Boere Droogtehulp SA se vermoeiende werk nog lank nie klaar

Skape in die Noord-Kaap. Foto: Chris van Beljon.

Met sy groot baard wat amper tot teen sy borskas strek, lyk Chris van Beljon (41) soos ʼn stoere boer, ʼn regte “Tawwe Tienie”, maar wanneer hy oor die foon praat is sy stem sag en hoor jy hoe passievol sy hart vir die saak van Suid-Afrika se sukkelende boere is.

Hy vertel vir Maroela Media dat sy organisasie, Boere Droogtehulp SA, sowat twee jaar terug op die been gebring is nadat sy ouers, wat op Aberdeen in die Oos-Kaap woon, hom gebel het en om hulp vir vriende, wat net buite die dorp boer, gevra het.

Van Beljon, wat ʼn konstruksiemaatskappy op Rustenburg besit, het ʼn paar van sy vriende met bakkies ingespan, “ʼn paar sakke mielies gelaai, ʼn bietjie kos gekoop en gaan aflewer by die mense. Dit sou net daardie vrag gewees het, en dan was dit klaar, toe ek ʼn oproep kry van nog mense op die dorp wat my vertel het hoe ek die mense se lewens aangeraak het.”

Donderdag maak die hulp-reis ʼn volle draai wanneer Boere Droogtehulp SA weer na Aberdeen terugkeer, dié keer met 110 bale en 20 ton mielies om hulp aan die boere in die omgewing te verleen.

Die organisasie vertrek dan sowat 400 km noord na Williston waar Van Beljon drie ton mielies en 55 bale voer sal aflaai. “Ons gaan dan Britstown toe om 20 ton mielies daar te gaan aflaai,” sê hy.

‘n Gemsbok in die droogtegeteisterde Kleinbegin wat besig is om te vrek van die honger. Foto: Chris van Beljon.

Verlede week het die organisasie 55 boere in die Kleinbegin-omgewing gehelp, waar hulle 200 bale voer afgelaai het, asook 70 ton hoendermis as voer vir die skape. “Baie van die skape vrek egter steeds omdat hulle nie voldoende voedingswaarde uit die kos kry wat ons aflaai nie of die lammers vrek, omdat die ooie nie genoeg melk kan maak uit die kos nie,” vertel Van Beljon.

Droogte Boerehulp SA is in Februarie vanjaar as ʼn nie-winsgewende organisasie geregistreer en is afhanklik van die publiek se skenkings om hul werk te doen. Baie van die voer wat die organisasie ontvang is ook skenkings, maar waar daar te min is, moet die organisasie aankoop. “Ek het die organisasie formeel geregistreer omdat my vrou voet neergesit het dat ek al die koste uit my eie sak dra.”

Boere Droogtehulp SA ry gemiddeld twee tot drie vragte ʼn week, wat tussen R15 000 en R20 000 ʼn vrag kan kos. “Ons laai so 36 bale op ʼn vrag.”

Van Beljon vertel verder dat hoewel die pad eensaam en lank kan raak, omdat hy oor die 3 000 km per week met sy bakkie aflê, neem hy dikwels sy vierjarige seuntjie, Krige, saam op die langpad. “As Krige nie saam met my ry nie, sou ek hom nooit sien nie. Hy hou homself besig met sy dinosourusse of hy slaap op die agtersitplek. Ons ry wel net so 500 km ʼn dag, dan slaap ons oor, anders word die pad te lank.”

Oor die droogte, wat Van Beljon sê al die afgelope sewe jaar sy greep op die land hou, glo hy is daar net een uitweg. “Dis rêrig net die Here wat hier kan uitkoms gee. Ons gee maar hoop en ʼn bietjie verligting waar ons kan.”

  • Lesers wat graag die projek wil ondersteun, kan Boeredroogte Hulp SA se Facebook-blad besoek vir meer inligting hieroor. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

lanie ·

Baie dankie aan julle. Hoekom kan die regering nie help nie. Nee hulle konsentreer eerder op goed wat nie saak maak nie. Soos lughawens, dorpe en paaie se name wat verander word en net geld mors is. H E L P ons boere.

Anoniem ·

Ek voel vir die boer maar ek sien dit soos enige ander besigheid ek betaal vir sy verskaffing van sy produkte en hoekom moet ek hom nou help met voer. Het enige iemand my gehelp toe my besigheid ten gronde gegaan het of toe n maatskappy vir wie ek gewerk het my retrench het omdat hulle staf verminder het. Nee niemand nie. Die boer gaan nie more omdat jy deel was van jou hulp om n baal voer te gee more as sy boerdery weer fluks aan die gang is vir jou n skaap of groente of n wildsbok gee omdat jy sukkel nie. Die boere kla maar nog vra hulle n plaas se prys vir n wildsbok en sal dat daardie dier eeder vrek van honger as om hom te slag en sy vleis te verkoop teen n billikke prys wat iemand kon gevoed het wat net soos hy swaar kry.

Hans ·

Ek sou jou ook retrench..met n smile.
Bly stil as jy nie kennis bet nie asb.
Sterkte vir jou.

Anna ·

Rerig Danien. Kan net nie glo jy dink nie net bietjie aan die diere nie. En waar gaan die boere weer vee kry as alles vrek. Hou op om slaap en beesvleis te eet.

Anoniem ·

Besigheid is besigheid Anna, Waar dink jy gaan die meubelmaker hout vandaan kry of die skrywer papier kry of jyself as jy n papier sakdoekie wil gebruik om jou trane af te vee omdat jy jou besigheid/ werk verloor het as al die boom plantasies afgebrand het. Troos jou daaraan al die diere sal nie vrek nie want dit is nie n droogte oor die hele land nie en voortplanting sal wel plaasvind daarvoor het die Vader gesorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.