Doen joga in ʼn park en help boonop diere

Greenspayoga-Thea-Opperman

Thea Opperman van GreenSpaYoga. Foto: Thea Opperman via Instagram.

Ná die sukses van haar vorige Yoga in the Park-geleentheid het Thea Opperman van GreenSpaYoga in die Pretoriase Moot besluit om dit, sover as wat die Suid-Afrikaanse weer dit toelaat, ʼn maandelikse instelling te maak.

Dié jogasessies word aangebied deur GreenSpaYoga se nie-winsgewende welsynsorganisasie Just Cause Yoga, en is van stapel gestuur om donasies in te samel ten bate van onder meer die Dierebeskermingsvereniging (DBV).

“Vandat die DBV nie meer befondsing van die staat ontvang nie, trek hulle baie swaar. Die druk en nood is ontsettend groot vir die DBV en hulle is afhanklik van donasies en bystand van die publiek,” vertel Thea geesdriftig. “Diere lê my baie na aan die hart, daarom skenk ons ook bydraes aan die Cats R Us-organisasie.”

Thea sê sy is al lank besig om op haar eie stoom die DBV te ondersteun, maar het verlede jaar die idee vir die joga in die park-geleentheid op sosiale media gekry. “’n Joga-instruktrise wat van Aruba afkomstig is, het vir my ʼn paar Facebook-uitdagings aangestuur, onder meer om my omgewing te verbeter én om behoeftige diere te help. Aangesien ek ʼn volbloed Moot-se-kind is, het die Moot se parke dadelik by my opgekom en het ek besluit om die uitdaging te aanvaar, ” gesels Thea.

“Die Moot het die mooiste parke, maar ongelukkig word dit nie ten volle onderhou nie. Ek glo ons kan met positiewe goed soos jogasessies die Moot-inwoners motiveer om die parke positief te benut en kan sodoende hulp verleen aan behoeftige en weerlose diere deur middel van donasies.”

Die volgende geleentheid word op 23 April aangebied. “Dié park het ongelukkig nie ʼn spesifieke naam nie, maar is geleë op die hoek van 33ste Laan en Combrinkstraat in Villieria, Pretoria,” sê Thea.

Die sessie begin om 08:00 en duur tot 09:00.

“Almal is welkom om net op te daag,” nooi Thea. “Bring net jou eie jogamat of kombers, gemaklike klere en water.”

Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.