Appel sluit by #HelpJag-span aan

Adam Tas, Bakkies Botha en Appel (Foto: Verskaf)

Helpende Hand het pas aangekondig dat die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Appel as ’n ambassadeur vir dié welsynsorganisasie se #HelpJag-projek verwelkom word.

Appel sal nou saam met #HelpJag se ander twee ambassadeurs – die oud-Springbok Bakkies Botha en die sanger Adam Tas – help dat meer as 8 000 behoeftige kleuters en hul gesinne ’n gesonde bron van proteïene, in die vorm van wildsvleis, op hul borde kry.

#HelpJag is in 2018 van stapel gestuur weens ’n tekort aan ʼn goeie, goedkoop bron van proteïene vir Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema.

“#HelpJag moedig jagters aan om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk. Helpende Hand betaal dan vir die verwerking van die bokke wat jagters jag. Die vleis word ook verwerk voor dit na die behoeftige gesinne versprei word. Verlede jaar kon ons 30 ton wildsvleis versprei,” sê Margolé Riekert, projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand.

Riekert sê egter die uitbreek van die Covid-19-pandemie het vanjaar ’n stokkie daarvoor gesteek en jagters kon nie gaan jag nie. Dit het #HelpJag genoop om saam met sy drie ambassadeurs asook Wild & Jag/Game & Hunt die #RandPerKilogram-inisiatief van stapel te stuur.

“Weens die reëls en regulasies tydens die staat van inperking is daar baie onduidelikheid en onsekerheid oor wanneer die publiek weer kan gaan jag. In plaas daarvan om self te gaan jag, kan die publiek, selfs die wat nie jag nie, ’n bedrag van so min as R35 ’n kilogram se wildsvleis skenk. Dit kan ’n enorme verskil in ’n behoeftige kleuter en hul gesin se lewens maak.”

Riekert sê die doel van die R35-skenkings is drievoudig. “Dit voed behoeftige kleuters en hul gesinne. Dit gee die wildplase of -reservate ook ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien tydens dié moeilike tye en verder dra die fondse by tot die algemene bestuur, betaling van werkers en ander belangrike bedrywighede soos teenstropery-aksies,” sê sy.

Volgens Riekert is wildplase en -reservate nie net sakeondernemings wat tans swaarkry nie; daar is baie ander komponente om ook aan te dink.

“Baie van die grond huisves ander belangrike dierspesies. Die meerderheid van beskikbare wild-habitat in Suid-Afrika is in private besit. Dus lê ’n groot deel van die potensiaal om te bewaar in dié gebiede. Deur wildplase te ondersteun help ons dus om die habitat van baie bedreigde spesies te bewaar,” voeg sy by.

Oor sy betrokkenheid by #HelpJag, sê Appel dit is min dat hy twee dinge waaroor hy passievol is, terselfdertyd kan uitleef – dit is om te jag en te help. Hy het verder ook onderneem om ’n gedeelte van die opbrengste van sy Ek is Jagter-klerereeks ten bate van #HelpJag aan te wend. Die klerereeks is aanlyn beskikbaar.

Bakkies en Adam het Appel by die span verwelkom en gewaarsku dat as hulle weer kan gaan jag, Appel die groentjie sal wees wat al die takies by die jagkampe gaan moet verrig.

Besoek hul webtuiste hier vir meer inligting of om ’n bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.