1942-uitstalling kry lewe by monument

Die geskiedskrywer Albert Blake was die gasspreker tydens die opening van die 1942-uitstalling by die Erfenisstigting. (Foto: Verskaf)

ʼn Lessenaar en teleskoop van die Ossewabrandwag (OB)-leier, Hans van Rensburg, asook ʼn paar selfgemaakte items wat OB-lede in interneringskampe gemaak het, is van die items wat van Donderdag af by die Erfenisstigting in Pretoria uitgestal word.

Die geskiedskrywer Albert Blake het tydens die opening van die uitstalling 1942 – Afrikaners en die Tweede Wêreldoorlog by die Erfenisstigting meer lig gewerp op die invloed wat hierdie wêreldgebeurtenis op die geskiedenis van Suid-Afrika gehad het.

Vandag nog ontlok die blote verwysing na die Ossewabrandwag uiteenlopende menings. Daar is heelwat wanindrukke oor dié beweging wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit. Die OB is met die Europese fascistiese bewegings van die 1930’s en 1940’s vergelyk en van Nazisme beskuldig. Dit is ook al as ʼn ondergrondse terreurbeweging beskryf en selfs die wortels van apartheid is in die OB gesoek.

Daar word grootliks vergeet dat die OB in die vroeë 1940’s, op die hoogtepunt van sy gewildheid, waarskynlik nie ʼn gelyke in die Afrikanergeskiedenis gehad het nie. Met meer as 300 000 lede was die beweging die grootste van sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner.

Die leier van die Ossewabrandwag, Hans van Rensburg, se skoondogter, Aletta van Rensburg, en haar dogter, Anni Snyman, het die opening van dié uitstalling bygewoon. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die Tweede Wêreldoorlog het ʼn reuse-invloed op Suid-Afrika gehad. Buiten die internasionale konflik waaraan die Unie van Suid-Afrika deelgeneem het, was daar ook struweling in die plaaslike politiek.

Van kultuurorganisasie tot ʼn militante groep. Só uiteenlopend is die beskrywings wat vandag nog aan die OB gegee word. Die weerstand wat die OB teen die regering se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog gebied het, het uiteenlopende reaksie uitgelok.

Blake verwys juis na die OB wat in 1939 aanvanklik as ʼn kultuurorganisasie (met ʼn mans-, vroue- en jeugafdeling) gestig is. Onder sy charismatiese leier Hans van Rensburg is die OB geleidelik verpolitiseer tydens die onstuimige oorlogsjare toe daar ʼn genadelose stryd om beheer van die Afrikanersiel was.

Blake se boek, Afrikaner-sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier, het in 2021 by Jonathan Ball verskyn. Hy is ʼn gewilde niefiksieskrywer wat al sewe boeke die lig laat sien het, waaronder die topverkopers Boereverraaier (2010), Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid (2015) en ʼn biografie van Robey Leibbrandt (2019).

Klere wat OB-lede gedra het, waaronder ʼn wit romp en wit baadjie en blou rokkie van die OB se Boerejeug en ʼn Stormjaer-hoed, kan hier besigtig word, asook ʼn skildery van BJ Vorster, voormalige eerste minister van Suid-Afrika, as lid van die OB, met ʼn wit safaribaadjie aan.

Die verhaal van Elsa (néé Nel) de Wet, ʼn oudleerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, is ook deel van hierdie uitstalling.

Elsa word as ʼn heldin beskou nadat sy in hegtenis geneem is omdat sy geweier het om die wegkruipplek van twee vlugtelinge aan die polisie bekend te maak. Sy het ʼn aantal dae in die tronk deurgebring voordat sy vrygelaat is. Sy was slegs 17 jaar oud tydens die voorval in 1940.

Fransie van der Walt wys vir haar suster, Hanna van der Wateren, waar hul pa, Floris Coetzee, sy naam en handtekening geskryf het op die bord van die Koffiefontein-inteneringskamp. (Foto: Verskaf)

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Erfenisstigting en Voortrekkermonument, is Blake ʼn vreeslose geskiedskrywer. “Die vreesloosheid lê daarin dat hy ʼn ongewilde en geëtikeerde stuk geskiedenis grondig navors en op ʼn eerlike wyse daaroor skryf.”

Langner bestempel hierdie nuwe uitstalling as “besonders”. Hy verduidelik waarom ʼn tentoonstelling van die OB se geskiedenis betekenisvol en relevant is.

“Want dít is deel van ons storie en ʼn deel van die Afrikaner se geskiedenis. Dít voorsien in die behoefte van Afrikaners om oor hulle geskiedenis te praat. Ons mag ook ons storie, hoewel dit kompleks is, geniet. Ons wil juis met hierdie uitstalling die kompleksiteit daarvan beklemtoon.”

Langner sê verder dit is in die hande van Afrikaners om oor die geskiedenis te praat. Dit moet uit verskillende perspektiewe ontwikkel word sodat daar uiteindelik ʼn genuanseerde blik op die verlede is. Hierdie bestudering van die geskiedenis vul nie net ʼn behoefte nie, dit speel ook ʼn vername rol in die uitbou van ʼn jonger generasie se kennis.

Verskeie familielede het die openingsgeleentheid bygewoon. Van Rensburg se skoondogter, Aletta, was daar saam met haar dogter, Anni Snyman, en kleinseun, Frankie. Aletta het die uitstalling as uitstekend opgesom.

Sy sê sal altyd haar skoonpa as “vreeslik ordentlik” en “baie sjarmant” onthou.

Floris Coetzee wat as jong man in die Koffiefontein-inteneringskamp aangehou is, se twee dogters, Fransie van der Walt en Hanna van Wateren, was ook gaste.

“Dit was vir ons lekker om hierdie geskiedenis weer te herleef,” het Fransie gesê.

Hanna het vertel van die naaldwerkkissie van hout wat haar pa vir haar ma, Johanna, in dié interneringskamp gemaak het. “Ek gebruik hierdie naaldwerkkissie steeds vandag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dorry

Die geskiedskrywer Albert Blake was die “gespreker” tydens die opening van die 1942-uitstalling by die Erfenisstigting?

Marthinus

My pa, Ben Willemse, is in Clarens gebore. Sy ma Hester was n nooi Scheepers. Hulle, veral die Scheeperse, was OB’s. [Ek het nog n OB-lapelwapen van hulle] Ons familie moes hul poste in die staatsdiens bedank, is uit skool- en kerkrade geskop. My pa se pa het toe padmaker geword, wat destyds n baie vernederende werk was; hy het al die paaie in die Oos-Vrystaat help maak.