Energiekenner belê in VivA om Afrikaans te steun

André Pienaar, stigter en voorsitter van C5 Capital. (Foto: Verskaf)

Afgesien van sy beleggings in onder meer kuberveiligheid en ruimtenavorsing, belê André Pienaar, hoof- uitvoerende direkteur en stigter van C5 Capital en aandeelhouer van die Nuwe Vrye Weekblad-mediagroep, nou ook in die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).

Pienaar het in Mei 2020 na Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, uitgereik en sy bereidwilligheid geopper om by VivA betrokke te raak. Sedertdien het verskeie gesprekke plaasgevind en vanaf 1 Junie dien Pienaar se beleggingsverteenwoordiger, Reine Opperman, op VivA se direksie.

“Ek is baie opgewonde om VivA te ondersteun in die ontwikkeling van Afrikaans vir elke dag se gebruik en vir die toekoms. Afrikaans, soos elkeen van Suid-Afrika se inheemse tale, gee vir mense ʼn stem om in te troos, bou en droom.

“My bydrae gaan spesifiek gebruik word vir Afrikaans se ontwikkeling in tegnologie, skoon energie en die ruimte-ekonomie, drie dele van die ekonomie met groot potensiaal vir werkskepping, opleiding en veiligheid,” sê Pienaar oor sy betrokkenheid.

Hy is ʼn internasionale sakeman met ondernemings in Afrika, Europa, Brittanje en die VSA en besit aandele in van die innoverendste maatskappye in kuberveiligheid, kernkrag en die ruimte-ekonomie, soos Cassava Technologies, Axiom Space en X-energy.

Deel van Pienaar se vennootskap met VivA, is die totstandkoming van ʼn dinamiese program wat op die bemagtiging van Afrikaanssprekende vroueleiers fokus.

Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA Afrikaans (Foto: Virtuele Instituut vir Afrikaans)

“Hierdie vroue lewer ʼn waardevolle bydrae tot Suid-Afrika se welvaart en toekoms. Hiermee wil ons meer doen om hulle bydrae te erken, waardeer en ondersteun,” voeg Pienaar by.

VivA is geskep om ʼn droom te verwesenlik wat sal verseker dat Afrikaans oor 20, 50 en selfs 100 jaar van nou af steeds in sy hoë funksies sal kan werk.

“Dit is verblydend as iemand van André se statuur die nut en belangrikheid van die werk wat VivA verrig, raaksien, en bereid is om die droom te ondersteun.

“Ons hoop om ʼn tegnologiese taalwêreld vir Afrikaans te ontwikkel. Die VivA-span werk elke dag vir Afrikaans en vir gebruikers, en ons streef daarna om elke jaar op nuwe, innoverende wyses die tegnologiese taalgrense van Afrikaans plaaslik en internasionaal te verskuif,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.