Foto’s: Allemapstieks, dit is mos Mazeppabaai

Mazeppabaai se hout hangbrug laat diepsee-hengelaars toe om van “die eiland” af reusehaaie en pylsterte in te katrol. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Winter is altyd warmer teen die Wildekus, ou maat, en dit geld vir die weer én die water. So kom kuier met die kinders hierdie komende skoolvakansie en onthou om al julle visstokke in te pak.

Die bestemming

ʼn Wildekus-trap gaan eintlik meer oor verkenning as oor net pure bergfietsplesier. Die roetes hier duik en klim al teen die kusheuwels en seekranse langs, en dit is dus nou en dan nodig om ʼn bietjie uit die vuis uit te navigeer terwyl jy die pedale klits.

Dit is mos juis wat dinge lekker maak, want dit laat jou vars spore lê op enigiets van rowwe beespaadjies en twee-spoor 4×4-roetes, tot verlate gruispaaie en idilliese strande. En ja, Mazeppabaai is net die plek vir jou, want hierdie familie-oord sal jou hele gesin onmiddellik laat welkom voel.

Die sub-tropiese klimaat beteken daar is orals palms en piesangbome wat in die seebries wieg, en golwende groen heuwels troon teen die lug bokant die Groot Blou. Om elke hoek en draai wag ʼn hemelse uitsig oor die Indiese Oseaan, en die beste manier om dit te sien is oor die handvatsels van jou fiets.

Jy kan natuurlik liewer draf of stap ook, maar op ʼn bergfiets kom jy vinniger verder, en daar is net soveel vakansiedae voor jy weer totsiens moet sê. Jip, die buitelug roep, en die Wildekus is net die plek om te antwoord. Sien jou by Mazeppa! Besoek www.mazeppabay.com vir meer inligting.

Êrens op ʼn agterpad, naby Centane, met “Canis Africanus”-honde wat besig is om te jag. (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Die enigste vraag is eintlik waar jy wil gaan speel? Kies koers binneland toe, al met ʼn steil klim na kwaManyube of Centane toe, indien jy lus is om jou bene ʼn bietjie te laat werk met die grondpaaie langs, maar wees op die uitkyk vir trokke en taxi’s. Sowat 2 km vanaf Mazeppa sal jy die Manubi-staatswoud vind en hier is verskeie tegniese roetes om te stap − of trap − deur die inheemse bos.

Waarvoor sal ʼn mens egter met die besige binnelandse paaie langs trap as jy liewer teen die see kan gaan speel? Dit is hier waar kilometer na kilometer se regte, egte Wildekus-enkelspoor op jou wag. Om dan nie eers van die verlate strande te praat nie.

Indien jy in ʼn noord-oostelike rigting mik gaan jy sowat 4 km met die steil hellings teen die see langs ry tot by Kob Inn. Ons het kroonarende net voor die rivier gesien. Die roetes in beide rigtings maak deel uit van die jaarlikse Imana Wild Ride, een van Suid-Afrika se oudste multi-skof bergfietsresies, maar dit beteken nie jy gaan maklik jou pad vind nie.

Trap-trap teen die steil seehange op die enkelspoor na Kob Inn. (Foto: Jacques Marais)

Die beste plan is om maar altyd vir beesspore en mis uit te kyk, en om dan hulle voetpaadjies te volg. ʼn Lang-horing Nguni-bul op ʼn verlate strand bly seker een van die mees ikoniese foto’s wat jy aan die Wildekus kan neem. Die plaaslike mense noem dié troppe beeste hulle “Xhosa Bank”.

Beplan elke rit rondom laagwater sodat jy lekker op die harde tussen-gety se sand kan ry. Hier en daar sal klipperige gedeeltes jou dwing om binneland toe te verken, en dit is wanneer jy weer moet uitkyk vir die beesmis en -spore wat gewoonlik net so bokant die strande kontoer.

Sowat 4,5 km suid van Mazeppa sal jy die asemrowende Nqgwara se riviermond bereik. Dit vorm ʼn asemrowende strandmeer, met visarende wat in die boomreuse sit of soms sierlik oor die water sweef. Stop en neem dit in, want hierdie is so mooi as wat Afrika ooit vanaf ʼn fiets se saal gaan lyk.

Besoek www.ectourism.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.