Foto’s: Met dapper en stapper na Kili-piek

Op 31 Januarie het Johann van Coller, wat hy as die “begin van ʼn droom” beskryf, uit Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, vertrek na Kilimandjaro, die hoogste bergpiek in Afrika. (Foto: Johann van Coller/Facebook)

Dink gou vir ʼn oomblik aan jou oudag wanneer jy dalk grys, miskien nog gelukkig getroud en gesond is, of dalk in ʼn versorgingsoord bly. As daar nie meer soveel oemf in jou are is om elke dag uit die bed te bokspring of ʼn ellelange doen-lys in ʼn japtrap af te handel nie. Teen tienuur sit jy rustig en teug aan ʼn koppie tee, terwyl jy aan jou lewe terugdink. Hoe lyk dié prentjie?

Johann van Coller het ook hieraan gedink en sommer by voorbaat besluit dat hy nie dán met verwyte op die stoep wil sit en wens hy het ʼn voller lewe gehad nie. Dit mag dalk klink of Van Coller oornag sy werk bedank en impulsief die verre vreemde ingeskiet het. Maar dié avonturier het deeglik beplan, navorsing gedoen en ook aan sy fiksheid gewerk voor hy die eerste treë na vryheid geneem het.

Op 31 Januarie het Van Coller, wat hy as die “begin van ʼn droom” beskryf, uit Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, vertrek na Kilimandjaro, die hoogste bergpiek in Afrika. Dit gaan dié avonturier sowat agt maande neem om ʼn staptog van ongeveer 5 430 km af te lê. Terloops, as ʼn mens die som maak, is dit omtrent 24 km per dag vir 226 dae. Wie stem vrywillig tot so iets in?

“Daar is ʼn paar redes waarom ek besluit het om dit aan te pak, en die grootste daarvan is omdat ek ‘n lewe vol adventure wil hê,” het Van Coller in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel.

Hy verduidelik dat hierdie slegs die begin van ʼn veel groter plan is met meer uitdagende avonture in sy visier. Behalwe dat die staptog Van Coller in die proses versterk, gee dit hom ook die geleentheid om mense langs die pad te ontmoet en grensloos te leef.

“Ek het vir ʼn lang tyd saans in my bed gelê en gedink daar moet iets meer in die lewe wees,” sê hy. “Dit mag dalk vir ander mense na ʼn absurde idee klink, maar vir my is dit ʼn selfontdekkingsreis. ʼn Mens kan nie só ʼn reis aandurf sonder dat dit regtig ʼn impak op jou gaan maak nie.”

Van Coller sê nog een van sy drome wat hy najaag, en wat grootliks sy huidige staptog motiveer, is om die eerste eko-ontdekkingsreisiger (eco-explorer) te word wat van die Suidpool na die Noordpool reis. Kilimandjaro se weersomstandighede en terrein is die naaste wat hy aan dié van Antarktika gaan kom. Hy streef ook daarna om die Explorer’s Grand Slam-titel te verower.

Hier het Johann van Coller op dag 24 in George oornag. (Foto: Verskaf)

Van Coller het kort voor die nasionale afsonderingstydperk ʼn sosialemedia-bemarkingsonderneming begin. Hy gaan voort met die onderneming terwyl hy daagliks etlike kilometers aflê. Hierdeur genereer hy steeds ʼn inkomste wat hom help om die nodige toerusting en benodigdhede aan te vul.

Hy beoog om van Kaap Agulhas kuslangs, omdat dit die beste bronne vir kos en water bied, tot in die Durban-omgewing te stap waar hy dan meer binneland toe gaan beweeg.

Volg Johann van Coller se reis op Facebook, Instagram of kyk sommer hier na ʼn video op Van Coller se YouTube-kanaal waar hy enkele oomblikke van sy staptog deel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.