Brille, pille en ysterperde ingespan vir prettige insameling

Foto ter illustrasie. (Foto: Andrei Ianovskii/Unsplash)

Wanneer die jaar einde se kant toe staan en die kleurvolle Kersversierings en sjokolade-Kersvaders hul opwagting in die supermarkte begin maak, word die uitgawes wat met Desember gepaard gaan al hoe duideliker.

ʼn Flukse ouetehuis in Mokopane (Potgietersrus) laat egter nie toe dat dié Kerstyd se begroting-bekommernisse hulle onderkry nie.

Ons Tuis-Piet Potgieter streef daarna om hul jaarlikse geldinsameling vet pret vir die inwoners van die tehuis én die plaaslike gemeenskap te maak. Vanjaar gaan die ysterperde opnuut deur die strate van dié dorp dreun, ʼn geleentheid waarna die gemeenskap voorwaar uitsien.

Dié prettige geldinsameling vind op Saterdag 5 November plaas en skop af met ʼn motorfietsoptog deur die dorp se strate. Kranige drawwers kan ook kom aanklop vir ʼn kleurvolle pretdraf van vyf kilometer.

Die tema is vanjaar “Brille en Pille met ʼn bling” en die organiseerders hoop dat mense ywerig aan die geleentheid sal deelneem.

“Tydens die optog stoot familie, vrywilligers en personeel die bejaardes op rolstoele deur die strate terwyl die motorfietsryers in erewag verbyry. Dit is altyd moeilik om te besluit wie dit die meeste geniet: die inwoners, motorfietsryers of die omstanders!” vertel Mariana van Tonder, tehuisbestuurder by Ons Tuis-Piet Potgieter.

“Dít is die sewentiende jaar dat ons hierdie geleentheid aanbied en ons nooi almal uit om die pad Bosveld toe te vat en in die pret te kom deel. As jy nie iemand vir motorfietse of hardloop is nie, kan jy steeds vooraf by ons ʼn ontbytkaartjie teen R50 aankoop. Daar gaan ook lekker musiek gemaak word.”

Bel Mariana by 015 491 6314 of stuur vir haar ʼn e-pos na [email protected] as jy nog ʼn lapwapen op jou leerbaadjie wil vaswerk.

Die Ons Tuis-groep het talle tehuise oor die hele Suid-Afrika, van Pretoria tot Parys. Nes Ons Tuis-Piet Potgieter, spring die inwoners van dié tehuise ywerig in om geld in te samel vir die Desember-uitgawes wat jaarliks aan die deur kom klop.

Machteld Postmus-tehuis in Pretoria hou rommelverkopings of verkoop pannekoek. Die Parys-tehuis het onlangs spoorwegkoffie by die plaaslike Blikkiesfees verkoop en hou ook van tyd tot tyd ʼn ouer-kind-dag waar daar etes bestel kan word.

Riviera en Seniorstuis in Pretoria verkoop klere en koekies, terwyl die Emily Hobhouse-tehuis wegneemetes verkoop en ʼn witolifanttafel beman.

“Die inkomste wat uit hierdie projekte gegenereer word, word weer tot die inwoners se voordeel teruggeploeg en aangewend om byvoorbeeld die tuine op te knap, of om inwoners met geskenkies, uitstappies en dinge soos Kersetes te bederf,” verduidelik Rentia Mynhardt, skakelbeampte vir Ons Tuis.

Ons Tuis ontvang ʼn klein staatsubsidie vir hul inwoners wat ʼn maandelikse inkomste van minder as R2 000 het, maar dis ongelukkig nie genoeg om aan die finansiële vereistes van die versorgingsfasiliteite te voldoen nie.

“Daar waar inwoners wel gesond genoeg is om aan hierdie inisiatiewe deel te neem, geniet hulle die samesyn baie. Sekere tehuise huisves egter hoofsaaklik verswakte bejaardes wat deelname onmoontlik maak,” het Mynhardt verduidelik.

Of jy dus jou motorfiets in die rigting van Mokopane wil stuur of dalk ʼn kragopwekker wil skenk, pesbestryding wil doen, ʼn verfkwas wil inspan of ʼn gholfdag reël, jou bydrae sal ʼn groot verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Besoek gerus Ons Tuis se webwerf of Facebook-blad, of bel Hannelie Fourie by 012 325 1857/8 vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.