Daar is liefde in elke rok

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Petri van der Merwe van Petri van der Merwe Designs het van jongs af ʼn voorliefde gehad vir teken.

Haar kunstigheid het haar gehelp om vandag vroue in die mooiste, unieke skeppings te klee. Sy gee alle eer aan God, want met haar talent kan sy vroue se drome ʼn realiteit maak en Hom daardeur verheerlik.

Petri het saam met haar ouer suster, Minéll, op Bredasdorp grootgeword. Haar ma, Nelmarie, moes baie hard en lang ure werk om haar twee dogters alleen groot te maak.

“My ma was nog altyd vir my ʼn groot inspirasie en voorbeeld van ʼn hardwerkende vrou. Toe ek in die laerskool was, het sy ʼn matwasbesigheid en kunswinkel op Bredasdorp begin. In die aande het sy kunsklasse aangebied, koekies gebak en gehekel vir ʼn ekstra inkomste om ons te onderhou.”

Petri vertel dat sy van kleins af kunstig was. Sy het selfs op laerskool prentjies geteken en armbandjies gemaak en verkoop onder haar maats vir snoepiegeld.

(Foto: Verskaf)

In graad 9 het sy geweet dat sy ʼn modeontwerper wil word. “Ek het altyd die mooi rokke in die Huisgenoot se agterblad bewonder en elke detail bekyk. Teen dié tyd het my kreatiwiteit al die oorhand gekry en het ek self probeer naaldwerk doen. Ek het my eie kop gevolg, glad nie op die regte manier nie, maar met ʼn paar rygsteke met naald en gare het ek gou ʼn “hand me down”-kledingstuk verander in iets wat ek kan dra.”

Petri het soms lap bo-oor ʼn rok gesit en vasgewerk om te leer hoe dit gemaak is. Haar liefde op dié stadium was grotendeels om al haar idees vir rokke op papier te skets en sy het ook graag geskilder.

“Ons het ʼn semi-formele funksie by die skool gehad en ek het vir my ʼn rokkie ontwerp wat ek baie graag daarheen wou dra. Ek het dit die dag voor die funksie probeer maak, maar kon dit net nie regkry nie. Ek wou ook nie hulp aanvaar nie. Ek was maar hardkoppig want ek het geglo ek kon dit self maak. Daardie aand het ek in trane gaan slaap, min wetende dat my ma nie ʼn oog sou toemaak voor sy nie self die rokkie vir my gemaak het nie. Ek was natuurlik in ekstase die volgende oggend om die rokkie wat ek op papier ontwerp het in werklikheid te sien en dit toe kon dra na die funksie.”

By Hoërskool Bredasdorp, waar sy skoolgegaan het, was daar in graad 9 ʼn loopbaanuitstalling. Daar was ʼn modeskool met ʼn stalletjie en dit het bevestig wat sy met haar lewe wou doen.

Nelmarie, Petri se ma, is in dié tyd genader om Tina Struthers, toe dié plaaslike modeontwerper in Bredasdorp, se matte skoon te maak. Hulle het ooreengekom dat Tina vir Petri ʼn paar naaldwerklesse gee in ruil vir Nelmarie se diens.

Petri moes ʼn patroon en materiaal koop en saamneem en so het Tina haar geleer om ʼn patroon te lees en stap vir stap die kledingstuk saam met haar gemaak.

Einde matriek het haar ma vir haar haar heel eerste stikmasjien gekoop. Sy het na die handleiding en DVD gekyk en haarself begin leer.

Ná skool het sy by Demtex, ʼn materiaalwinkel in Vredenburg, begin werk. Voor sy Vredenburg toe getrek het, het Nelmarie vir Ronél Nieuwoudt, ʼn oud-naaldwerkonderwyseres van Bredasdorp, gevra of sy haar ʼn paar naaldwerklesse sal gee sodat sy darem iets weet van materiale voordat sy begin werk. Sy is vandag innig dankbaar vir alles wat sy haar geleer het. So het sy by Demtex begin werk as verkoopsdame.

“Ek het dit vreeslik geniet tussen al die verskillende materiale, om met die kliënte te werk en saam met hulle materiaal te soek vir ʼn projek. Elke dag het ek gedroom oor al die moontlikhede vir elke materiaal.”

Die bestuurder, Martie Burger, het Petri van die eerste dag onder haar vlerk geneem. Sy self was ʼn uitstekende naaldwerkster wat graag kwiltwerk gedoen het. “Ek het vreeslik baie by haar geleer van naaldwerk en sy het beslis ʼn groot rol in my ontwikkeling as ontwerper gespeel.”

Sy het vir drie jaar by Demtex gewerk voordat sy deur ʼn ontwerper, Sieve Morgan, aangemoedig is om aansoek te doen by Apples & Pears, ʼn plaaslike fabriek wat klere vir die voller figuur ontwerp en vervaardig.

“Hy het geweet dat ek deeltyds besig was met ʼn kleremaak- en ontwerperskursus by Intec, maar omdat dit my nie gestimuleer het nie en ek boonop eerder myself wou leer, het ek nooit daarmee klaargemaak nie.”

Sy het gegaan vir ʼn onderhoud en het toe die pos gekry as snyer in 2014. Later het sy saam met die eienaar, Marion Botha, begin patrone optrek en ontwerp.

“Marion het my so baie geleenthede gegee om te groei en waarvoor ek ewig dankbaar is. Ek het saam met haar gegaan om haar klerereeks uit te stal en verkoop by feeste en markies. Sy het my op ʼn 18-dag kortkursus gestuur in patroonontwerp by CTCFD. Ons het gou groot vriendinne geword en is steeds deel van mekaar se lewens.”  In 2016 het sy na Bredasdorp teruggekeer. Sy het hulle steeds telefonies gehelp en eenmaal per maand Vredenburg toe gegaan om hul vir ʼn week op ʼn slag uit te help.

Intussen het Petri ook op Bredasdorp begin naaldwerk doen. “Ek het broeke korter gemaak, some ingesit en allerhande verstellings gedoen. Hier en daar het ek ʼn toppie of ʼn broek gemaak.” Haar beste vriendin, Jessica Kleinhans, het verloof geraak en haar gevra om haar trourok te maak. Die twee het beplanning gedoen en materiaal gaan koop en Petri het begin met dié groot projek.

“Jessica het kom pas, dan steek ek weer af. Ná ʼn hele paar proef-bostukke het ek haar trourok begin maak. Alles het net so natuurlik gekom en met Pinterest, YouTube-tutorials en baie lostorring en oor stik het ek dit reggekry. Ek het so gehuil toe ek klaar was met haar trourok, want ek kon nie glo ek het dit gemaak nie.” Mense het die pragtige trourok gesien en Petri sê dit is net genade dat hulle haar vandaar begin kontak het vir bestellings. “Vir byna ʼn jaar het ek net klein werkies gedoen en letterlik heel onder begin. Eers ná Jessica se trourok het ek begin rokke op bestelling maak. Dit is net die Here se genade. Ek weet dit is my lewensdoel, want alles werk so mooi uit.”

(Foto: Verskaf)

Een van die mees spesiale rokke wat sy gemaak het was haar suster, Minéll, se trourok. “Ek het gevra of ek haar rok kan maak en dit boonop as ʼn verrassing kan hou. Ons het saam materiaal en kant gekies. Met elke pas-sessie het ek haar geblinddoek. Sy het glad nie geweet watter styl haar rok gaan wees nie. Ek ken haar gelukkig goed genoeg om presies te weet waarvan sy hou, wat by haar pas en waarin sy mooi lyk en goed voel. Sy het haar rok die heel eerste maal gesien op haar troudag, twee ure voor sy dit moes aantrek. Sy was absoluut mal daaroor en kon nie ophou dans en draai daarin nie.”

Petri fokus nie net op trourokke nie, maar ook op rokke vir die moeder van die bruid en bruidegom asook matriekafskeidrokke. “Ek verwelkom elke persoon wat my nader om haar rok te maak. Ek bid dat die regte mense na my toe kom, wat die rok sal waardeer omdat dit “nie net nog ʼn rok” is nie, maar uniek en met baie liefde en aandag gemaak is.” Sy maak so gemiddeld tussen 20-30 rokke per jaar, alhoewel elke jaar verskil afhangende van die hoeveelheid werk wat aan elke rok is.

(Foto: Verskaf)

“Ek geniet die hele proses, van die patroon optrek tot sny en stik, en is omtrent soos ʼn kind in ʼn lekkergoedwinkel wanneer ek na ʼn materiaalwinkel gaan. Ek hou daarvan om te speel met verskillende teksture en ʼn paar lae materiaal, want ek hou van die kontras en beweging wat dit skep. ʼn Rok wat spesiaal vir jou gemaak is moet interessant wees, mense moet jou raaksien en onthou.”

Plaaslik bewonder sy ontwerpers soos Kobus Dippenaar, Ilse Roux, Charlotte Francina, Janita Toerien en Anel Botha. Coco Chanel se lewensverhaal was ook vir haar ʼn groot inspirasie van skooldae af. ʼn Meisie wat van niks af gekom het en ʼn suksesvolle ontwerper geword het. “Styg uit bo jou omstandighede, vat kanse en glo in jouself. Wanneer ander sê jy kan nie, doen dit in elk geval.”

Sy is dankbaar hoe ver sy gekom het en vir dit wat nog voorlê. “As ek dink aan my liefde vir wat ek doen; ek raak verlief op elke rok. Elke rok is uniek, daarom maak ek nie twee van dieselfde rokke nie.

Om te skep is al wat ek wil doen, dit maak my gelukkig en dit bring vir my vrede en vervulling. Solank as wat ek twee hande en oë het wat kan sien, sal ek skep. Ek sit alles van myself in elke rok, soos die tyd verbygaan raak ek heeltemal verlore in die proses en leef my heeltemal in die oomblik van kreatief wees in.”

Wanneer Petri besig is met ʼn rok dink sy aan die rok se doel, waarheen dit gedra gaan word en die gevoel wat die persoon moet kry wanneer sy dit dra. Dit moet lekker voel om in die rok te wees, gemaklik wees, by haar pas. “Ek wil hê elke vrou moet op haar heel mooiste voel en baie komplimente kry wanneer sy haar rok dra. Dit moet lyk asof dit nét vir haar gemaak is; haar persoonlikheid moet daarin vasgevang word en dit moet pas by wie sy is en haar toelaat om haarself te wees.”

(Foto: Verskaf)

Die aanhaling: “Start where you are, use what you have, do what you can,” het ʼn groot impak op haar gemaak.

“Partykeer wag ʼn mens dat dinge eers in plek moet val voordat jy iets kan doen. Ons het slegs die hier en nou en moet die beste maak met wat ons het. Voor ek ʼn snytafel gehad het, het ek op die vloer gesny. Ek het begin op ʼn goedkoop Empisal-stikmasjien. ʼn Mens sal verbaas wees wat jy kan doen as jy net iets wíl doen.”

Haar lewensmaat, Luwald Giliomee, het haar die besigheidskant geleer en bied aan haar onvoorwaardelike liefde en ondersteuning. “Hy was deel van die hele groeiproses, vanaf 2017, toe ek die eerste trourok gemaak het. Ek weet baie van wat ek bereik het is ook te danke aan sy ondersteuning.”

Petri sê elke rok is spesiaal. “Ek onthou elke detail van elke rok. Elke journey saam met elke bruid, matriekmeisie, ma van die bruid/ bruidegom. Van die lap koop tot die finale passing. Dit voed my om ná die tyd die eindproduk te sien; dat ek uit die prentjie en lap ʼn pragtige rok kon maak.”

Sy het nie drome om bekend te wees of kompetisies te wen nie. Haar droom is bloot dat elke persoon wat een van haar rokke dra die liefde, sorg en detail wat daarin gesit is moet voel en sien, en dat sy op haar mooiste moet voel.

“Sy moet weet dat sy spesiaal, uniek en enig is van haar soort, net soos haar rok. Ek bid oor elke huwelik en oor elke rok. Ek wil hê dat dit vreugde en glimlagte moet bring. Ek gee alle eer aan God, hy het my ʼn gawe, ʼn droom en ʼn talent gegee en ek moet dit gebruik om Hom te verheerlik.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.