Gesinsgeweld in afsondering: Kry só hulp

Foto: Pixabay/Pexels

“Ons maatskaplike werkers kom daagliks met gesinsgeweld in aanraking. Dit is ’n klad op ons samelewing se bladsy, en elkeen van ons behoort dit ter harte te neem  om dit uit te roei,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

Só sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos. Sy voeg by dat Suid-Afrika se statistieke ons in die nommer een-posisie wêreldwyd vir die soort geweld plaas.

“Selfs meer vroue (dubbel soveel) word deur hul mans in ons land vermoor as in die VSA.

“Gedurende die staat van afsondering het baie misdade afgeneem, aldus die amptelike statistieke, maar ons het geen idee hoeveel vroue en mans in hierdie tyd deur hul gades mishandel word nie (fisiek, emosioneel, seksueel).”

Om in die huis te moet bly, beteken verhoogde stres, angs, depressie, en vir sommiges ook ’n hernuwing van post-traumatiese stres.

“’n Huweliks- of verhoudingsmaat wat gewelddadig is, se gedrag sal heel moontlik in die afgelope paar weke vererger het. Ons moet nie vergeet dat mans ook aan die ontvangkant van geweld kan wees nie – maar in ons land is dit meer gereeld vroue wat slagoffers van geweld is.

“Indien jy weet van iemand wat mishandel word, meld dit by die SAPD aan, en kry hulp van ’n betroubare gemeenskapsdiens (soos CMR) – dit is die regte ding om te doen. Baie vroue voel dat daar nie hulp te kry is nie, maar volgens die Wet op Gesinsgeweld, moet polisie-protokol gevolg word indien iemand aanmeld vir hulp teen misdaad. Gratis regsadvies kan van The Warrior Project verkry word.

Geweld word verbind met armoede, geestesongesteldheid, swak kinderontwikkeling (om maar ’n paar te noem) en plaas ’n las op die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel aangesien mishandelde vroue dubbel soveel fisieke en emosionele hulp benodig.

“Ons werklikheid is dat sekere kulturele en sosiale norme geweld kondoneer, terwyl ander dit afkeur. Menseregte en ons land se wette, daarenteen, laat dit nie toe nie en mense word sterk aangeraai om hulp te soek. Maatskaplike werkers kan help met verwysings, plekke van veiligheid en ook om ’n veiligheidsplan uit te werk ingeval ’n persoon in dié omstandighede moet bly woon.

“Hierdie geweld affekteer almal in ’n huis en kinders betaal gewoonlik die prys. Dit word gewoonlik ook deel van ’n siklus van geweld waarin dié wat met geweld grootgeword het, self geweldenaars word,” sê van der Merwe.

“Ons maatskaplike werkers is buitengewoon besig sedert die begin van die staat van afsondering. Ek is oortuig daarvan dat die gevolge hiervan nog maande lank met ons sal wees,” sluit sy af.

Diegene wat hulp benodig, kan hul naaste CMR, Child Welfare, Famsa of die kantoor van die Departement van Sosiale Ontwikkeling kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kattebol ·

Geliewe by te voeg dat slegs die slagoffer van gesinsgeweld die saak kan aangee. Ander mense kan ‘n saak rapporteer as die slagoffer jonger as 16 is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.