Christa Steyn-treffer leef voort in Helpende Hand se jaartema

Christa Steyn (Foto: Eie werk – pierneefteater.co.za via Wikimedia Commons)

‘n Dekade ná die dood van Christa Steyn, liedjieskrywer, sanger en pianis, het een van haar treffers die inspirasie vir Helpende Hand se jaartema vir 2023 geword.

Christa is in Junie 2012 weens kanker dood, kort voor sy op 15 Junie 2012 haar 54e verjaardag sou vier. Sy het tydens haar loopbaan ʼn impak in die musiekbedryf gemaak. In 1984 het sy die ATKV se Crescendo-kompetisie met die komposisie “Ken jy jouself” gewen. Sy is ook bekend vir haar treffers “Ek wil vir jou”, “Rondo” en “Hier’s my hand” – nou ook die naam van Helpende Hand se tema vir 2023.

“’Hier’s my hand’ is voorwaar ʼn profetiese lied, dis asof Christa dit spesifiek vir Helpende Hand en ons waardes geskryf het,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Ons ouer garde het met die liedjie in ons huise groot geword. Met ons jaartema vir 2023 wil Helpende Hand nie net hulde bring aan Christa nie, maar ons wil hierdie treffer van haar afstof sodat dit kan voortleef in die jonger geslag. Terselfdertyd wil ons almal in ons dorpe en stede aanmoedig om hande te vat om ons gemeenskappe te herstel, te herbou en te ontwikkel.”

Noëth sê Helpende Hand het oor die afgelope jare gefokus om strukture landwyd in plek te kry en dié strukture is deur die Covid-19-tydperk getoets en versterk.

“Ons is nou goed gestruktureerd en nou val ons fokus op ons vrywilligers. Ons doen ʼn beroep op almal om te help gemeenskappe bou. Dit is nie die taak van een of twee mense nie. Dit is nie ʼn taak van ʼn spesifieke instelling, instansie of ʼn kerk of twee nie; gemeenskapsontwikkeling lê in die hele gemeenskap,” sê hy.

Volgens Noëth hoop Helpende Hand dat mense na vore sal tree en sê: “Hier’s my hand”.

“Dit gaan oor mense wat aanmeld vir verantwoordelikheid en roeping. ʼn Mens moet dat niemand jou roeping stuit nie – nie ʼn kerk, skool, of negatiewe persoon nie. Jy moet jou roeping leef en deur jou hand aan te bied sê: ‘ek doen wat ek moet’.”

Noëth benadruk wanneer ʼn mens gemeenskappe ontwikkel, is dit belangrik dat ʼn mens nie in hoogmoed dink jy kan dit self doen of op jou eie nie, maar dat mens juis afhanklik is en gebruik maak van die wat rondom jou is.

“Soms kry ons dat mense binne ʼn kerk of omgewing klein koninkryke wil bou – dit gaan nie die saak van gemeenskapsontwikkeling versterk nie. Die Hier’s my hand-jaartema is vir almal, dit is groot en sterk. Ons is opgewonde daaroor, ons is positief, ons kan net sien wat alles hiermee gaan gebeur. Ons nooi elkeen daarbuite uit om deel te word van die projek. Gee jou hand, en ons gaan saam vorentoe.”

Vir meer inligting oor Helpende Hand of hoe om betrokke te raak besoek www.helpendehand.co.za of word ʼn lid by www.sluitaan.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.