‘Dit was ’n gebedsversoek, nou is dit ’n Koninkryksboerdery’

MD Foundation boerdery op die plaas buite Ficksburg in die Vrystaat. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

“Ons gee alles vir die Here, vir ’n Koninkryksboerdery. Wanneer elke persoon alles gee, het ons almal ewe veel”.

Só vertel ds. Petrus Grové oor die groep van vyf boere van Ficksburg in die Vrystaat wat besluit het om alles wat hulle besit – grond, diere, eiendom, toerusting, finansies en nog meer – te gee om ’n maatskappy, MD Foundation, te stig. Alles in dié stigting behoort aan die Here en die winste uit die boerdery word aan verskeie inisiatiewe gegee word.

Dit het begin by ’n gebed, vertel Grové, een van die boere wat vanuit die staanspoor ’n lid van die MD Foundation is en wat ook aan die Gereformeerde Kerk Wapadrand in Pretoria verbonde is.

“As gevolg van dit wat in landbou gebeur, het boere onder druk gekom weens droogtes, hael en sommiges weens emosionele drama. Een boer se pa is op sy plaas vermoor. Toe het boere gevra: ‘Maar waarom boer mense? Moet ons nie maar net alles verkoop en oorsee gaan nie?’

“Ek het geen idee gehad wat om te antwoord nie behalwe dat ons moet bid” vertel Grové.

“Ons moet dalk ophou dínk wat ons moet doen en vir die Here vrá wat ons moet doen”.

Die MD Foundation het ook ‘n melkplaas. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

Hulle begin bid

Toe nog was dit net vyf boere wat in ’n ou skoolgeboutjie in die oggende byeengekom het om Bybel te lees en te bid.

“Een oggend lees ons uit Jesaja 58 waar die Here sê ‘Ek het nie ’n saak met hierdie godsdiens van julle nie. Julle vas en bid, maar julle verskeur en verniel mekaar en daar gebeur niks nie. Wat Ek wil hê is, deel jou brood met armes, nooi ander mense onder jou dak in, breek hierdie kettings van slawerny en hierdie baasspelery af. Gee jouself vir die armes’.

“Toe ons dit klaar gelees het, het ons ervaar die Here het vir ons ’n nuwe visie gegee.”

’n Geesdriftige Grové vertel dit het duidelik geword dat as hulle wou aanhou boer, hulle dit vir ’n ander rede moet doen. Hulle het gedink om werk te skep en opleiding te gee aan dié wat swaarkry, en om die siekes en armes te versorg.

“Ons woon toe ’n konferensie by in Zimbabwe wat aangebied is deur Brian Oldreive, stigter van Foundations for Farming. Oldreive is ’n boer wie se grond onteien is, maar wat later teruggegaan het om die mense op sy onteiende grond te wys hoe om ekonomies te boer. Die tema van die konferensie was Jesaja 58. Dit bevestig toe wat ons moet doen.”

Een van die MD-inisiatiewe, die Missio Dei Skool. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

Hulle bid verder

“Terug in Suid-Afrika weet ons nie hoe ons te werk moet gaan nie. Van die boere is skatryk en ander diep in die skuld, dus, hoe begin jy nou saamboer? Ons bid. Toe lees ons Handelinge 2. Daarin staan, ‘Gee alles wat jy het’.”

En so word die MD Foundation in September 2010 gestig.

“Elke betrokke boer het gesê hier is alles: my grond, my trekkers, my beeste. Ons gee alles vir die Here, vir ’n nuwe Koninkryksboerdery. Waar niemand meer het as ander nie, maar as elke boer alles gegee het, het ons almal ewe veel.

“Ons het eers begin met ’n hospies om mense daar te versorg. Daaruit het ’n skool ontwikkel omdat ons gesien het die kinders het nie skole van gehalte om na heen te gaan nie.

“Die volgende projek wat ons begin het, was ’n kliniek. Ons het gesien die mense het moeilik toegang tot goeie mediese sorg. Die staat het ook betrokke geraak. Hulle voorsien die medisyne en ons verskaf die fasiliteit en die verpleegster.”

Nie lank hierna nie, wonder hulle hoe nóg mense bereik kan word.

Toe, vanuit MD Foundation spruit MD Education. Dit fokus op onderwysmodelle wat naskoolse klasse in Engels en wiskunde vir graad 3-leerlinge gee. Inwoners uit die gemeenskap word opgelei om hierdie klasse aan te bied. Buiten Ficksburg, word MD Education ook in Soshanguve, Mamelodi en Waltloo in Gauteng by skooltjies toegepas, terwyl ’n besigheid hulle onlangs genader het om dieselfde program in drie omgewings in die Wes-Kaap te begin.

“Ons is oortuig daarvan die Here wil Christene gebruik om stelsels te ontwikkel wat sinvol en waardevol is asook oplossings bied vir die tye waarin ons leef. Ons kyk na praktiese modelle vir onderwys, boerdery en gesondheid.”

Terwyl MD Foundation die gemeenskaplike boerdery insluit, is Missio Dei die niewinsgewende organisasie (NGO) wat probeer om die strukture en modelle wat hulle ontwikkel het, ook op ander plekke te laat werk. Besighede landwyd kan hierby betrokke raak.

Geriewe binne die MD-kliniek. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

Hoe boer hulle saam?

“Vandag is ons 12 boere wat afstand gedoen het van alles wat ons het.

“Ons kinders kan niks erf nie, want ons het dit weggegee. Dit is daar om die Here se koninkryk te kan uitbrei, werk te skep en geleenthede vir ander te bied.

“Ons leef volgens ons behoefte. Niemand kry ’n salaris nie. Ons kyk: hierdie een se gesin is groter as myne of sy kinders is op universiteit, hy het meer nodig as ek – so gaan ons te werk.”

Daar is verskillende afdelings. Daar is ’n melkery, saai-, bees- en skaapafdeling asook ’n winkel in die dorp en dan die afdeling waarin die verskillende projekte gedoen word. Elke persoon neem verantwoordelikheid vir sy afdeling en maak seker alles is in pas met wat hulle in die koninkryk wil bereik.

Die Missio Dei Skool buite Ficksburg in die Vrystaat. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

’n Verandering

Volgens Grové is dit die boere wat die grootste verandering ondergaan het.

“Dit neem tyd om sinvolle verhoudings te bou. Dit neem tyd vir mense om te besef ons is rêrig daar om om te gee. Vir jare het ons slegte verhoudings gehad en mense is nou agterdogtig oor hoekom mense goeddoen. Party mense is slawe van hul omstandighede. Mense neem lank om te besef ons gee om.

“Die grootste vordering is die verhoudings wat ontstaan het tussen boere en die mense wat saamboer op die plaas.”

Grové beklemtoon die rol wat ons het om te speel. Hy vertel dat dié rol die hele gemeenskap insluit en nie net hul boerdery nie.

“Die koninkryk is vir ons nie net die projekte wat ons doen nie, maar dit gaan ook oor hoe boer ek, hoe werk ons met die natuur en met mense. Ons probeer agterkom hoe lyk God se koninkryk. Sodat ons dit kan sigbaar maak soos wat Hy dit wil hê.

“As Christene in Suid-Afrika moet ons modelle ontwikkel op elke terrein in die samelewing en vra hoe lyk dit wanneer God self hierdie bedryf bestuur en beheer?”

Hierdie jaar is die eerste keer dat hulle, ná sowat nege jaar, ’n skool op die plaas in Ficksburg voltooi het wat van preprimêr tot graad sewe operasioneel is.

“Ons het ook met die regering onderhandel. Ons wil ’n model voorstel waar die regering aandele in ons besigheid koop en waar ons dit sien as ’n geleentheid vir die gemeenskap om saam met ons te kom boer.

“Landwyd doen mense goeie goed. Daar is hope energie wat loskom in die land. Ons is maar ’n klein afdeling.”

Grové sê: “Ons probeer leef op ’n manier wat effektief is en wins maak, maar vir ’n ander rede. Ons het ’n ander dryfveer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieterweskaap ·

Virseker was dit nie vir daardie merkwaardige boere, en hul gesinne en families, maklik om tot so ‘n ingrypende stap oor te gaan nie.

Hulle het hulself vergewis hoe God se koninkryk in ons tyd moet lyk en besluit om dit sigbaar te maak!

Die Here sal aanhou om julle te seën solank julle binne sy wil bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.