Enkele goeie daad lei tot groot droogtehulpprojek

(Foto; Droogtehulp SA NPC)

Drie jaar gelede het Chris van Beljon van Rustenburg in Noordwes uit sy eie sak ʼn boer gehelp wat onder die droogte gebuk gegaan het. Vandag het sy Boere Droogte SA NPC-groep op Facebook reeds meer as 20 000 volgelinge en vragte voer word daagliks by boere in nood oor die hele land afgelaai.

Van Beljon vertel dat sy ma hom in ʼn stadium in 2017 genader het oor ʼn vriend van haar wat sukkel weens die droogte. Hy en ʼn paar vriende het toe vier bakkies vol voer en kos by die mense in die Oos-Kaap gaan aflewer voordat hulle teruggedraai het huis toe.

ʼn Ander vrou uit die gebied het hom ʼn week later gebel en ʼn storie vertel wat alles verander het.

“Sy het gesê dit is nie eintlik haar plek om te bel nie, maar dat sy graag wil hê ek moet weet dat die oom en tannie by wie ons voer en kos gaan aflewer het, daardie aand nadat ons gery het hulself in die rivier gaan doop het.

Chris van Beljon (Foto: Verskaf)

“Toe kry ek hoendervleis deur my hele lyf, dit was asof die Gees in my ingekom het. Daarna het ek my vriende gebel en gesê ons moet weer gaan help. Ek het nooit gedink dit gaan so groot raak nie,” sê hy.

Van Beljon sê hy het gedink hulle gaan dalk so een keer per maand iemand in die droogte bystaan, maar die projek het nou al baie groter geraak vandat hy in 2019 die Facebook-blad gestig het.

Droogtehulp SA NPC is ʼn niewinsgewende organisasie wat staatmaak op skenkings van die publiek, maar ook steeds uit sy eie sak help as iets kortkom.

Droogtehulp SA NPC het al meer as 400 groot vragte voer en kos van sowat R2,7 miljoen uitgedeel. Selfs in vlak 5 van die staat van inperking het Van Beljon en sy span gaan help by gebiede in nood om gekookte kos aan mense en kinders te voorsien.

Van Beljon het nie op ʼn plaas grootgeword nie, maar hy het nog altyd die waarde van boere en plase ingesien.

“Ons verloor tans in Suid-Afrika elke vierde dag ʼn plaas. Dit is weens die droogte, plaasaanvalle en grondonteiening – en die regering gee nie om nie. Ongeag die ras van die boer, is dit skrikwekkend om soveel plase te verloor!”

(Foto; Droogtehulp SA NPC)

Dit is daarom dat hy hand in eie boesem gesteek het.

“Elke tweede dag hoor ons van skape wat doodgaan, en as die boere hulle oopsny, is hul mae vol sand, want hulle was so honger dat hulle die sand begin vreet het. Ons het selfs al gehoor van twee skape wat mekaar begin vreet het, wat heeltemal buite hul natuur is. Maar dis die hongerte se skuld.”

Van Beljon moedig mense aan om enige soort skenking te maak, of dit nou voer, geld of vervoer is. Besoek Droogtehulp SA NPC se Facebook-blad hier en sy webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.