Antiekmark by monument lok duisende

Carien Bierman (7) en oom Paul vat vyf by die Voortrekkermonument se antiekmark. (Foto: Verskaf)

Vrouedag is Dinsdag behoorlik in die amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria gevier met ʼn antiekmark wat duisende besoekers gelok het.

Uitstallers is dit eens dat dié antiekmark, wat ʼn onvergeetlike kos- en kultuurervaring bied, enig in sy soort is.

Jan van Oosten, wat al vir die afgelope 16 jaar op die antiekmark uitstal, meen dat dit die beste antiekmark in die land is.

“Dit is vir my ʼn riem onder die hart om te sien hoe die mark keer op keer net groter en beter word. Ek stal al jare lank by die mark uit en ek kom elke keer terug,” het hy gesê.

Susan Hansen, nog ʼn uitstaller, het vertel dat sy ná jare by die monument se antiekmark dit steeds geniet om te sien hoeveel families dié dag saam geniet.

“Antiekware het nie vir almal waarde nie, maar dié wat wel ʼn liefde daarvoor het, verstaan die verhale wat dit vertel en heg ook baie sentimentele waarde daaraan. Dit is nie net nog ʼn ketel of ʼn speelding nie, maar iets nostalgies wat mens altyd wil koester vir die nageslag.”

Jan van Oosten stal al vir die afgelope 16 jaar lank by die Voortrekkermonument se antiekmark uit. (Foto: Verskaf)

Raadslid André le Roux, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling in die Tshwane-metro, het ook ʼn draai by die mark gemaak. Hy het vertel dat hierdie mark baie waardevol is vir ʼn stad soos Pretoria en vir sy mense.

“Markte soos hierdie is ʼn baie belangrike element van die mikro-ekonomie van die stad en dit stimuleer die stad en sy toerisme,” het hy gesê.

Die span van LekkerFM het ook die dag by die monument deurgebring en het hul Vrouedag-program van die monument af uitgesaai.

Anton Olwage, omroeper van die radiostasie, het gesê hulle het dit baie geniet om by die mark te kon uitsaai.

“Vandag is ʼn heerlike dag hier by die monument en dis lekker om sommer so ʼn bietjie ons vroue by die mark te vier. Ons is baie lief vir julle almal,” het hy gesê.

Die antiekmark by die Voortrekkermonument word op Erfenisdag (24 September) weer aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.