Entrepreneur van die Jaar-kompetisie: Skryf nou in

Daniel Strauss was die gasspreker by die bekendstelling van AfriForum Sakenetwerk en Akademia se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. (Foto: Maroela Media)

AfriForum Sakenetwerk bied vanjaar weer in samewerking met Akademia die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan. Dié kompetisie is op 27 Mei regstreeks op Facebook bekendgestel.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is opgewonde oor die kompetisie wat vanjaar vir die vierde keer aangebied word.

“Ons het hierdie jaar die beste mense genader om raad en hulp aan entrepreneurs te gee wat graag hulle onderneming na die volgende vlak wil neem,” sê Van der Walt.

Daniel Strauss, skrywer van die topverkoper Dink soos ’n miljardêr, was die gasspreker en Jaco Gerrits en dr. Rachel Maritz het saam met Strauss as kenners opgetree tydens ʼn  paneelgesprek wat deur Elsje van Jaarsveld, bekende radiopersoonlikheid en televisieaanbieder, gelei is.

Van links na regs: Jaco Gerrits, Sanderien van der Walt, Elsjé van Jaarsveld, Daniel Strauss en dr. Rachel Marritz. (Foto: Maroela Media)

Gerrits is ʼn bekroonde tegnologie-entrepreneur en Maritz het ervaring as ʼn strategiekonsultant vir PWC en Enterprises UP. Sy was betrokke by strategieprojekte (onder andere die ontwikkeling, oudit en implementering van strategie) vir ander uiteenlopende maatskappye.

Mareli Swanepoel, bestuurder van projekte by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot is van die Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar groter en beter word.

“Die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges op die gebied wil ontvang. Dit is ook vir ons baie lekker om by dié projek betrokke te wees juis omdat dit entrepreneurs in Suid-Afrika bevorder,” sê sy.

Die kompetisie word sedert 2017 deur AfriForum aangebied, met uitsondering van 2020 se kompetisie wat weens die Covid-19-pandemie nie plaasgevind het nie.

Daniel Strauss is die skrywer van ‘Dink soos ‘n miljarder’. (Foto: Verskaf)

“Vanjaar gaan ons wel voort omdat verlede jaar ons geleer het om nuwe planne te maak en meer kreatief te dink,” sê Van der Walt.

Hierdie jaar se kompetisie is aangepas om by eietydse entrepreneurs se behoeftes aan te pas. Die besluit is geneem na oorweldigende terugvoer van entrepreneurs wat ingeskryf en aangedui het dat daar spesifieke areas is waarin hulle meer leiding sal wil ontvang.

As deel van die inskrywingsproses word vanjaar ʼn verskeidenheid werkwinkels en webinare aangebied. Entrepreneurs wat vir die kompetisie wil inskryf, moet sommige van die sessies voltooi en dit word dan tydens die beoordelingsproses in ag geneem.

Die kompetisie is verder uitgebrei en vanjaar is daar twee kategorieë waarvoor entrepreneurs kan inskryf: entrepreneurs wat tussen een en sewe jaar handeldryf en entrepreneurs wat langer as tien jaar handeldryf.

Inskrywings vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is oop van 27 Mei tot 31 Augustus. Die prys sluit mentorskappe, ʼn splinternuwe netwerk van entrepreneurs wat jy op hierdie pad sal ontmoet, nuwe promosiemateriaal en hope blootstelling in. Besoek AfriForum Sakenetwerk se webwerf om aanlyn vir die kompetisie in te skryf en om meer oor die bepalings en voorwaardes te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.