10 skoonheidswenke vir die winter

Hoewel winter die seisoen is van opkrul langs die kaggelvuur, rooiwyn, warmsjokolade en die allerlekkerste soppe, kan dié seisoen ook sy tol eis op jou liggaam.

En dít verwys nie net na daardie lastige griep en verkoues nie. Die wintermaande kan veroorsaak dat jou vel droog en jeukerig word, hare onbeheersd kroes en dit soms voel of daar nie genoeg lipsalf is om jou gekraakte lippe te red nie.

Dit is belangrik om te onthou dat jou skoonheidsroetine, net soos die weer, moet verander. Volg hierdie tien maklike wenke om jou vel, hare en lippe dié winter gesond te hou:

  1. Wees sag op jou vel

(Foto: Pixabay)

Bêre vir eers produkte met alkohol in. Alkohol trek die vog uit jou vel uit, en in die winter is dit die teenoorgestelde van wat jy wil hê. Gebruik eerder ʼn alkoholvrye gesigseep en reiniger, wat sagter op jou vel is en nie jou vel styf en droog laat nie.

  1. Pas jou dieet aan

(Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Dit gaan nie net oor wat jy aan jou vel smeer nie, maar oor wat jy binne jou liggaam sit. Nes alkohol jou vel van buite kan opdroog, doen dit dieselfde van binne af. Beperk dus jou inname van alkohol, kafeïen en koffie. Maak eerder jou kombuiskaste vol met voedsame kosse soos neute, avokado en olyfolie. Hierdie produkte sal sorg dat jy genoeg bevogtiging van binne kry. Drink ook soveel water as moontlik.

  1. Sorg vir jou lippe

(Foto: Pixabay)

Ons is geneig om baie meer getrou na ons gesigte as na ons lippe om te sien, hoewel jou mond eintlik net so belangrik is. Die eerste stap tot gesonde, bevogte lippe is om nie jou lippe te lek of te byt wanneer hulle droog word nie. Gebruik eerder ʼn goeie petroleum-gebaseerde lipsalf met SBF-voordele om jou lippe te bevogtig.

Jy kan ook jou eie lipskrop maak om van die droë velletjies op jou lippe ontslae te raak. Meng bloot heuning, suiker en ʼn paar druppels van jou gunsteling soort olie (soos kokosneutolie) totdat dit ʼn pasta vorm en vryf dit liggies oor jou lippe.

  1. Berei jou huis voor

(Foto: Anton Darius Thesollers/Unsplash)

Hoe droër die lug, hoe droër gaan jou vel en hare wees. In die wintermaande is mense meer geneig om die verwarmer vir lang tye aaneen aan te skakel, maar dit het ʼn negatiewe uitwerking op jou vel. Probeer om die lugverkoeling op ʼn matige temperatuur, of eerder heeltemal af te skakel. Jy kan ook belê in ʼn lugbevogtiger, wat die humiditeit in jou huis sal verhoog. Plaas die lugbevogtiger in die vertrek waar jy die meeste van jou tyd deurbring.

  1. Bevogtig jou hare

(Foto: Chris Slupski/Unspalsh)

Probeer om jou hare slegs twee of drie keer per week te was, en moet nooit jou bevogtiger vergeet nie. Behandel jou hare ook minstens een maal per week met ʼn haarmasker vir bykomende bevogtiging. Dit sal help om kroeserige hare in toom te hou.

  1. Moenie van jou kopvel vergeet nie

(Foto: Roberta Sorge/Unsplash)

ʼn Deel van jou lyf waarvan ʼn mens dikwels vergeet, is jou kopvel. Wanneer jou kopvel te droog word, kan dit begin skilfer en geïrriteerd raak. Masseer ʼn bietjie olyf- of kokosneutolie in jou kopvel in en los dit vir sowat 20 minute. Spoel dit dan uit voordat jy jou hare was en bevogtig.

  1. Bestuur jou water se temperatuur

(Foto: Pixabay)

Daar is min dinge so lekker soos ʼn warm stort of bad in die koue winter, maar té warm water kan jou vel en hare beskadig. Baie warm water irriteer en dehidreer jou hele vel, insluitend jou kopvel. Dit trek ook die vog uit jou hare uit wanneer jy jou hare met té warm water was. Draai die warmkraan eerder af om te voorkom dat jou hare en vel uitdroog.

  1. Olie is jou vriend

(Foto: Christin Hume/ Unsplash)

Dit is maklik om ekstra olie in jou skoonheidsroetine in te werk, en dit hou groot voordele in vir die droë wintermaande. Buiten dat jy meer olies in jou dieet insluit, kan jy bloot ’n paar druppels in jou bad gooi, dit skoon aan jou gesig en lyf smeer of met jou velbevogter meng.

  1. Sorg oornag vir jou vel

(Foto: Alexandra Gorn/Unsplash)

Dit is nou tyd om te belê in ʼn dik en vogtige gesigroom, veral in die aand, wanneer jou vel tyd het om te herstel. Dit kan selfs wys wees om in die wintermaande in die dag én nag ʼn digte gesigroom wat op bevogtiging fokus, aan te wend.

  1. Pasop vir die haardroër

(Foto: Pixabay)

Hoewel ʼn haardroër en stryktang vir jou die perfekte stilering vir jou hare kan gee, veroorsaak dit ook ekstra droogte en hitte op jou hare wat jy nie in die winter kan bekostig nie.

Laat jou hare eerder self droog word, en moet dit onder geen omstandighede in ʼn handdoek droogvryf nie. Wees wel versigtig om nie in die koue uit te gaan met jou nat hare nie, omdat die skielike verskil in temperatuur kan veroorsaak dat jou hare breek. As jy nie tyd het om jou hare natuurlik droog te maak nie, gebruik die koel-verstelling op jou haardroër en gebruik altyd stileringsproei vir hittebeskerming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Margaret ·

Petroleum produkte is bewys om jou vel se natuurlike manier om homself te bevog stop te sit en daarom sal lippe erger raak van daardie produkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.