Boerseep so na ʼn mens se hart

Hannetjie en Willem Smit van Affiplaas Boerseep. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Willem Smit van die Heilbron-distrik in die Vrystaat het in 2019 boerseep begin maak. Ná vele resepte is dié produk vandag uiters gewild en word dit deur meer as 100 agente landswyd verkoop.  Willem en Hannetjie Smit het met Yolanda Wessels gesels en haar vertel hoe die Here hul gelei het om hierdie seep te maak ná hulle gebid het vir ʼn plan vir ʼn inkomste.

Ná baie probeerslae, navorsing, val en opstaan het Willem ʼn paar sepies gemaak en op die mark in Jeffreysbaai gaan verkoop. “Ons was verstom om te sien hoe gewild dit was. Die belangstelling het gegroei nadat ons dit op Facebook geadverteer het. Aanvanklik het ons eers self ons produkte verkoop, maar na die pandemie het ons gesien dat baie mense kla oor hulle minder geld het of hul werk verloor het. Dit het ons laat besluit om ons pryse te verlaag en ander die geleentheid te gee om ons produkte te herverkoop om sodoende ʼn geldjie te verdien.”

Die egpaar sê hulle het die Here gevra om vir hul die geleentheid te gee om ander mense finansieel te help, en het geglo dié boerseep is daardie geleentheid.

Hulle het agente gekry wat dit oor die hele land verkoop.

“Die boerseep was ons eerste produk. Ons het daarvan gerasper en verkoop met instruksies oor hoe om ʼn jel daarmee te maak, aangesien ʼn mens dit nie net so in die wasmasjien kan gebruik nie. Een van ons agente, Yolanda Coetzee van De Aar, het besluit om klaar aangemaakte jel te verkoop, aangesien dit mense die moeite ontsien om dit self te maak.”

Nog ʼn agent, Berdine Breedt van Pretoria, het gevra of hulle sou belangstel om talgbalsem (tallow balm) te vervaardig. Dit is ʼn velproduk wat grotendeels van vet gemaak word. Sy het hulle gehelp om navorsing daaroor te doen en hul was baie beïndruk met die inligting wat verkry is. “Ek het sommer dadelik aan die werk gespring om dit te maak. Ons het onder andere uitgevind dat dit besonders goed is vir babas se velletjies. Phebe, nog ʼn agent, noem toe iets van ʼn boudjiesalf. Ons het ʼn wonderlike resep gekry wat ook dieselfde vet as basis het, maar het ʼn paar ander bestanddele bygevoeg. Ons het ʼn paar potjies gemaak en vir ʼn kinderhuis gegee om te toets. Die terugvoer was oorweldigend.” Nie net het dit seer boudjies oornag genees nie, maar selfs ʼn kind wat in die son gebrand het se velletjie was binne ʼn paar ure van rooi en seer na normaal. So is hul volgende produk, Aftersun Cream, gebore.

Die agente is baie beïndruk met hul 100% natuurlike produkte. “Teen dié tyd weet almal dat wat jy op jou vel sit opgeneem word en dat dit nie gesond is om rome en produkte te gebruik wat nie natuurlik is nie. Met dit in ag genome, het ons produkte een na die ander verskyn soos die aanvraag verhoog het. Soms het ons “per ongeluk” op iets afgekom, soos byvoorbeeld dat ek ʼn sitroengras-sepie op die kombuistafel gesit het waar baie vlieë was en toe gesien het dat dit die vlieë verdryf.”

(Foto: Verskaf)

Hulle spog onder meer dat hul produkte wasgoed silwerskoon was. “Dit maak wit goed spierwit sonder die gebruik van enige bleikmiddels. Dit verwyder selfs vlekke en vetkolle. Boonop is dit ideaal vir babas se wasgoed én het diep bevogtigende eienskappe sonder enige versagmiddels.” Hulle produkte is ideaal vir allergiese en ekseemvelle, kan selfs as sjampoe gebruik word en is net ʼn wonderlike alternatief vir diegene wat ʼn meer natuurlike ekovriendelike leefstyl wil volg.

Aanvanklik het die egpaar alles self gedoen en dit het maar rof gegaan. “Naweke het ons voorraad gemaak sodat ons teen Maandag bestellings kon uitstuur. Ons kinders het geraas omdat daar nie tyd was vir rus nie, so ons het toe mettertyd meer mense gekry om ons te help. Op die oomblik het ons ses voltydse personeellede in diens. Ons is opreg dankbaar dat die Hemelse Vader ons die geleentheid gegee het om ʼn sukses van Affiplaas Boerseep te maak.”

Affiplaas Boerseep het ʼn webwerf en ʼn Facebook-blad waarop hul gereeld nuwe produkte laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.