Agt wenke om die afsonderingstydperk te oorleef

leandie-lombaard-01

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Bräsler

Nou ja toe! Dit is glad nie nuwe nuus dat die koronavirus (Covid-19) oral in ons land kom nes skrop het nie. Almal weet wat die virus behels en dat dit baie vinnig versprei. Die beste ding wat ons nou vir ons land, die wêreld en vir ons toekoms kan doen, is om liefs eerder tuis te bly.

Tans het Suid-Afrika ’n 21 dae-afsonderingstydperk. Vir baie van ons kan 21 dae tussen vier mure baie uitdagend wees. Na gelang van hoe jy daarna kyk, kan dit vir jou positief of negatief wees. Daardie keuse sal jy dus self moet maak. Ons hier by Bid is Braaf het dit goedgedink om ’n paar wenke op te stel oor hoe jy hierdie staat van afsondering kan oorleef:

1) Delf dieper in die Woord van God

Mens word maklik vasgevang in jou werk, studies, skool, kinders – om net ’n paar voorbeelde te noem. Baie keer stel ons God laaste op ons prioriteitslysie en ons spandeer slegs vyf minute saans net voor slapenstyd aan God se Woord. Baie keer raak ons aan die slaap en dan het ons skaars begin om Bybel te lees. Ons kom ook baie keer eers die volgende dag agter dat ons nie die vorige aand “Amen” gesê het ná ons gebed nie – ons was doodeenvoudig net te moeg!

Nou is juis jou kans om meer tyd saam met ons Vader te spandeer. Delf dieper in sy Woord, hou meer gereeld bybelstudie en bid saam met jou man en jou gesin. Draai weer terug na Hom toe. Hierdie tydperk wat Hy vir ons geleen het, is dalk juis bedoel vir jou om weer meer tyd vir Jesus Christus te maak en om Hom weer eerste te stel.

2) Hou by jou daaglikse roetine

Noudat jy by die huis is, voel dit vir jou of jy sommer heeltemal gemaklik kan raak. Jy slaap dalk bietjie later, bly sommer die hele dag in jou slaapklere, maak eerder jou huis skoon as wat jy werk (as jy tans kan werk van die huis af) en jy eet asof daar môre nie meer kos gaan wees nie (wat ook baie ongesond is).

Probeer om soveel moontlik by jou daaglikse roetine te hou. Staan dieselfde tyd op as wat jy op enige gewone dag sou opstaan, vat ’n lekker warm stort, borsel jou tande en kam jou hare. Trek gemaklik aan en sit dalk sommer bietjie grimering ook aan – jy sal sommer vinnig fris en vars voel om die res van jou dag aan te pak. Moet ook nie heeltyd daardie yskas of koskas sê deure oopmaak nie – laat hierdie ’n oefening vir selfbeheersing wees.

3) Bly aktief

Dalk hou jy baie van oefen of dalk glad nie. Miskien kon jy elke dag twee tot drie uur in die gimnasium deurbring of jy het gereeld om die blok gaan draf. Ongelukkig kan jy nie meer in publieke plekke oefen nie, maar daar is gelukkig baie oefeninge wat jy in die gemak van jou eie huis kan doen, soos opstote, opsitte en beenoefeninge. As jy trappe het, kan jy self die trappe op- en afhardloop. Jy kan ook touspring om lekker fiks te bly.

4) Leer meer – word slimmer

My ma het altyd vir my gesê dat jy nooit genoeg kan leer nie. Dit is regtig so! Dalk werk jy tans van die huis af en dit hou jou redelik besig, maar daar is ook baie ander mense wat glad nie gedurende die afsonderingstydperk kan werk nie. Hoekom dan nie slimmer word nie?

Skryf jouself in vir aanlynkursusse waarin jy belangstel. Gaan besoek gerus S-Leer se webtuiste en skryf in vir ’n aanlynkursus. Al is jy ’n student, ’n werkende mamma of ’n ouma, sal jy beslis by hierdie kursusse kan baat vind.

Miskien is jy nog ’n skoolgaande kind of ’n ouer/voog van ’n skoolgaande kind. Jy kan gerus inteken op die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool om by te bly met vanjaar se kurrikulum. Hierdie diens is gratis tot en met 30 Junie 2020.

5) Maak jou huis van kop tot toon skoon (spring-clean)

In ons besige dagbeplannings is daar nie altyd tyd om jou huis ordentlik skoon te maak nie. Dalk wil jy nog jou koskas regpak of jy wil jou klerekas regruk, of jou vensters en gordyne was. Dalk is daar ’n paar ou skoene of klere wat jy wil uitgooi wat jy glad nie meer dra nie. Hou gerus daardie skoene en klere in ’n ander sak tot die afsonderingstydperk verby is sodat jy dit dan aan Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels kan skenk. Dit is alles vir ’n goeie doel!

6) Hou digitale kontak met jou familie, vriende en kollegas

In hierdie tydperk van isolasie is jy afgesonder van die res van die wêreld. Die enigste manier om kontak te hou, is om van verskillende digitale platforms gebruik te maak. Ons kan altans maklik in die gebruik van sosiale media vasgevang word – probeer dat dit nie te veel van jou tyd in beslag neem nie. Gebruik eerder digitale platforms soos WhatsApp, Skype of Zoom en reël dan met die res van jou familie of vriende om so saam te kuier of om so ’n koffie-afspraak saam met jou beste vriendin te hê.

7) Ontdek ’n nuwe stokperdjie

Voordat jy jouself kan kry dan sit jy al weer – baie verveeld. Nou is jou kans om ’n nuwe stokperdjie te ontdek! Verf of teken; leer om te dans (jy kan dalk jou man vra om dit saam met jou te probeer);  maak jou tuin mooi, of maak vir jouself die mooiste potplantjies met woestynrosies in; begin miskien jou eie kruietuin; leer hoe om naaldwerk te doen of hoe om te brei; leer hoe om ’n instrument te bespeel soos klavier of kitaar (dit sal natuurlik alles afhang of jy so ’n instrument besit); of leer hoe om jou grimering reg aan te wend. Die opsies is eindeloos en deesdae is daar so baie YouTube-tutoriale waarna jy kan kyk wat jou kan help om jou stokperdjie te bemeester.

8) Moenie paniekaankope maak nie (‘panic buy’)

Soveel lande het ’n beroep op hul mense gedoen om nie paniekaankope te maak nie. Daar is self reëls- en regulasies deur sommige supermarkte geïmplementeer waar Shoprite en Checkers pensionarisse en mense met gestremdhede voorkeur gee, soos byvoorbeeld spesiale betaalpunte. Woolworths het ’n limiet op die hoeveelheid aankope per produk gestel soos, byvoorbeeld, dat kliënte net drie produkte van ’n soort kan koop.

Die Bybel leer ons ook dat ons nie paniekaankope moet maak nie. Dit laat my dink aan die verhaal toe die Israeliete in die woestyn was. God het vir hulle manna uit die hemel gestuur en daar was vir hulle ’n opdrag gegee om net genoeg op te tel vir daardie dag. Dit wat hulle te veel opgetel het, het begin vrot. Lees gerus Eksodus 16 vir meer konteks oor hierdie verhaal.

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle Hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” – Matteus 6:31-33

  • Volg Bid is Braaf se bediening ook op Facebook en Instagram.
  • Gaan kyk gerus na Bid is Braaf se video oor die agt wenke vir die afsonderingstydperk hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rudolf ·

Ek stem, delf veral in die geskrifte, daar is baie meer om van te leer, as wat godsdiens voorhou, jou lewens pad sal nooit dieselfde wees nie…

charmaine ·

Ek lees en hoor op radio die “slim” mense se ons moet op ons normale tyd soos as jy sou gaan werk opstaan, ek dink darem nou dis nodig nie, hoekom sal ek 5uur op staan om wat te doen? Ek staan 7uur op trek aan oefen so half uur en dan sit ek my werks rekenaar aan doen wat ek moet doen. Elke persoon doen en beplan sy dag soos dit vir hulle werk, al hierdie laat alles so negatief klink, en ek geniet my pj’s dis lig en gemaklik om in rond te loop gelukkig het ek genoeg so ek trek net skones vannaand aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.