Blinde avonturier bou sy eie huis

Tamlyn en Christopher Venter by die onthulling van die huis wat die blinde avonturier self vir sy gesin gebou het. (Foto: Tyrone du Toit)

Avonturier en skrywer, Christopher Venter, het pas sy moeilikste avontuur saam met sy goeie vriend en bekende mede-avonturier, Riaan Manser, voltooi met die bou van hul gesinstuiste in Fisherhaven. Die groot onthulling van dié huis, wat die twee manne saam gebou het, het Vrydag plaasgevind en Yolanda Wessels het die geleentheid bygewoon.

Chris het Riaan gevra om sy voorman, regterhand en staatmaker te wees en saam met hom hierdie uitdagende avontuur mee te maak. Die bou van sy droom-gesinshuis in die prentjiemooi en rustige plattelandse dorp Fisherhaven, digby Hermanus, was volgens hom die moeilikste ding wat hy nog in sy lewe gedoen het. Dit sluit selfs in om blind te word.

“Mislukking was geensins ʼn opsie met hierdie avontuur nie. Vrees is bloot brandstof en jy moet dit gebruik om jou te dryf.” Al was dit ʼn projek wat nie altyd seepglad verloop het nie, glo Chris daaraan om werklik voluit te leef en het hy die terugslae as boublokke gebruik om hul droom vir ʼn gesinstuiste te bewaarheid.

Die huis wat Christopher saam met Riaan Manser gebou het. (Foto verskaf)

Chris het tydens ʼn ekspedisie van 32 000 km, op ʼn bromponie deur Afrika na Ierland, siek geraak en sy sig verloor. Sy blindheid het hom egter geensins teruggehou nie en met ʼn beperkte begroting en ʼn voorman sonder enige bou-ondervinding was dit ʼn baie spesiale geleentheid toe Chris en sy vrou, Tamlyn, hul huis Vrydag met die publiek kon deel.

Die gesin was voorheen in die Kaap woonagtig en het besluit om ʼn skuif te maak na ʼn rustige omgewing om hul 4-jarige seuntjie, Tate, groot te maak.

Chris vertel dat hulle ʼn huis wou koop in Fisherhaven, maar dat daar nie een was wat presies was wat hul wou hê nie. Ongeveer twee jaar gelede het hulle ʼn erf gekoop en besluit om self te bou, alhoewel hulle op daardie stadium geen idee gehad het hoe nie.

Nadat hy met Riaan gesels het oor sy planne, het die bouery sowat ʼn jaar gelede begin. Dié twee avonturiers se paaie het ʼn paar jaar gelede by die Getaway-ekspo gekruis.

“Ons het dieselfde standpunte en siening: Om nie net te praat oor iets nie, maar dit werklik te doen. Daar is soveel mense wat net oor iets praat sonder om dit ooit te doen. Ek wou graag ʼn huis bou waar my gesin gemaklik en veilig kon wees en waar ons ʼn goeie kwaliteit lewe kan lei. Maar om dié plan tot uitvoer te bring was beslis ʼn groot uitdaging en my grootste avontuur nog.”

By die onthulling van Christopher se huis het gaste ervaar hoe dit voel om blind te wees. (Foto verskaf)

Chris was vir meer as twintig jaar ʼn kok. Hy het soveel gasvryheid in sy reise oor die wêreld heen ervaar, veral in Italië en Frankryk, en wou graag self ʼn tuiste hê waarheen hy mense kon nooi om ons land se gasvryheid en skoonheid te ervaar.

“Ek het begin om die huis te beplan met ʼn penbord en letterlik ʼn rubberrekkie gespan. Daarna is ʼn model met ʼn kartondoos gebou, want die uitleg moes so wees dat daar gemaklike beweegruimte is. Die 450 m2-huis is uitgelê rondom die kombuis, omdat Chris vir meer as twee dekades al ʼn bedrewe kok is. Met die verwelkomende vuurput, ruim kuierstoep, kroeg met die deurlopende pragtige Siciliaanse teëls wat ook in die praktiese kombuis gebruik is, is dit duidelik dat hier lekker gekook en gekuier gaan word.

Tog was dit ook soms ʼn opdraande stryd waar dinge nie volgens plan verloop het nie.

“As blinde persoon moet ek ʼn bietjie harder werk. Ek moet byvoorbeeld ʼn maatstok neem, dit ʼn paar maal weer meet, en dan iemand kry om dit te verifieer. Dit neem dus tot vier maal langer as ʼn persoon met sig. Al was daar tye wat dinge skeefgeloop het, is dit myns insiens juis dié dinge wat dit so ʼn groot avontuur maak. Soos met enige bouery was daar vertragings, maar ons neem die goed saam met die sleg en het nogtans die avontuur geniet. Hoeveel mense kry die geleentheid om hul droomhuis te bou, en dan nog as ʼn blinde persoon?”

Hierdie was Chris en Riaan se eerste avontuur saam en wie weet dalk pak hul eendag weer iets ongelooflik aan. Riaan sê daar is avontuur in byna alles.

Riaan saam met Tamelyn en Christopher. (Foto: Tyrone du Toit)

“Die grootste avontuur is om nederig genoeg te wees om te weet dat jy nie weet nie. Met dié projek het ek nie baie geweet nie maar ek het soveel geleer en ook besef hoe min ek eintlik geweet het.”

Chris is dit eens dat hy nooit hierdie projek sonder Riaan sou kon doen nie. “Ja, ons het soms koppe gestamp en ek het soms ons vriendskap bevraagteken, maar dit het eintlik net ons vriendskap versterk.”

Oor die vraag wat sy volgende avontuur is, sê Chris dat hy nou eers gaan rus. “Al die harde werk is gedoen en nou wil ons die huis begin geniet en dit ʼn tuiste maak. Ons gaan lekker projekte aanpak soos om ʼn groentetuin en ʼn speelarea vir Tate te maak.”

Een ding wat uitstaan soos ʼn paal bo water, is wat moontlik is wanneer jy, jou gesin en jou vriende in iets glo en hul jou ondersteun. Selfs vir ʼn blinde persoon om sy eie huis te bou.

Besoek gerus themansergroup.com/buildingblind vir meer oor hierdie projek asook al die betrokkenes.

Christopher se hond Sam span vroeg reeds by die vuurput uit. (Foto: Tyrone du Toit)

Kyk hier na ‘n video oor die bouprojek:

Kyk hier na foto’s van Christopher se voltooide huis:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.