Foto’s: ’n Grondpadreis deur die landbougeskiedenis

Die reuseversameling van landbouwerktuie, -toerusting, trekkers en rytuie (Foto: Anja van der Merwe)

Die sterk plaasreuk wat jou tref wanneer jy afdraai op die grondpad na die historiese Willem Prinsloo-landboumuseum, laat jou vir ’n oomblik voel of jy weer ’n besoek aan jou grootouers op die plaas aflê.

Die Willem Prinsloo-landboumuseum is sowat 45 km buite Pretoria langs die ou Bronkhorstspruit-pad (R104) geleë. Die museum is ’n ryk erfenisterrein met die fokus op die behoud en bewaring van die geskiedenis van Suid-Afrikaanse landbou.

Die toestand en onderhoud van museums in Suid-Afrika skets nie altyd ’n rooskleurige prentjie nie en verskeie museums het deur die jare erg agteruitgegaan. Maar ’n besoek aan die Willem Prinsloo-landboumuseum is niks minder as ’n verrykende en genotvolle kulturele ervaring nie.

En dan is jy weer hoopvol.

Met die intrapslag word besoekers verwelkom deur die warm glimlag van Karien Bisschoff, die waarnemende opvoedkundige beampte en toergids van die museum.

Die reuseversameling van landbouwerktuie, -toerusting, trekkers en rytuie (Foto: Anja van der Merwe)

Besoekers kry die geleentheid om deur die geskiedenis te reis met ’n unieke uitstalling van die ontwikkeling van landbou vanaf die Steentydperk tot 1945. Die museum spog met ’n reuseversameling van landbouwerktuie, -toerusting, trekkers en rytuie.

“Die uitstallings praat vir hulself. Dit is ’n tasbare bewys van hoe mense in daardie jare op die plaas te werk gegaan het. Hier is landbouwerktuie wat jy nêrens anders te siene sal kry nie,” vertel Bisschoff.

Dit is ’n belewenis om die plaaswerf en veral die ou Prinsloo-woning en Ndebele-hutte te besoek.

Die voorkant van die ou Prinsloo-woning (Foto: Anja van der Merwe)

Die Prinsloo-woning dateer uit die vroeë 1900’s en het oorspronklik behoort aan Willem Prinsloo, ’n vooraanstaande boer en beroepsjagter in die omgewing. Willem Prinsloo, ook bekend as Willem Wragtig, het dié plaas in die tagtigerjare gekoop met die geld wat hy gemaak het deur ivoor en diervelle te verkoop.

Besoekers kry die geleentheid om deur die plaashuis te loop om ’n idee te kry van hoe die boere van ouds geleef het. ’n Eenvoudige maar tóg harde lewe, waar hulle van die oggend tot laataand gewerskaf het om kos op die tafel te kry en steeds ’n laataand-tabakpyp in die rookkamer geniet het.

Die reuk van oudhede en tabak en die houtplankvloer wat onder jou voete kraak, is iets wat jou bybly lank nadat jy die pad terug stad toe aangepak het. Vertrek ná vertrek is gevul met erfenisskatte. Van die ou meubelstukke sal jy herken as soortgelyk aan dié in jou oupa en ouma se huis.

Die agterkant van die ou Prinsloo-woning (Foto: Anja van der Merwe)

’n Presiese replika van Prinsloo se swart Rolls-Royce staan in die motorhuis langs die ou plaashuis geparkeer. Die bruin stoflaag op dié ou motor vertel weer ’n verhaal van sy eie.

Bisschoff vertel ook trots dat ’n paar tonele uit die bekende Verraaiers-rolprent in dié ou plaashuis geskiet is.

Miertjie le Roux (née Prinsloo), Willem Prinsloo se agterkleindogter, het later die plaas geërf. Ná Miertjie se broer se dood in 1976, het sy 16 ha van die plaas aan die destydse Nasionale Kultuurhistoriese- en Opelugmuseum geskenk, wat toe later die res van die plaas oorgekoop het.

Die sonnige eetkamer van die ou Prinsloo-woning (Foto: Anja van der Merwe)

Die Willem Prinsloo-landboumuseum is op 29 Maart 1980 amptelik geopen. Vandag word die museum bestuur deur Ditsong Museums.

“’n Besoek aan die museum is die ideale manier om van die gejaagde stadslewe te ontsnap,” sê Bisschoff. Buitelugliefhebbers kan die rustige plaasatmosfeer geniet deur op die plaaswerf rond te wandel of selfs rustig in die aparte piekniekterrein met voldoende braaigeriewe te ontspan. “Oupas en oumas bring graag hulle kleinkinders oor naweke om piekniek te hou,” vertel Bisschoff.

Die ware plaaslewe

Die eendjies baljaar in die dammetjie op die plaaswerf (Foto: Anja van der Merwe)

Die museum huisves ook ’n verskeidenheid inheemse makgemaakte diererasse soos Nguni- en Afrikanerbeeste, kolbroekvarke, eende, hoenders, swartkop- Persiese skape en selfs ’n plaasdonkie. “Die kinders is mal daaroor om aan die diertjies te vat. Hulle is gek na ons donkie,” vertel Bisschoff.

Verskeie kultuurdemonstrasies wat op die plaaswerf aangebied word, is gewoonlik ’n hoogtepunt vir oud en jonk. “Besoekers herleef op dié manier die plaaslewe van ouds en hoe ons voorgangers alles self met die hand moes doen,” sê Bisschoff.

Die dammetjie op die plaaswerf (Foto: Anja van der Merwe)

Besoekers kry praktiese demonstrasies van onder meer hoe om kerse te maak, brood te bak, seep te kook, botter te maak en koeie te melk. Besoekers leer ook hoe om ’n bees te brandmerk deur ’n praktiese demonstrasie in die smidswinkel. “Ons wys vir besoekers die produkte wat self op die plaas gemaak kan word, asook wat mens alles met ’n bees se vel kan maak,” vertel Bisschoff.

Tant Kotie se Winkel is ook ’n juweel op die plaaswerf waar besoekers plaasprodukte kan koop wat self op die plaas vervaardig word. “Brood word op aanvraag vars in die bakoond gebak en konfyt word gemaak met vrugte vanuit ons eie vrugteboorde op die plaas.” Bisschoff vertel dat hulle hul eie mampoer en witblits stook en dit saam met ’n verskeidenheid likeure met ’n witblitsbasis in die winkel verkoop.

Hiér word jolig feesgevier

Die Willem Prinsloo-museum is bekend vir sy goeie mampoer en daarom is die Mampoer- en Plaasfees ook ’n jaarlikse instelling by die museum. Die Mampoerfees vind al vir sowat 30 jaar in die hartjie van die winter plaas en lok mampoerliefhebbers van heinde en ver.

Die Willem Prinsloo-landboumuseum is bekend vir hulle mampoer en Mampoerfees (Foto: Anja van der Merwe)

Volgens Bisschoff beloof hulle ook weer ’n suksesvolle Plaasfees in September wanneer bykans 4 000 trekker- en motor-entoesiaste met hulle ou trekkers en motors kan spog.

“Die feeste is vir ons baie belangrik omdat dit soveel voete na die museum lok. Die museum kry baie blootstelling deur die feeste en die toegangsgeld wat feesgangers betaal, stop darem ’n paar gaatjies toe,” vertel Bisschoff.

Die Willem Prinsloo-landboumuseum is egter meer as ’n feesterrein – dit is ’n multifunksionele museum wat ’n unieke verskeidenheid fasiliteite vir kinders en volwassenes bied. “Gesinne wat in die rustige plaasomgewing wil ontspan, asook skoolgroepe, organisasies en sakemanne kan uit ons museum-ervaring baat vind,” verduidelik Bisschoff.

Sy vertel die museum ontvang op ’n gereelde grondslag diverse toergroepe van omliggende skole. Sillabusgerigte opvoedkundige programme word tydens bespreekte besoeke van skoolgroepe aangebied. “Ons sal die programme aanpas volgens die ouderdomme van die kinders. Jonger kinders sal die praktiese aktiwiteite meer geniet terwyl ouer kinders meer oor die uitstallings wil weet,” sê sy.

Die nostalgie en rustigheid sal jou keer op keer na die museum laat teruggaan.

“Mense móét kom kuier,” sê Bisschoff wat al die afgelope tien jaar by die museum werk. “Ek voel positief oor die toekoms van ons museum.”

Besoek die Willem Prinsloo-landboumuseum op weeksdae van 08:30 tot 16:00 en oor naweke en openbare vakansiedae van 09:00 tot 16:00.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tante Koba ·

Baie dankie vir hierdie baie insiggewende artikel. Dis goed om van ons museums en erfenis te lees. Baie goed gedoen. Mooi foto’s.

Stephan de S ·

As ek ooit weer in die ou Transvaal kom, sal ek beslis daar aangaan….verlang sommer na al die hartlike ou Vaalpense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.