorgekom het, en of die een die ander opgevolg het, is nie duidelik nie.

Dwarslatte van spaansriet (Arundo donax), wat in welige bosse groei, is horisontaal aan die kapstyle met biesietou (Cyperus textilis) vasgebind.[11] Die raamwerk is nou voltooi waarna die dakbedekking ʼn aanvang kan neem.

Bronne:

[1] J. Walton, Homes of the early South African stock farmers, Africana Notes and News (8)2, March 1951, pp. 52-53.

[2] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II (Bloemfontein, 1940), pp. 178-180.

[3] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 179.

[4] J. Walton, Homes of the early South African stock farmers, Africana Notes and News (8)2, March 1951, p. 9.

[5] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, pp. 178-179.

[6] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 179; J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

[7] Puntjie, distrik Riversdal: kapstylhuise, besoek 1990-10-12; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995), p. 61; J. Walton, Homes of the early South African stock farmers, Africana Notes and News (8)2, March 1951, pp. 8-9.

[8] Mondelinge mededeling (aan mej. R. Marais): mnr. Sullivan, Stanford, 1982; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[9] E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 61; Puntjie, distrik Riversdal: kapstylhuise, besoek 1990-10-12; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[10] J. Walton, Cape cottages, pp. 61 & 63.

[11] E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 60; Mondelinge mededeling (aan mej. R. Marais): mnr. Sullivan, Stanford, 1982; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.