Dís hoe God se Koninkryk in praktyk op aarde kan werk

Kingdom-konferensie

Herbert Moloantoa, Jannie van der Merwe en Hugo van der Walt verduidelik wat by vanjaar se eerste Kingdom-konferensie sal gebeur. Foto: Esté Meyer Jansen.

Dertien gesinne van die Ficksburg-omgewing in die Vrystaat het hul plase en bates saamgegooi sodat hulle die winste van hul boerdery in die gemeenskap kan terugploeg.

Die boerdery, wat saam werk onder die Missio Deo-stigting, het ʼn skool vir die plaaskinders begin en ondersteun ʼn hospice vir siek mense uit die omgewing. Veilige sentrums vir die kinders van die omgewing se informele nedersettings is geskep waar hulle kan speel en werk word gedoen om ondernemings en werksgeleenthede vir die gemeenskap te skep. ʼn Interkulturele bediening in die gemeenskap is ook begin.

Die eerste Kingdom-konferensie, wat op 4 en 5 November in Centurion, Pretoria, plaasvind, wil die kollig op hierdie soort sosio-ekonomiese ontwikkelingsprojekte plaas.

“Ons wil Suid-Afrikaners se denkwyse verander. Ons wil mense bymekaarkry en ʼn gesprek begin oor die praktiese uitlewing van die Koninkryk en hoe dit volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling in ʼn gemeenskap kan meebring,” sê Hugo van der Walt, voorsitter van die Casa Deo ontwikkelingstrust, die gasheer van die Kingdom-konferensie.

Volgens Hugo is daar soveel mense wat wil help en vra wat hulle kan doen om hul gemeenskappe beter en veiliger te maak, maar nie weet hoe en waar om te begin nie.

Hierdie vrae van ʼn groep sakelui, wat tans uit 140 mense bestaan, was vernatwoordelik vir die ontstaan van Casa Deo. “Ons is sakemense wat geroepe voel om ʼn verskil te maak met die Koninkryk van God as vertrekpunt. Dit is vir ons belangrik om die regte mense in ʼn gemeenskap bymekaar te bring vir die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die omgewing, met die idee dat dieselfde gemeenskap eienaarskap sal neem van die ontwikkeling. Boonop moet die projekte volhoubaar wees,” sê Hugo.

Die ontwikkelingstrust is juis nou besig met ʼn soortgelyke projek in die Ubuntu-munisipaliteit in die Karoo, wat bestaan uit Victoria-Wes, Richmond en Loxton. Lede van die trust het verlede naweek ʼn werkswinkel met ongeveer 70 inwoners van die omgewing gehad, waar hulle die gemeenskap se visie en waardes bepaal het vir ontwikkeling in die omgewing.

Praktiese plan is beraam vir ʼn ommekeer in die sosio-ekonomiese omstandighede van die omgewing en die hele gemeenskap is vuur en vlam vir verandering. “Ons help die gemeenskap met ʼn gedagteverandering om hul eie gemeenskap in liefde te dien,” het hy bygevoeg.

Lesers wat graag meer te wete wil kom van hoe sosio-ekonomiese ontwikkeling op Koninkryk-beginsels bewerkstellig kan word, kan gerus die tweedaagse Kingdom-konferensie in November bywoon.

Aspekte wat by die konferensie toegelig gaan word vanuit die Koninkryk van God as verwysing, sluit individuele ontwikkeling, gesinslewe, opvoeding en onderwys en gemeenskaps- en sake-ontwikkeling in.

Sprekers wat hul insigte gaan deel is Stephan Joubert van die e-kerk, Stephan Pretorius van Touching Africa, Patrick Kuwana van Crossover Transformation, Petrus Grove van die Missio Deo-stigting in Ficksburg, Cobus Truter van Empiriq Development Solutions, Samson Makhado van Association of Christian Schools International (ACSI), Leon Hartwig wat die Family Foundations International verteenwoordig, asook Hugo van der Walt van die Casa Deo Development Trust.

Die sprekers sal van hul ervaringe vertel voordat die temas verder toegelig sal word in interaktiewe paneelbesprekings.

Die eerste konferensie sal by die Forever Hotel in Centurion gehou word en ʼn Kaapse konferensie word vir vroeg in 2016 beplan. Vir meer besonderhede oor die Pretoria-konferensie kontak vir Dia van Staden by 083 726 1180 of stuur ʼn epos na [email protected] vir ʼn registrasievorm.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

D ·

Ek onthou n tyd toe swart gemeenskappe op ons plsae gevestig was, n tyd toe die een hand die ander gewas het. Die regering weerspieel die wil van die kiesers. Die poging klink goed en edel maar keer op keer staan die kiesers in die ry om te stem om verder gemeenskappe van mekaar te vervreem. Die gemeenskappe wat so muldelik inkoop in die regering se rasistiese wette is ook die groepe wat so skaamteloos bakhand staan en bedel by die wit gemeenskap wat hy verag, n gemeenskap wat hy ten alle koste wil verjaag en uitmoor.
As jy hande wil was dan het jy twee hande nodig, een hand kan homself nie was nie en dit is wat in SA gebeur vandag.
As jy goed wil doen begin by jou huis dan kring jy daarvan uit. Sodra jou eie eers geheel is dan staan jy in die gunstigde posisie om ander groep optimaal te kan help. Een kritiese sieke staan reg om n ander te varsorg…….hoe lank kan hy staande bly???

Piet ·

Ek stem. Jou eie mense/soort kom eerste. Wil hierdie mense nou die Koningkryk van ons Vader voortydig begin? Wat van die honde wat buite hoort (openbaring)?

Hugo van der Walt ·

Die Koninkryk van God sal inderdaad eers met Jesus se wederkoms tot volle verwesenliking kom, maar dit het ook praktiese implikasies in terme van ons huidige lewens. Lees gerus die effek van die verkondiging van die koninkryk in Handelinge hoofstukke 1 – 5. Wat is die effek daarvan op ons lewens of is ons passiewe Christene, in plaas van dissipels van Jesus? Indien laasgenoemde, weet ons werklik wat dit behels?

nico ·

Goeie ding om te doen die here se ons moet saam staan en medemens help maar die anc se leuse is ongelukkig n ding wat werk word afgebreek en is verkeerd so daar gese word as die verkiesing kom dan is dit n ander storie

LS ·

Die koninkryk van die ANC, van Barack Obama, Julius Malema, Jacob Zuma, Donald Trump en vir die gesprek doeleindes, Mammon sal nie die uitdaging van die sosio-ekonomiese versorging van Suid-Afrika se bevolking oplos nie. Robert Mugabe verwerp homoseksualisme terwyl die NGK dit nou as aanvaarbaar definieer, aan die anderkant is Zimbawe sosio-ekonomies verflenter. Piet kan moontlik herbesin. Die koninkryk van Jesus Christus moet immers vir Christene reeds in hul harte teenwoordig wees en dit behels dan om jou eerstens vir die koninkryk van Jesus Christus te beywer en sy geregtigheid te soek. Dit lyk tog of die Casa Deo Groep met dié sosio-ekonomiese benadering vanuit die perspektief van die koninkryk van God wel God se beheer en nie een of ander sosio-politiese “wêreldheerser”, politikus, of aardse koning probeer verstaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.