Entrepreneur ‘Vannie Plain’ betower met roomys

Iehsaan in die kombuis by die College of Cape Town. Foto: Eunice Stoltz.

“Wanneer jy hiernatoe kom, neem ons jou op ’n journey. Ons wys vir jou die mooi van Mitchells Plain.

“Die roostuin in Westridge. Ons eie Signal Hill: een kant is berge, die ander kant see en daardie kant fynbos. Spine Road en Mondale Hoërskool is van die beste akademiese skole. Dan is dit die Suid-Afrikaanse veergewig bokskampioen, ook Suid-Afrika se topskaakspeler en agt keer gekroonde Wêreldkampioen, Kurt Schoonraad, die bekende komediant én Athol Williams, die wêrelderkende digter – almal van Mitchells Plain.”

But this is never being told.”

So vertel Iehsaan Small, die 33-jarige pionier van Ice Cream Vannie Plain. Dié roomys is verlede jaar op 26 Augustus bekendgestel en lok sedertdien plaaslike én internasionale besoekers na 5de Laan 12 in Mitchells Plain. Ice Cream Vannie Plain se agt geure – wat na gebiede in Mitchells Plain vernoem is – word beskryf as romerig en fluweelglad.

Ondersteuners by die bekendstelling van Ice Cream Vannie Plain. Foto: Verskaf.

Ons sit en gesels in ’n raadsaal by die College of Cape Town, waar hy sedert 2019 vir die kursus in gasvryheid en spyseniering ingeskryf is.

Buite wemel dit van studente op pad na die klaskamers. Een inleidende vraag, “Waar kom jy vandaan?”, laat hom vir twee uur gesels, want Iehsaan se storie sluit nie net lekker roomys op die Kaapse Vlakte in nie. Sy storie begin op 14-jarige ouderdom, toe hy sy ouerhuis moes verlaat.

Sy ouers is geskei toe hy agt was en daar is besluit hy moet by sy ma gaan bly.

“Sy was so op ons kake, dat ons nie links of regs kon beweeg het sonder dat sy weet daarvan nie. Ek het aanhoudend weggehardloop na my pa.”

Eindelik laat sy ma toe dat hy by sy pa in Rocklands gaan bly. Maar toe hy hoërskool toe is, het sy ma besluit hy sal in Tafelsig skoolgaan.

“My vrinne het, soos ons ouer geraak het, met die gangs begin meng. Hulle het in Tafelsig gebly en mekaar soos vlieë doodgeskiet – hulle het nie omgegee nie. Met hulle in Tafelsig en ek wat in Rocklands bly het hulle gedink ek gee informasie vir die gang in Rocklands. Al het ek probeer verduidelik dat ek dit nie doen nie, wou hulle my nie glo nie. Hulle het my uitgetrek om te kyk of ek nie tjappies (tatoeëermerke) het van die gang nie.

“Hulle kom eendag na my skool en wys deur die draad hulle is hier om my vandag dood te maak.

“Ek moes besluit dit is óf my lewe óf my education.

“Vandaar het ek geweier om skool toe te gaan. My pa en ma kon dit nie verstaan nie. Ek kon hulle nie vertel van die gangs nie. Hulle sou my seer geslaan het,” verduidelik Iehsaan.

Roomys en sy agt variante in die 250 mℓ-houertjies. Foto: Verskaf.

Beide sy ouers het volgehou dat indien hy nie skool toe gaan nie, hy dan nie meer by een van hulle kan bly nie.

“En daar staan ek buite my mammie se huis en ek weet nie waarnatoe nou nie.”

Op 14-jarige ouderdom begin hy vrugte en groente (vanaf 06:00 die oggend tot 20:00 die aand) teen R15 per dag verkoop. Hy vind ook blyplek by ’n vriend se pa.

“Ek sien die een dag dowwel (dobbel) hulle by ’n huis, en hulle gooi die dice en ek dink ek weet mos hoe dit werk. So begin ek met my bietjie geld te dowwel, R20 of R30. Ek was altyd gelukkig met dowwel gewees. Ek het altyd gewen.”

Iehsaan vertel hy was 16 toe hy plekke besoek het waar hulle dertig- na veertigduisend rand op ’n aand dobbel.

Roomys kan ook in die 30 jaar oue wegneemrestaurant en kettingwinkel, Lady Bee, gekoop word. Foto: Verskaf.

“Een aand wen ek baie geld. Dit was by ’n dwelmhandelaar, en hy wou nie die geld verloor nie. Dit was net ek en al sy ‘broers’ om ons. Ek is gewoond aan die guns by hulle, maar ek het nie geweet wat hulle gaan doen nie. Die handelaar sê toe vir my ‘jy is mos wys, my broer’.”

Ishaan besluit toe om te loop, en die geld agter te laat.

“Ek sê vir myself: Iehsaan jy is nou klaar met die storie van dowwel”.

Op 18-jarige ouderdom begin hy by ’n fabriek werk. Op 19 ontmoet hy sy toekomstige vrou en op 21 trek hy na dieselfde erf as sy. Hulle trou en het een dogter saam. Ná tien jaar skei hy en sy vrou se paaie.

“Ná die egskeiding verloor ek als. My familie, werk, my huis, my vrou.”

“Nou is ek back to square one. Op die pad. Met niks.”

Eers twee jaar gelede (2018) besluit Iehsaan hy moet iets met sy lewe doen.

“Ek weet ek is nie hier gesit om rond te dwaal soos ’n hoender sonder kop nie. Ek het ’n doel hierso.”

Hy begin vir sy vriende hier en daar vensters en vloere was om geld in te samel sodat hy by Kingsway College kan inskryf. Vandaar begin sy akademiese loopbaan. Vanjaar is hy ’n tweedejaarsjefstudent by die College of Cape Town en het hy dáár sy idee vir roomys gekry.

Om sy roomysidee in ’n realiteit te omskep was ’n reuse-uitdaging, vertel hy.

“Jy word ge-label met ‘Jy kan mos nie hierdie goed maak nie. Jy kom uit ’n area uit waar mense guns skiet, drugs gebruik en prostitusie.”

Hy ontmoet toe vir Max Ozinsky – ’n vriend van ’n vriend – wat hom help met sy produkontwikkeling. Hulle ry van strand tot strand en deel roomys uit en ontvang goeie terugvoering. Sy produk is eindelik gereed, maar…

“Toe het ek die produk, maar nou benodig ek beleggers. Weer eens is my area ’n probleem. Mense wil nie belê nie. Ek sê vir myself ek gaan nie laat iemand my afkry nie.”

’n Klein toevalligheid gebeur toe hy een middag hul departementshoof, Lisa Gutter, raakloop. Hy vertel haar van sy roomys. Sy stel toe voor dat hy vir haar ’n lys van bestanddele saamstel wat sy kan aankoop. Hy kry ook toestemming om die kollege se kombuis buite klastyd te kan gebruik.

Die A4-bladsy van topleerlinge vir 2019 in die fakulteit gasvryheid. Foto: Verskaf.

Op 26 Augustus 2019 stel hy sy roomys by die kollege se entrepreneursdag bekend. Dit verskyn in die Plainsman, ’n plaaslike koerant in Mitchells Plain. Sedert die eerste berig oor dié betowerende Ice Cream Vannie Plain het “dinge van toe net uit hand uit ge-spiral, maar in ’n goeie way,” vertel Iehsaan.

“My produk is uit, my broer!” lag hy.

Iehsaan glo sy verlede het hom gemaak wie hy vandag is. Hy beplan om nog baie jare te studeer en weet hy gaan nog baie bereik.

Toe hy op 33-jarige ouderdom by die College of Cape Town aansoek doen, het hulle sy hoë ouderdom bevraagteken. Hy sê toe vir hulle:

“Ek is hier met ’n doel om vir my dogter en myself ’n beter lewe te gee. Gee my net ’n kans. Ek sal die beste student in julle faculty word”.

Wanneer jy deur die gange van die kollege, stap pronk die prestasies van topleerlinge teen die mure in glaskaste. Op die eerste vloer is dit koerantuitknipsels oor Ice Cream Vannie Plain. Op die tweede vloer is daar ’n A4-bladsy wat die toppresteerders van 2019 in die fakulteit gasvryheid aandui.

Een van hulle is Iehsaan Small, Vannie Plain.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Ag sweet! Wat n storie! Wens jou alle sukses toe. Ek kan, ek wil,ek sal!

Oujongvrou ·

Baie gelug jongman. Hierdie ou tannie bid vir jou. Jy gaan ver kom. Dis jongmense soos jy wat hierdie land gaan vorentoe vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.