Blinde persone kan sonsverduistering “hoor”

sonsverduistering-en-blinde-kinders

ʼn Blinde kind speel met ʼn voorstelling van die sonnestelsel tydens ʼn sensoriese ervaring wat vir blinde persone ontwikkel is om die onlangse sonsverduistering in Suid-Amerika te ervaar. Foto: AP Photo/Esteban Felix

Toeriste het Dinsdag na Chili en Argentinië in Suid-Amerika gestroom om ʼn totale sonsverduistering te beleef.

ʼn Sonsverduistering vind plaas wanneer die maan tussen die aarde en die son inbeweeg en die lig van die son uitblok.

Volgens die Telegraph.co.uk kon die sonsverduistering om 15:22 eerste in La Serena in Chili gesien word. Sowat 300 000 besoekers het op die dorp met sy 200 000 inwoners toegesak, wat die plaaslike waterverskaffers en vulstasies genoodsaak het om bykomende voorraad te kry. Polisie- en gesondheidsorgdienste is ook aangevul om vir die ekstra mense in die dorp voorsiening te maak.

Minute voordat die sonsverduistering Chili in duisternis gehul het, het luidsprekers musiek met diep baritonklanke aan ʼn groep blinde persone gespeel wat spesiaal na Cachiyuyo in die Atacama-woestyn gereis het om te hoor wat duisende ander mense wou sien.

Daarna was daar ʼn oomblik van stilte terwyl die sonsverduistering plaasvind tot die sonlig teruggekeer het en die klank weer begin speel het om die terugkoms van die son te simboliseer.

Die musikale ervaring, wat deur die Universiteit van Valparaiso ontwikkel is, is juis ontwerp om blinde of siggestremde mense dié ervaring te gee deur klankfrekwensies te gebruik.

Chili se universiteite het sedert Junie hard gewerk om die sonsverduistering waarneembaar vir siggestremdes in dié land te maak.

ʼn Groep leerders van die Hellen Keller-skool vir blindes in Santiago het juis op 25 Junie al die geleentheid gehad om met klank en braille die elemente van ʼn totale sonsverduistering te ervaar.

Volgens ABC News het die blinde kinders verskillende klanke gehoor wat deur spesiale oorfone gespeel is. ʼn Instrument, LightSound, is ook ontwikkel wat variasies van ligintensiteit tydens ʼn sonsverduistering met klank weergee.

Die kinders kon ook ʼn brailleboek lees wat verder gehelp het om hul sintuie in te span om ʼn sonsverduistering te ervaar.

Metereoloë het ook ʼn 3 ˚C-val in die temperatuur tydens die totale sonsverduistering waargeneem.

Die aarde se volgende sonsverduistering sal eers weer op 14 Desember 2020 plaasvind. Die verduistering sal ook weer in Chili en Argentinië gesien kan word, maar dit sal dan teen ʼn ander hoek in die hemelruim waargeneem kan word.

Hierdie soort sonsverduisterings is skaars, maar wat die geleentheid nog meer besonders gemaak het, is dat die verduistering plaasgevind het in ʼn gedeelte van die aarde wat gereed en toegerus is om die hemelliggame te bestudeer. Die noorde van Chili is juis bekend vir sy skoon lug en van die wêreld se kragtigste teleskope is ook in dié omgewing gebou.

“Ons het slegs twee sonsverduisterings gehad wat in die afgelope 50 jaar in die hemelruim bokant sterrewagte plaasgevind het. As ʼn sterrewag in die pad van ʼn totale verduistering lê, is dit ekstra spesiaal. Ons kan letterlik en uiteindelik ons ‘speelgoed’ in die dag gebruik, want gewoonlik is dit net snags moontlik,” het Elyar Sedaghati, ʼn sterrekundige wat as ’n genoot by die Europese Suidelike Sterrewag (ESO) in Paranal, Chili werk, skertsend gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rooijan ·

Met so opskrif verstaan ek nou wat mense met “clickbait” bedoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.