Bloeddienste, Facebook sluit vennootskap

Argieffoto.

Bloedskenksyfers het aansienklik gedaal sedert die instelling van die inperkingsmaatreëls om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp.

Daarom het die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) en die Wes-Kaapse Bloeddiens (WCBS) ʼn samewerkingsooreenkoms met Facebook gesluit in ʼn poging om meer mense aan te moedig om bloed te skenk.

Suid-Afrikaners ouer as 18 sal van vandag (Dinsdag) die opsie hê om aan te teken as bloedskenkers op Facebook en sal gevolglik in kennis gestel word wanneer ʼn nabygeleë bloedsentrum ʼn dringende behoefte aan bloed het. Die skenkers sal hulle vriende ook kan nooi om saam met hulle te gaan bloed skenk.

Suid-Afrika is die eerste Afrikaland wat dié Facebook-funksie van stapel stuur. Facebook het reeds dieselfde ooreenkoms met lande soos die VSA, Brasilië, Bangladesj, Indië en Pakistan gesluit en meer as 60 miljoen mense wêreldwyd het reeds op dié sosialemediaplatform as bloedskenkers aangeteken.

“Ons bly daartoe verbind om veilige en ondersteunende gemeenskappe op Facebook te bou in hierdie moeilike tyd,” sê Nunu Ntshingila, streeksbestuurder van Facebook Africa.

“Ons wil dit maklik maak vir mense om in voeling te bly met ander wat ook [bloed] wil skenk terwyl hulle ook op hoogte kan bly van bloedskenkgeleenthede in die omgewing. Dit is ʼn belangrike vennootskap met die SANBS en die Wes-Kaapse Bloeddiens en ons glo dit sal ʼn positiewe verskil in Suid-Afrika maak.”

Silungile Mlambo, hoof bemarkingsbeampte by SANBS, sê die organisasie word elke jaar deur ʼn rits uitdagings in die gesig gestaar wanneer dit kom by skenkings.

“Vanjaar het die pandemie ʼn nuwe uitdaging voor ons deur kom lê. Ons is hoopvol dat ons deur hierdie nuwe funksie ons skenkers beter sal kan bereik. Dit sal die manier hoe ons in voeling bly met ons skenkers verander en ons toelaat om slimmer te werk en ons hulpbronne te optimaliseer.”

Die Wes-Kaapse Bloeddiens het vasgestelde skenkpunte by N1 City, Blue Route Mall en Langstraat 9 in die stad.

Volg die skakel om aan te teken as ʼn skenker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Katjie ·

Ek het vandat ek 16 geword het bloedgeskenk tot ek 32 jaar oud was. Ek mag nie meer bloedskenk nie omdat ek toe met diabetes gediagnoseer is. Dit was altyd vir my lekker om bloed te skenk en ook die tye wat hulle bloedplaatjies nodig gehad het – ek het ‘n skaars bloedgroep. Ek is baie dankbaar vir die mense wat steeds bloedskenk. Sonder julle bloed sou my man nie meer met ons gewees het nie. Gedurende hierdie pandemie tydperk moes my man tussen 12 en 15 eenhede bloed kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.