‘FroueVonds’: ‘Ek het jou op jou naam geroep’

Annami Simon. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Annami Simon is ʼn proefleser en vertaler asook skrywer van kortverhale. Sy het ’n groot behoefte om aan weeskinders en/of kinderhuiskinders of aangenome mense ’n boodskap van hoop te bring aangesien sy self in ’n kinderhuis was en aangeneem is op ongeveer 18 maande. Lees meer van haar werk op haar Facebook-blad.

My eie naam…

Op my tiende verjaardag het ek my eerste grootmens-Bybel gekry. Dit was ʼn hersiene uitgawe van die 1933-vertaling. Voorin het ek my mooiste engelprentjie met outydse bottelgom geplak en self my eie naam en ʼn teksvers bygeskryf. Woorde wat steeds vir meer as 60 jaar my anker in die lewe is.

Kom ek begin voor daardie dag…

Ek het twee name. Niks ongewoons daaraan om vir ʼn kind twee name te gee nie. Behalwe as die tweede naam op ʼn Sertifikaat van Verandering van Voornaam staan.

My eerste naam en van is op 25 Maart in 1952 in ʼn onbekende hospitaal in Pretoria aan my gegee en dit was ál wat myne was die dag toe ek by ʼn weeshuis in Johannesburg afgelaai is.

Ongeveer ʼn jaar en ʼn half later het ʼn vrou met sagbruin oë my met my nr. 23749-naam en al kom haal en dit versigtig, soos ʼn pleister van ʼn stukkende knie, afgetrek en die seer daaronder teen haar hart gedruk. En toe het my nuwe mamma vir my ʼn nuwe naam gegee. ʼn Geborge woord wat ʼn stukkie van haar en ʼn stukkie van my nuwe pappa se name was – my toegangsreg tot ʼn ánder familie en ʼn ánder toekoms.

Toe ek 25 jaar oud was, het ek my eerste naam op ʼn vergeelde dokument met ʼn pers tjap op vir die heel eerste keer gesien. Vreemd, beeldloos, niksseggend. Betekenisloos. Vyf, nee tien letters (saam met my eerste van) in dowwe blou ink wat hoegenaamd niks van mý uitspel nie. Ek het dit opgevou en in my boek oor die Maria Kloppers Kinderhawe, Brandhout uit die vuur, gaan wegsteek.

My tweede naam, my nr. 45689-naam, is my regte naam. Want dit lyk soos ek. Klink soos ek. Dis mooi en familierig. Dis my gesig in ʼn foto, die woord onderaan ʼn brief. Dis die opspring van my hart as iemand dit sê. Dit pryk slim op my eerste skoolrapport en staan verantwoordelik onderaan amptelike dokumente.

My regte naam is die deur van my dinke en doene. Dis die woord waarin ek woon en droom en skep en presteer. En foute maak. Soms is dit die vyf letters waarin ek skuil, tog maak dit nie saak nie, dis steeds myne. Maar bowenal is dit die woord wat my laat uithou en aanhou en volhou.

My naam is my eerste kennismaking met liefde. En met hoop. Dis hierdie naam wat ek op my grafsteen en in die geheue van my geliefdes geskryf wil hê.

Liewe meisie, vrou, ma, tannie, ouma… uiteindelik maak dit nie saak waar jy vandaan kom, wat jy verloor het of watter naam jy het nie. Ál wat van belang is, is dat jy jóú naam voortaan met trots sal dra. Dit moet jy wees in alles wat jy dink, doen, hoop en glo.

Dra jou naam soos ʼn kroon op jou kop, liewe vrou, want “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”.

*Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak,  besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marlene ·

Hierdie “naam” boodskap van hoop het vir my baie beteken. Ek hou nie van my geboortename nie maar my “noemnaam” en dis die naam wat ek ook op genoem wil word. Want dit voel ook eerder dis wie ek is. Jy is n inspirasie vir baie ander vroue. Dankie dat jy dit gedeel het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.