AfriForum Teater bewaarheid Egoli-akteur se KKNK-droom

Hennie Smit kuier by die KKNK danksy die AfriForum Teater. (Foto: Verskaf)

Die akteur Hennie Smit se droom om vir “oulaas” die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) voor sy 80ste verjaarsdag in Meimaand by te woon, is danksy die hulp van die AfriForum Teater in Pretoria bewaarheid.

Smit, wat onder andere bekend is vir sy rol as Bertie in Egoli en Dêda in Lefra Produksies se My boetie se sussie se ou, het onlangs in ʼn plasing op Facebook sy droom uitgespreek om dié gewilde kunstefees by te woon, maar gedeel dat sy maatskaplike ouderdomspensioen dit nie moontlik maak nie.

Hy woon tans in Bloemfontein en sou weens sy ouderdom nie self die lang pad Karoo toe kon aanpak nie.

“Wie weet, miskien hom daar ʼn engel op my pad wat sê: ‘Klim in, jy gaan saam KKNK toe, met of sonder jou Sassa’,” het die 79-jarige in ʼn Facebook-inskrywing op 1 April geskryf.

“Engele” van die AfriForum Teater in Pretoria het inderdaad sy pleidooi gehoor en dié geliefde akteur genooi om die fees vir drie dae saam met Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum Teater, en Estel de Beer, die teater se inhoudsformuleerder, by te woon.

Die teater het sy reis- en verblyfkostes gedek en hom genooi om saam met hulle na ’n paar vertonings te gaan kyk.

“As teater beywer ons onsself om kunstenaars te ondersteun, nie net op die verhoog nie, maar ook met ʼn spesiale versoek soos dié wat Hennie uitgespreek het. Dit is vir ons ʼn absolute voorreg om hom in hierdie verband by te staan, ons weet dit is vir enigeen ʼn groot uitgawe om na kunstefeeste te gaan,” sê Bloem.

Sy vertel dat Smit die fees vreeslik geniet en kort-kort deur feesgangers voorgekeer word.

“Daar is baie mense wat hom steeds herken en graag ʼn geselsie met hom wil aanknoop. Dit dien net as bewyse van die diep voetspore wat hy in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf getrap het.”

Vir Smit voel sy besoek aan die KKNK “soos ʼn ou roof wat afgekrap is en weer nuwe lewe het.”

“Dit bring die mooiste herinneringe terug. Ek dink terug aan die dae wat mense soos ek, Sonia Heroldt en Bles Bridges in hierdie selfde teaters opgetree het. Die omgewing, die gevoel, die mense met kaalvoete en snaakse hoede, die ladies en gentlemen wat hier rondloop. Alles is net fantasies.”

Oor sy besluit om sy wense op Facebook te deel, sê Smit dat hy volgens sy hart werk.

Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum Teater, Estel de Beer, die teater se inhoudsformuleerder en Hennie Smit. (Foto: Verskaf)

“Toe ek die oggend (van 1 April) wakker word, toe hunker my hart na die mense, die kunsste, die feeste, want dit ís ek. My hele lewe was kunste. Toe besluit ek, kom ek skryf net. Dalk is daar iemand wat genoeg omgee.”

Hy sê dat hy nooit die teater genoeg vir hul gebaar sal kan bedank nie.

“Hulle het gesê kom kuier, bly, kyk en eet saam met ons. Hoe wonderlik is dit nie? Ek het geweet iewers gaan daar ʼn lig brand.”

Smit sê sy feeshoogtepunte sluit David Kramer se nuwe musiekblyspel, Ver in die wêreld Kittie, sowel as ʼn vertoning van Coenie de Villiers in.

Hy het reeds Mixtape van die liefde, wat op Antjie Krog se gelyknamige bundel gegrond is, gesien en dit as “ongelooflik” beskryf.

“Dis lekker om bekendes om my te sien, van akteurs tot regisseurs. Daar is baie wat ook glad nie verander het nie, soos die anties wat hier rondloop met hulle hoede. Almal is hier ter wille van die kunste, dis ʼn ongelooflike omgewing. Ons almal het as een siel saamgetrek om die kunste te ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.