Bekroonde rolprentmakers terug met nuwe natuurlewe-fliek

“Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales” is amptelik by vanjaar se Silwerskermfees bekendgestel. (Foto: STROOP/Facebook.)

Bonné de Bod en Susan Scott is terug met ʼn splinternuwe fliek, Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales, wat kykers op ʼn reis neem na drie magiese wildernisse – plekke waar jy die begin van die skepping kan aanvoel.

Die twee rolprentvervaardigers wat talle pryse vir STROOP – Journey into the Rhino Horn War, hul dokumentêr oor die renosterstropery-krisis ontvang het, se jongste natuurlewe-rolprent het Vrydag op die Silwerskermfees sy première gehad.

Kingdoms verskil hemelsbreed van STROOP. Die jongste rolprent is ʼn viering van die natuur en vertel van die onderlinge verbintenis tussen die natuur, diere en mense in plekke soos Yellowstone Nasionale Park in die VSA, die Swartwoud in Duitsland en die Noordpoolsirkel in Swede se Lapland.

“Ons het vier jaar gevat om STROOP te verfilm, dit het nog ʼn jaar gevat om die dokumentêr aanmekaar te sit en nog 18 maande daarna om dit in teaters wêreldwyd bekend te stel.

“Dit het baie van my en Susan gevat, emosioneel en fisiek, en ons twee het gevoel ons moet ontsnap om ons siele te gaan voed, maar ons wou graag ook weer die kykers saam met ons neem.” Só is die idee vir Kingdoms gebore.

De Bod vertel die aanvanklike plan was om dit in ʼn televisiereeks van 13 episodes te ontwikkel maar toe gebeur die Covid-19-pandemie.

“Ons het eenvoudig aangepas en Kingdoms is in iets baie anders, spesiaals en unieks omskep.”

Bonné de Bod in die Noordpool. (Foto: Susan Scott/Kingdoms.)

De Bod sê sy hoop die kykers vind die plekke net so asemrowend mooi en tydloos soos wat hulle dit ervaar het tydens die skiet daarvan.

Sy glo die ongerepte natuurruimtes in Kingdoms sal kykers met verwondering en ontsag vul. Die rolprent wys ook die etlike uitdagings wat De Bod en Scott die hoof moes bied om hierdie afgeleë koninkryke van die natuur vas te vang – in temperature -20 ˚C in die Arktiese Poolsirkel tot die kokende hitte van Yellowstone se supervulkaan.

“Ek glo die beeldmateriaal van die drie besonderse natuurkoninkryke gee die kykers die kans om so vry moontlik te voel in die tyd waar ons nie kan reis nie. Daar is nou sekerlik in elkeen van ons ʼn deeltjie wat net wil ontsnap van dít wat rondom ons gebeur. Nou kan jy vir 60 minute in Kingdoms na hierdie magtige skeppings ontvlug.”

Wat leer die twee rolprentmakers uit hulle epiese tog? Dat die planeet nooit teleurstel nie. Hulle ontdek nie net die beeldskone natuur nie, maar ook die legendariese stories oor die oorwinning van vrees en die vernuwing van die siel en dit verskaf herinneringe dat ons as mense steeds verbind is met waar ons vandaan kom.

De Bod en Scott hoop Kingdoms help mense onthou dat die Covid-19-pandemie, met al sy uitdagings, net ʼn seisoen is wat uiteindelik ook sal verbygaan.

“Na dit alles lê en wag ʼn ongelooflike planeet daarbuite wat gereed is om weer verken te word, en as ek en Susan dit kan doen, kan enigiemand dit doen.”

Kingdoms se bekendstelling op die Silwerskermfees sal dit vertoon word op M-Net, terwyl die Afrikaanse weergawe van die dokumentêr ook later vanjaar op kykNET beskikbaar sal wees. Albei weergawes sal daarna ook aanlyn op Showmax aangebied word.

  • Die rolprentvervaardiger en aanbieder Bonné de Bod het met Maroela Media via Zoom gesels oor die dokumentêr Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales wat hierdie week op die Silwerskermfees uitgereik is. De Bod het verduidelik wat die kykers van haar en Susan Scott se jongste natuurrolprent kan verwag. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Kyk hier na die lokprent van Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.