Elana Afrika-Bredenkamp: ‘Vier klein oorwinnings, leef onbeperk’

Elana Afrika-Bredenkamp. (Foto: Verskaf)

Vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge is die een ding wat jy moet doen as jy pandemievoos is. Dit is ook ʼn manier om te midde van talle uitdagings steeds ʼn verskil in jou eie en ander mense se lewe te maak.

Elana Afrika-Bredenkamp, ʼn ambassadeur vir vanjaar se virtuele uitdaging, reken dit is ook wat hierdie wedloop een van die allerbeste padwedlope maak. Die inskrywingsgeld van die 2021-uitdaging wat op 4 September plaasvind, sal aangewend word om sanitêre ware vir jong meisies mee aan te koop.

Die wedloop vind soos verlede jaar weer nie op ʼn spesifieke plek weens die pandemie se inperkings plaas nie, maar deelnemers kan saam stap en draf in hulle woonbuurt en die samesyn van die uitdaging aanlyn op sosiale media geniet.

“Ons noem dit juis die mooiste uitdaging want dit gee terug aan ʼn doel wat vroue en kinders ondersteun.

“Jy weet as jy deelneem omdat jy ʼn verskil wil maak, al doen jy dit nou nie heeltemal perfek nie, is jy merkwaardig en lewe jy met ʼn doel.”

Afrika-Bredenkamp het aan Maroela Media gesê haar eie hardloopreis het kort ná die geboorte van haar kinders begin. Suid-Afrika se vrouelangafstandatleet Elana Meyer was haar mentor wat haar op dié reis bygestaan het.

“Dit was vir my so lekker om by ʼn punt te kom waar ek kan hardloop en gesels. As jou fiksheid eers daar is waar jy sommer twee vlieë met een klap kan doen, is dit sommer ook ʼn heerlike geleentheid om op te vang met mense wat jy lanklaas gesien het.”

Afrika-Bredenkamp sê sy het dit later soveel geniet om te hardloop dat sy dit wou gebruik om ʼn verskil in ander mense se lewens te maak. “Met die vorige Spar-padwedlope was ek altyd ʼn seremoniemeester en die rasieleier wat almal opgewonde gemaak het om die wedloop te voltooi.”

Nadat sy self begin deelneem het, het sy mense op ʼn ander manier gemotiveer om vir ʼn waardige saak saam te draf.

“Ek het die meisies op WhatsApp bymekaar gemaak sodat ons virtueel saam kan oefen. Van Gqebera [Port Elizabeth], Kaapstad tot Bellville het ek hulle byeengebring. Ons het heerlik aanlyn gesels en deelgeneem vir goeie doel.

Daar is geen keer nie aan die borrelende Afrika-Bredenkamp, wat sê sy beplan om self weer aan die 2021-uitdaging deel te neem. “Dit doen jou ook sommer goed: Jy hardloop, jy bring tyd deur saam met mense, in ʼn span, in hierdie interessante tyd van isolasie waar ons moet leer om met onsself oor die weg te kom.”

Die hutsmerk van vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge is juis #LiveLimitless. Nie net vra dit deelnemers om die struikelblokke wat hulle oorkom het sedert die aanvang van die pandemie te vier nie, maar om vreesloos sonder beperking te lewe.

Afrika-Bredenkamp glo dit is ʼn hutsmerk wat elkeen deel van hul eie lewens kan maak.

“Ek kan sien hoe die kiem en inperkingsvlakke mense se geestesgesondheid beïnvloed. Positiwiteit is maar ʼn kopding, jong, en as ons kan saamstaan agter ʼn uitdaging soos hierdie, al is dit virtueel, het ons die eerste tree geneem om sonder beperking te lewe. Ons het gehelp om meer positiwiteit te skep, en ʼn paar mense gewys hoe jy steeds sonder perke kan lewe en iets kan bereik in jou eie lewe.

Afrika-Bredenkamp sê om onbeperk te lewe kan iets klein en eenvoudig ook wees.

“In vlak 4 van inperking het ek van die huis af uitgesaai terwyl my twee klein kinders ook tuis was. Ek hou hulle besig met kunswerk en later in die middag sit ons,ons maskers op en loer by die dieretuin in. Dit is my groot #Limitless-ervaring; om die dieretuin saam met my kinders geniet. Dit hoef nie altyd iets te wees soos om op ʼn Elon Musk-vuurpyl te spring nie. Dit kan enige iets wees waar jy vandag jou en ander se situasie net ʼn klein bietjie beter maak.

En hoe maak sy tyd vir fiksheid tussen ma-wees, omroeper- en aanbiederswerk, haar eie onderneming?

Vir Afrika-Bredenkamp gaan dit oor die klein oorwinnings en om ʼn bietjie tyd vir alles te maak wat op ʼn dag moet gebeur.

“Kyk, as jy ʼn duisend opstote wil doen moet jy dit eerder afbreek en begin by ʼn paar ʼn dag.

“Ek het ʼn span wat my ondersteun, honderde doenlysies om my help om te onthou en kinderprentjies om dinge mee vrolik te maak. Ek weet ook dit is okei om soms ʼn bal te laat val, dit is normaal – almal maak foute en ek mag soms ʼn fout of twee maak.”

Die Spar Women’s Virtual Challenge vind op Saterdag 4 September plaas en inskrywings het reeds geopen. Inskrywings kos R60 en jy ontvang ʼn T-hemp, gesigsokkie (buff), ʼn medalje en digitale tydskrif. Spar skenk ook vir elke inskrywing ʼn pakkie sanitêre ware wat sal help keer dat meisies skooldae misloop terwyl hulle menstrueer. Alle inskrywings kan aanlyn by Sparvirtualchallenge.co.za gedoen word of volg die geleentheid op sosiale media by SPARVirtualChallenge en #LiveLimitless.

  • Elana Afrika-Bredenkamp is een van die ambassadeurs van vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge. Sy het met Maroela Media gesels oor die uitdaging wat haar na aan die hart lê en hoe om die hutsmerk van die 2021-uitdaging deel van jou eie lewe te maak. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Kinders moet sy aan sy op die skool banke sit. Rugby spelers mag hand aan hand (gesig aan gesig) speel, maar mense mag nie maratonne hardloop nie? Iets is nie reg nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.